Goedvoel

‘Hineni, Hineni..’

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

God rig ’n uitnodiging tot elkeen van Sy kinders – “Hóór my stem, Ek is hier.”

Ek lees onlangs ’n kort koerantberiggie oor Leonard Cohen wat postuum met ’n Grammy vereer is. Op die album waarvoor hy die toekenning ontvang het, verskyn die lied, You want It Darker. Hierin sing die Joodse kantor in die agtergrond “Hineni, Hineni”. Dis die Hebreeus vir “Ek is hier”. En dan antwoord Cohen daarop: “I’m ready, my Lord.”

Hierdie aangrypende lied weerspieël iets van die uitnodiging wat God tot elkeen van ons rig: “Hineni, Hineni. Ek is hier, my kind.”

En dan hou ons asem op. Het Sy kind gehoor? Gaan hy reageer?

God roep weer en weer – tot Sy kind antwoord: “Ek is gereed, my Here.”

Samuel, Samuel…

Vir my is een van die treffendste Bybelgedeeltes dié waar die jong Samuel in die tempel lê en slaap en God hom drie maal op sy naam roep sonder dat Hy daarvan bewus is dat dit God is wat met hom praat. Hy gaan elke keer na Eli, wat hom telkens terugstuur om weer te gaan slaap.

Maar dan lees ons in 1 Samuel 3:8b-10:Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!” Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê. Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

Eli ken reeds God se stem. Hy – die getroue dienskneg van die Here – het deur die jare geleer om fyn te luister. Hy weet wanneer God roep.Hy weet hoe omin stille afwagting –met sy geloofsoor op die grond – te leef. Hy lei die jong Samuel om God se stemraak te hoor en te antwoord.

Vandag is dit steeds so. Deurwinterde kinders van God leer jong geloofskinders hoe om Sy stem tussen baie ander teeien – en dán te doen. Dit word ’n lewensproses van hoor en gehoorsaam.

’n Mens leer ken die fyn nuanses van Sy stem: “Word stil. Gaan dáárheen. Doen dát. Maak jou lewe eenvoudiger.”

Soms is Sy stem ’n fluistering. Of bloot ’n groeiende bewuswording in jou binneste. Dis daar: In die eerste grou lig van ’n nuwe dag. In die skemering van die aandstilte. Maar ook midde-in die geharwar van ’n besige dag, wanneer jy afsak in die beskutting en stilte van Sy teenwoordigheid.

Dis dán wat jy Sy stem hoor: “Hineni. Hineni. Hier is Ek.”

En dis dán wat jy jou ken kan oplig en sonder vrees kan antwoord:“Ek is gereed, my Here.”

God weet hoe belangrik dit is om stil te word en by Hom te vertoef, sodat ons duidelik Sy opdrag aan ons kan hóór en verstaan.

Soos ’n herder

Ek ontvang onlangs ’n kort video-insetsel van ’n klompie skape wat in ’n kamp wei. Kort-kort is daar die stem van iemand wat hul probeer nader roep. Hulle hou elke keer ongestoord aan met wei. Die oomblik toe hul eie herder egter by die hek kom staan en na hulle begin roep, lig hulle hulle koppe op en hardloop vanuit die verste hoek van die kampie tot by hom. Want hulle ken sy stem.

In Johannes 10:27 sê Jesus: “My skape luister na My stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.”

God weet hoe belangrik dit is om stil te word en by Hom te vertoef, sodat ons duidelik Sy opdrag aan ons hóór en verstaan.

In Bybelse tye het God Sy Boodskappers in die woestyn afgesonder voordat hulle ’n groot taak vir Hom moes gaan uitvoer. Moses, Elia, Johannes die Doper, Jesus Christus self.

Vandag word ons nie altyd fisiek afgesonder nie, maar siekte, of dood, of ’n groot terugslag in ons lewe roep ons tot stilstand. God druk as’t ware die luier-knoppie, terwyl Hy maan: “Wag ’n bietjie. Kom tot ruste. Haal diep asem. Trek uit jou drafskoene. Neem bestek op. Kom eers weer in My ritme.”

Dis wat dissipelskap is: Om ons voetval in pas met Jesus s’n te kry.

Op pad

Die Emmausgangers het ook saam met Jesus gestap. Al die pad van Jerusalem af tot in Emmaus. In die teenwoordigheid van dié Een wat die goeie boodskap van Verlossing bring. Maar hulle het nie Sy stem herken nie. Hulle was uit ritme met hul Verlosser se voetval.

Ons wag dikwels vir Bergpiek-ervarings om Christus se stem te kan hoor. Dameskampe. Pinksterbidure. Herlewingsdienste. Besoekende predikers. Massabyeenkomste. Opwekkingsdienste. Die gevaar is dat ons verleer hoe om God in die alledaagse te sien en te hoor. Hierdie spesiale geestelike ervarings is daar om ons te inspireer en toe te rus om te kan volhard op ons dag-tot-dagreis –terwyl ons verseker wéét: Christus is die stil Immerteenwoordige op ons stofpad tussen Jerusalem en Emmaus.

L.B. Cowman skryf in haar bekende boek, Strome in die Dorsland: Mag die Here my help om Hom te verwag terwyl ek elke dag my gewone reisroete volg. Ek vra nie vir sensasionele ondervindings nie. Ek begeer net dat ek Sy gemeenskap ondervind dwarsdeur my werk en diens van elke dag.

Die Emmausgangers kry ’n tweede kans. Jesus stap wéér al die pad saam met hulle terug na Jerusalem. En hul oë gaan oop. Een van hulle roep uit: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons die Skrifte uitgelê het nie.”(Luk. 24:32)

Ons oë moet oop wees om Christus as reisgenoot in die doodgewone van elke dag te eien. Ons ore moet gespits wees om die sagte ruising van Sy kleed langs ons op ons Emmauspad te hoor.

Ons moet in nederige afhanklikheid by Hom kniel om waarlik sy stem te kan hoor.

Hy is heilig

Bo alles moet ons onthou: God is heilig. Hy is ons Reisgenoot en Vriend, maar Hy bly God. Wanneer ons sommerso maklik en onnadenkend vir ander vertel: “God het vir my gesê … ”, sonder dat ons werklik Sy aangesig opgesoek en seker gemaak het dat dit wél Hy is wat met ons gepraat het, maak ons ’n bespotting van Sy heiligheid en soewereiniteit. Ons verskraal Sy heerskappy wanneer ons groot besluite aan Hom toedig, terwyl dit eintlik iets is wat ons self bedink het, omdat dit inpas by ons planne, of omdat dit iets is wat ander graag wil hoor.

Ons moet in nederige afhanklikheid by Hom kniel om waarlik sy stem te kan hoor.

Hoe weet ons dan wanneer dit God is wat met ons praat?

Ons moet Sy Woord bestudeer. Nougeset en sonder ophou. Want Hy praat met ons deur Sy Woord.

Spreuke 8:32-35 spoor ons aan:“Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly. Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê. Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here.”

W.J. de Klerk, skryf : “Die Skrif is God se liefdesverklaring in Jesus Christus. Alles wat daarin staan, word ’n tweegesprek tussen God en die leser. As ons eers God se hart in Sy openbaring voel klop, staan ons eie harte in vlamme. En uit die letters kom ’n persoon gestap … en Hy stap ons lewe binne.”

God se grootste hartsbegeerte is om ons met Homself te vul. Ons grootste smagting moet na Hom wees – nie na dit wat Hy aan ons kan skenk nie. Wanneer ons Hóm opreg en met ons hele hart soek, openbaar Hy Homself aan ons. Ons begin Sy stem hoor.

Ons fokus moet op Hóm wees. Dan sal ons Sy stem herken.

Luister mooi

Sebras se strepe lyk op die oog af dieselfde. Tog verskil almal s’n van mekaar. Die ma van ’n pasgebore sebravul sorg dat hy die eerste paar uur van sy lewe nét op haar strepe fokus. Daarna vergeet die vulletjie nooit hoe sy ma lyk nie. Hy sal haar tussen duisende ander sebras kan uitken.

Net soos die sebravul op sy ma se strepe moet konsentreer om te kan oorleef, moet ons op God fokus. Wanneer mense in ’n krisissituasie skielik uitroep: “Waar is God dan?” het hulle nie lank genoeg op Hom gefokus nie en kan hulle Hom nie raak sien of Sy stem uitken tussen die verwarrende klomp stemme rondom Hom nie.

Wanneer ons genoeg gebedstyd met ons Vader deurbring, herken ons Sy unieke stem en karakter – soos ’n baba-sebra die strepe van sy ma.

God praat ook met ons deur Sy vrede wat “alle verstand te bowe gaan”. Paulus en Silas kon in die tronk sing, omdat hulle die onverstoorbare vrede van God ervaar het. Hulle het gewéét: God is hier.

Wanneer ons met ’n diep vrede gevul word – selfs ondanks ons omstandighede – kan ons wéét dat dit die Here is wat met ons praat. Soos ’n pa wat sussend en troostend sy bang kind gerus stel, bring Hy ons onrustige harte tot bedaring.

Toe Vader Frank de Gouveia van die Confraternity of St. James in Suid-Afrika die Camino-pelgrimsroete gestap het, het die woorde van Psalm 63: 1,2: Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water, dikwels in sy gedagtes gemaal.

“Op hierdie pelgrimstog het ek my diep verlange na God besef,” vertel hy. “Terselfdertyd het ek ervaar hoe Hy afbuk om daardie behoefte van my te vervul. Ek het besef dat die Heilige God bereikbaar-naby aan my is. Nader as wat ek kon droom. Hy is binne-in my!”

Ek kan die reis na die hart van God enige tyd en op enige plek maak. Die enigste voorwaarde is oop ore, oop oë en ’n oop hart, sodat ek op Sy uitnodiging:“Hineni, Hineni”, kan antwoord: “Ek luister, Here.”

2018-04-30T17:26:51+00:00