Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Vrydae middae dreun ons werf. Die seuns het skaars hulle boeksakke neergegooi of hulle hol by die stoeptrappies af na hulle motorfietse toe. Dié het gekom na lang en moeisame beraadslagings en onderhandelings. Want sien, by die jaarlikse Loxton Boeresportdag mag die jonger seuns in hulle eie kategorie motorfietse teen mekaar meeding. Dit was ’n verskriklike stofgedoente met seuntjies en valhelms en entoesiastiese pappas en verskrikte mammas wat van agter hulle vingers hulle vreeslose spruite dopgehou het.

My seuns het oopmond die petalje beskou en ons het sommer geweet – hulle koppe dreun petrol! Maar, eers moes hulle óns oortuig van alles en dáár het die moeilikheid gelê. Darius en Dawid het dae omgesit met potlood en papier om hulle redes neer te pen. ’n Heel imposante vertoë het sy weg na ons kopkussing gekry en die beloftes was werklik oortuigend en realisties. Toe die verjaarsdae uiteindelik aanbreek en die rooi linte op die motorfietse die geleentheid aankondig, was daar geen keer nie.

Dis nou weliswaar 6 maande later en die liefde tussen seun en motorfiets loop nog net so dik. Behalwe natuurlik as daar maats kom kuier … Dan is die atmosfeer suur en suinig en van mededeelsaamheid is daar nie sprake nie. Ek en pa Jan moet bontstaan om die vrede te bewaar want almal wil ’n beurt hê en ons seuns sit soos werfhane op hul fietse en betrag die ander vanuit die hoogte. Dis húlle fietse en hulle het dit met moeite bekom, is die boodskap hard en luid. Tot op ’n dag toe hulle iemand dit beter sien doen as hulle – en hulle agterkom dat hulle van hom kan leer en dit nog geniet ook! Skielik was daar ruimte vir almal wat wou probeer – Ma inkluis – maar hulle het besef dat gedeelde genot die lekkerste geniet is!

Dit is sekerlik die moeilikste vaardigheid om effektief reg te kry. Om ruimte vir ander te skep en met ander te deel. Instinktief draai ons weg om ons wêreldjies te beskerm en te behou: of dit nou materiële dinge, intellektuele eiendom of vriende is. Dit wat ons s’n is moet in ons eie mag en krag behoue bly. Maar ai, liewe kinders, hoe mis ons nie die hart van God wat ALLES met ons wil deel nie. Hy wil die Ewigheid met ons deel en Hy skep hierdie wêreld met al sy skoonheid sodat ons daarin kan deel. As ons perspektief net ’n fraksie verskuif, dan besef ons dat alles in hierdie wêreld aan God behoort. En Hy wil alles met ons deel! Niks is werklik ons eie nie. Dalk as ons ophou om so krampagtig aan al ons goed vas te hou en dit te begin deel, sal ons besef dat die genot van deel, soveel meer is as die selfvoldaanheid waarmee ons aan ons goedjies wil vashou. “Hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.” 2 Tim 6:18

Leer jou kind:

  • Ons herinner graag die seuns daaraan dat ons alles wat ons besit met hulle deel.
  • God deel Homself en Sy wêreld ook net op ’n groter skaal met ons Sy kinders.
  • Om jou vreugde te verdubbel moet jy dit deel met ander. Maak dit julle matra.
  • Idees, inligting en informasie is tot stigting van ander en moet altyd gedeel word.

Lees meer:

“The Dangerous Duty of Delight” deur John Piper. By CUM Boeke te kry.

2018-04-29T21:45:10+00:00