Kuns van Lééf

Die kuns van Olivia

Deur Dawid Yzelle | Foto’s Mariska Venter

Kleintyd al het haar kuns vreugde vir ander gebring, en vandag deel Olivia Botha van Bloemfontein steeds die oorvloed wat sy uit haar Voorsiener se hand ontvang.

Om vanjaar, op 36-jarige ouderdom, die silwer herdenking van ’n lonende loopbaan as skilder te vier, wys daarop dat die skep van kuns so deel van Olivia Botha se menswees is as die lug wat sy inasem.

Ons gesels op ’n koel herfsmiddag in Bloemfontein kort ná ’n stewige reënbui wat nog vars oor die aarde hang. “Ja,” bevestig sy, “ek het geskilder én my werk begin verkoop toe ek 11 jaar oud was.” Dit was sommer vroeg-vroeg reeds ’n entrepreneurskap wat uit aanvraag gegroei het, met agente wat haar werk so suksesvol bemark het dat ’n aanvanklike droom om joernalistiek en fotografie te studeer nooit verwesenlik is nie. Vandag weet Olivia egter uit ervaring dat haar hemelse Voorsiener vooruit gestap het op ’n pad van oorvloed wat Hy lankal reeds vir haar uitgelê het.

In die Rosestad waar sy saam met haar man, Karel, en seuntjies, Le Mar (20 maande) en Tre Monne (10 weke), in die boomryke woonburt Dan Pienaar woon, het daardie kunssinnige saadjie wat 25 jaar gelede in haar Goudveldse geboortedorp, Virginia, gesaai is, sedertdien ’n genade-oes gelewer wat nie net skilderye nie, maar ’n wye reeks kunsprodukte (van geskenke en juweliersware tot meubels, kombuisware en linne), ’n eie produksiehuis en drie kunswinkels insluit.

‘Dit is kuns wat die gemoed lig … dis figuurtjies wat met toe ogies lag omdat hulle báie bly is, of met oop ogies vol verwondering die wêreld aanskou.’

Kinderlike onskuld en blydskap

Oor die soort kuns wat sy vir haar reeks, Art de Olivia, skep, sê sy laggend: “Noem dit sommer Olivia-styl! My werk straal vreugde uit. Dit is kuns wat die gemoed lig … dis figuurtjies wat met toe ogies lag omdat hulle báie bly is, of met oop ogies vol verwondering die wêreld aanskou. Dis onskuldig, kinderlik.” Sy het aanvanklik met pastel op papier gewerk, en later met akriel op doek begin geëksperimenteer. “My hale is baie vinnig, baie eenvoudig en baie gemaklik. Ek glo natuurlik dat enige iemand kan verf!”

Ná matriek het Olivia haar in Bloemfontein gevestig, nie om te kom studeer of ’n konvensionele betrekking te aanvaar nie (’n werklikheid weens omstandighede waarmee sy vrede moes maak, erken sy) maar om haar roeping as kunstenaar uit te leef. Die lang ure van alleen met haar kuns besig wees het egter daartoe gelei dat sy geïsoleerd begin voel het en uiteindelik vir ’n wyle halt geroep het met haar werk as skilder. Haar paadjie het gaan draai in ’n koffiewinkel waar sy vir ’n kelnerin-vriendin hand bygesit het, net om eindelik onder aanmoediging van ’n groep kreatiewes wat gereeld daar lafenis kom soek het, tog grafiese ontwerp aan ’n onafhanklike ontwerpskool te begin studeer.

Emosioneel en finansieel was dit ’n uitdagende tyd, maar een waarin sy altyd bewus was van God as haar alleenvoorsiener, vertel sy: Sy het in dié tyd siek geword, ’n draai in die hospitaal gemaak en besluit om vir ses weke haar studies opsy te skuif, min wetend dat sy daarna haar hele akademiese jaar sou moes herhaal. “Ek het besluit om my studies te staak. Vandag kan ek terugkyk en sien hoe daardie tydperk my voorberei het vir die besigheid wat ek vandag bedryf.” Wat gelyk het na ’n dwaalspoor om haar van haar ware roeping, skilder, af weg te lei, was inderdaad bloot voorbereiding vir wat sou kom.

‘Wat gelyk het na ’n dwaalspoor om haar van haar ware roeping, skilder, af weg te lei, was inderdaad bloot voorbereiding vir wat sou kom.’

Kyk net hoe mooi!

Vyf jaar gelede het Olivia en Karel, ’n boukontrakteur van beroep, besluit om die moontlikheid van ’n geskenkreeks te ondersoek – met Olivia se kuns die stempel daarop. “My man lag vandag nog oor daardie eerste swartborde wat ons gemaak het. Dit was ’n uitdaging – en min mense het dit gekoop! Tog het die Here in dieselfde tyd dit sterk op my hart gelê om ‘iets te doen met juweliersware’. Ek het nie geweet hoe en wat nie, net dat ek my kuns op juweliersware moet gebruik.”

Toe op ’n dag, nadat sy al lank aan Karel gekarring het om ’n boom wat die son uit hul leefkamer afgekeer het, af te saag, kom hy met die oorblyfsels van dié boom by haar aan. “Dit was in dun houtskywe opgesaag, met die bas verwyder en afgeskuur. ‘Kyk net hoe mooi is dit,’ het hy gesê.” Olivia het dit in haar hande geneem en geweet, dís waarmee sy moet werk. Vir haar man het sy gesê: ‘Dankie, jy het vandag iets uit die Here se hand uit vir my gegee.’”

“Ons het besluit om my kuns op die houtskywe aan te bring (en krale daarvan te maak). Aanvanklik het ek dit net vir myself gedoen, maar later besluit om ’n paar te maak om as geskenke te gee aan ’n vriendin wat verjaar, iemand wat trou … ”

Olivia het die werklike waarde van haar projek besef die dag toe haar pa, Andrew, en stiefma onderweg van Johannesburg af Kaap toe by hulle oorgeslaap het. “My stiefma, Janet, is ’n geoloog, ’n aardse mens met geen erg aan juweliersware nie, en wat gemaklik is in jeans en ’n wit T-hemp.” Nietemin vra Olivia toe vir haar: ‘Janet, sal jy hierdie krale dra?’ Janet het huiwerig laat hoor dat dit vir haar mooi lyk aan ander mense, maar vir haarself was sy nie so seker nie!

Olivia het besluit om tog vir haar ’n stel krale te maak. Ná ’n drie weke lange vakansie in die Kaap het Janet met die terugkomslag steeds die krale gedra, en is sy met nog ’n stel of wat fort. Daardie krale was vir Janet die begin van ’n transformasie-proses waardeur sy haar vroulikheid al meer gekoester het, sê Olivia. “Ek het gevoel die Here sê vir my hiérdie is my blessing-reeks.”

By die jaarlikse Nampo-oesdag het die krale by die handevol huis gekry – en die reeks het vlerke gekry, want soos Olivia verduidelik: “’n Stuk krale het ’n hempie nodig, en ’n hempie soek ’n (bypassende) sak; dis hoe die reeks uitgebrei is.”

In gehoorsaamheid

En uitgebrei hét die reeks, in so ’n mate dat Karel later voltyds deel van Art de Olivia se produksie geword het. “Daar is gereeld oor ons gespreek dat ons ’n ‘man-vrou-ding’ saam doen, maar ek is ’n praktiese mens wat nie van nature fokus op dit wat dálk in die toekoms kan wees nie.” Vandag werk Olivia en Karel egter reeds twee jaar lank sy aan sy as vennote. Karel behartig die produksieproses op ’n perseel by hul huis, vanwaar hul produkte na onder meer hul winkels in Parys, Vanderbiljpark en Riebeek-Kasteel versprei word.

“Ek glo die Here het ons volle toewyding aan die besigheid gevra, want sedert Karel volkome aan boord is, het ons baie uitgebrei, en dít was nie iets wat ons vooraf beplan het nie.” Boonop was dit vir Karel ’n reuse-geloofsprong, vertel Olivia: Hy het immers geglo dat dit uitsluitlik die man se plig is om vir sy gesin te sorg – en dat kuns nie kos op die tafel sal bring nie.

“Ons het ’n rowwe pad in ons huwelik gestap. Vandag lyk dit alles dalk soos maanskyn en rose, maar dit was nie altyd die geval nie. Ons moes baie opofferings maak. ’n Deel van my moes alles wat ek geglo het my eie is, neerlê …

“Ek het altyd gehoop dat wat ek doen, Koninkrykswerk sal wees. Die vyand sal élke dag doen wat hy kan om jou vreugde te steel, maar as jy die pad stap wat die Here vir jou beplan het, sál daar soveel wonderlike verrassings oor jou pad kom. Jy moet net opdaag en sê: Here, hier is ek.”

2018-04-30T19:33:52+00:00