Dagboek

Vir Mei

Lééf so… met hart & siel

Iets om neer te skryf 

Maak ’n lysie van dit wat jou tevredenheid steel en gee dié dinge aan God oor, Hy wat jou lewe met vreugde wil vul.

Iets om oor na te dink

Dis juis wanneer jy die minste waardig voel om deur God gebruik te word, dat jy aan Sy goedheid en Sy wil vir jou lewe moet vashou.

Iets om te vier 

“Ons is meer as oorwinnaars – deur Christus wat Sy liefde so duidelik aan ons bewys het.” Romeine 8:37

Iets om te doen

Tooi ’n kaal muur met ’n versameling ou borde. Kies ’n klassieke kleurtema soos wit-en-blou. Begin jou versameling met dit wat reeds in die huis is.

Iets om te proe

Eiervug is veelsydig en word as die arm man se kaviaar beskou. Bak dit in die oond tot sag en maak ’n eiervugsmeer met komyn en koljander.

Iets om te pluk

Beleef ’n sampioen-snuffeltog by die Delheim-landgoed. Kies koers na die woude om die gesogte lekkernye te oes. www.delheim.co.za

Iets om te bid

Magtige God, U het alles uit niks geskep. Help my om U te ken as die enigste ware God – Skepper van hemel en aarde.

Iets om te onthou

God is die bron van alle waarheid. Ons God is oral teenwoordig en weet alles. Wat Hy ook al belowe sal gebeur.

Iets om te geniet 

Maak van teedrink ’n ritueel. Haal jou mooiste teepotte uit, dek ’n tafel of mooi skinkbord en ontdek die lekkerte daarvan om ’n koppie tee só te geniet.

Dagboek

  • Die Teodora Sentrum vir gestremdes se gewilde Gifts 4U-mark vind plaas van 3 tot 5 Mei van 10h00 tot 16h00 by Crafty Corner, David Langleystraat 433, Garsfontein.
  • Magdalenahuis hou op 12 Mei van 09h00 tot 12h00 ’n Moedersdagtee met ’n Franse tema by die Rhebokskloof-landgoed. Bespreek jou plek teen R280 per persoon by elsa@magdalena.org.za of kry haar in die hande by 071 151 3670. As jy ’n tafel vir 10 bespreek, sal dit R2 600 kos. Daar is slegs 30 tafels beskikbaar.
  • Nuy Wynkelder se nuwe proelokaal en On the hill-restaurant bied ’n spesiale Moedersdagete op 13 Mei. Daar sal ’n tradisionele spyskaart aangebied word en Ma word bederf met ’n komplimentêre bottel Nuy Muscat semi-soet vonkelwyn en rooswater-klapperys om daarmee saam te geniet. Bespreek by 023 347 0272 of onthehill@nuywinery.co.za.
  • Van 17 tot 19 Mei word die Re-Main Worship & Arts Conference by Doxa Deo se Faerie Glen-kampus gehou.
  • Op 19 Mei bied prof. Wentzel Coetzer ’n pastorale werkswinkel aan oor die impak van digitale media op die denke en gedrag van kinders en jongmense. Dit vind plaas by die Studente Hervormde kerk op Potchefstroom. Bespeek by 0836600409 of 0825778810 of stuur ’n e-pos aan wentzelc@gmail.com.
2018-04-30T20:04:56+00:00