Boekgesprek

Lééf gesels met met New York Times-topverkoper-outeur, Lisa Bevere, oor haar jongste boek, Adamant: Finding Truth in a Universe of Opinions, wat pas op die rakke verskyn het.

In ’n kultuur en samelewing waar die waarheid baie keer vasgevang word tussen ’n magdom opinies, diskoers en fopnuus, word dit al hoe moeiliker om vas te staan in die waarheid en in jou geloof. Lisa Bevere daag lesers in hierdie boek uit om terug te keer na God se liefde en Sy waarheid. God is liefde en God is waarheid. Soms is die mees liefdevolle ding wat ons kan doen om die waarheid te praat en dit begin gewoonlik deur die waarheid te leef. Lisa help lesers om met oortuiging en passie die verhaal van die Skrif en God se doel in hul lewens te leef. Lesers sal sien dat God se plan geopenbaar word as Hy in hulle leef. Dit is daar, dit moet net gesmee en gevorm word. So staan jy as gelowige vas in jou geloof én die waarheid.

Vraag: Lisa, jy het ’n hart vir vroue en help al vir ’n baie lang tyd vroue regoor die wêreld om geestelik te groei deur jou topverkoper-boeke. Wat het jou laat besluit om hierdie boek te skryf?

Antwoord: Ons leef te midde van ’n klimaat van geweldige verwarring, diskoers en misleiding. Ek wil graag ’n generasie vroue sien wat die Waarheid kan raaksien, dit praat en dit leef.

Vraag:Die woord ‘adamant’ oftewel ‘onwrikbaar’ word normaalweg gebruik as ’n byvoeglike naamwoord of bywoord, maar in hierdie nuwe boek gebruik jy die woord as ’n naamwoord. Na wie verwys ‘Adamant’?

Antwoord: Ek glo Jesus is ons Adamant – ons hoeksteen, toevlug en die onsigbare rots waarop ons kan vertrou.

Vraag: Ons word daagliks gebombardeer met verskillende opinies en sosiale media is dikwels die hoofbron van inligting. Hoekom dink jy wend mense hulle so maklik tot sosiale media vir nuus en vir dit wat as die waarheid beskou word en watter gevaar hou dit vir ons samelewing in?

Antwoord: Ek dink mense is desperaat om te “behoort” en deel te wees van ’n groep of gemeenskap. Dit is hier waar sosiale media gevaarlik kan word. Wanneer daar diskoers op sosiale media plaasvind en jy neem deel daaraan is jy nooit heeltemal seker met presies wie jy gesels nie. Sosiale media is terselfdertyd die beste én die slegste medium van kommunikasie. Aan die een kant kan jy ’n groep mense tot aksie opsweep deur sosiale media en aan die ander kant baie belangrike inligting deel. Die groot uitdaging by sosiale media is dat daar baie min tot geen verantwoording is nie, en daarom kan mense maklik seer kry of verkeerde keuses maak.

Vraag: Jy sê in die boek die waarheid is soos ’n rots en nie ’n rivier nie. Verduidelik asseblief vir ons wat jy hiermee bedoel?

Antwoord: Ons leef in ’n tyd waar die waarheid baie subjektief geword het. Logika is basies deur die konsep van relativisme vervang. Ons word geleer dat die waarheid deur ons ervarings bepaal word en wat vir my die waarheid is, is nie noodwendig dieselfde vir iemand anders nie. Maar dis nie wat die waarheid is nie, want die waarheid is ewig. Die waarheid verander nie van een persoon na ’n ander, of van een oomblik of geleentheid na die ander nie.

Vraag: Op watter manier gee die konsep dat God nooit verander nie vir ons die moed om te glo dat ons kan verander?

Antwoord: Om te kan verander of “transformeer”, het jy ’n anker in die lewe nodig – daardie een konstante rots waar jy kan voel jy behoort en waar jy veilig kan voel.

Vraag: Hoe lyk God se liefde vir ons?

Antwoord: God se liefde vir ons is nie afhanklik van ons nie. Dit word deur Hom bepaal. God se liefde is gedetermineerd – Adamant. Sy liefde vir ons verander nie en is onoorwinlik.

Vraag:Wat kan ons doen om, in ’n samelewing waar mense meer bekommerd is om polities korrek te wees as om die weg van die Woord te volg, in die Waarheid te leef?

Antwoord: Ons moet die Woord van God ken en ons lewens so inruim dat ons tyd saam met God en ander gelowiges spandeer.

Vraag: Wat is die verskil tussen opinie en oortuiging?

Antwoord: Opinies word beïnvloed deur ons emosies en ondervindings, maar oortuigings is daardie kernwaarhede wat ons glo, en wat vir Christene geanker behoort te wees in die Skrif.

Vraag: Watter tipe gesprekke hoop jy om met hierdie boek wakker te maak?

Antwoord: Dis maklik om te antwoord – die moeilikes.

Adamant: Finding Truth in a Universe of Opinions deur Lisa Bevere word deur CUM uitgegee. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/adamant-paperback.

2018-05-14T17:54:54+00:00