Geloof het ‘n adres

Alles in oorvloed

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hannerie de Wet

Zelda Jansen van Vuuren, ’n dowe naaldwerker van Parys, het haar drome in Sy hande oorgegee, met verreikende en wonderbaarlike gevolge.

Hande en vingers vlieg rats en stil, begelei deur vlietende gesigsuitdrukkings en liggaamstaal. Soms borrel daar ’n sug, snak of gedempte laggie uit.

So lyk twee mooi vroue diep in gesprek, intens op mekaar ingestel – een doof, die ander met 50 persent gehoor. Zelda Jansen van Vuuren (24) woon in Parys by haar tante, Zelda Keel (45).

Zelda Keel verduidelik hul verbintenis: “Zelda Junior is my broer Sarel se jongste dogter. Haar ouer suster wat in die Karoo woon, heet Helma. My broer het Zelda na my vernoem, en haar ousus Helma het hy na my ma (hul ouma Helma) vernoem. So dis hoekom ons almal se van Jansen van Vuuren is, al is hulle nie my biologiese kinders nie.”

Jong Zelda is doof gebore. Pleegma en tolk Zelda Keel is doof in haar regteroor – die gevolg van ’n foutiewe inspuiting wat sy as driejarige gekry het.

Zelda Keel is van kleins af lief vir taal en help naaldwerkartikels skryf vir jong Zelda se Facebookblad. Sy het ’n B.Com Bedryfsielkunde-graad van die Noordwes Universiteit. Soggens is sy ’n tuisversorger van twee bejaardes en smiddae help sy jong Zelda met haar ontwerpe, navorsing, Facebook-video’s en skakelwerk soos telefoonoproepe.

“Van almal in die familie is ek die een wat haar wêreld die beste verstaan. Dit vorm alles deel van ’n groter plan. Ons ken en lees mekaar se gedagtes. Mense sê ons is ’n Siamese tweeling. Ons het baie saam beleef en swaargekry.”

‘Die Here doen niks halfpad nie. Hy seën jou uit jou sokkies uit.’

Nooit kwaad

Jong Zelda en Helma Jnr het van ’n bloedjong ouderdom af by hul ouma Helma gewoon in pleegsorg op oupa Paul en ouma Helma se vrugteplasie by Zeerust. Toe ouma Helma te oud word om na hulle om te sien (oupa Paul was toe al oorlede), het hulle permanent by Zelda en haar man Anthony Keel ingetrek.

As kleuter was jong Zelda nie bewus dat sy “anders” was nie. Op vier is sy na die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria gestuur, waar sy twee jaar in gebaretaal onderrig is. Eers as elfjarige het sy die omvang van haar gehoorgebrek besef en onmiddellik aanvaar: “Ek is so gebore, dis soos dit is, ek was nie kwaad vir die Here nie. Dalk sou ek kwaad gewees het as ek later in my lewe doof geraak het. Ek kan alles doen wat ander mense doen, dis net die ore en dis nie so erg nie.”

Haar skooljare by Transoranje Skool was wonderlik, vertel Zelda. “Die skool het ons baie goeie opleiding en blootstelling gegee aan verskillende kulturele aktiwiteite. Die skool en personeel het ook besondere moeite gedoen om kinders toegang tot kerkdienste en geestelike leiding en aanbidding te gee. Ek was lid van die skoolkoor wat by kerke en ook in die Staatsteater en by koorkompetisies optree. Pleks van sing het ons die liedere in gebaretaal uitgevoer.”

Sy kan klank soms aanvoel, wanneer sy naby aan die bron is, en musiek met sterk oorfone ervaar – “maar dit moet hard wees!”. Sy is versot op fliek en TV-reekse, veral polisiereekse; sy kan die intrige aflei van die akteurs se gesiguitdrukkings en liggaamstaal. Onderskrifte help natuurlik.

Zelda het jeugaande en kerk toe gegaan, maar sy het dit as ’n ritueel ervaar. Op 13 het ’n dowe pastoor en sy vrou ’n bekeringsdiens by die skool kom doen. “Hy het ons na Jesus toe gelei. Omdat die pastoor self doof was, kon ek sterker met die boodskap identifiseer.”

Die verskil in haar was dadelik merkbaar. “Vantevore was ek ’n harde mens. Ek het nooit maklik gehuil nie. Ek wou sterk wees en het nie omgegee as iemand met my raas nie. Deesdae huil ek maklik, ek is baie sagter.”

Zelda senior bevestig dit: “Haar lewe het geseënd geraak en die pad het vir haar oopgegaan, ook wat besigheid betref. Almal reageer positief op haar en almal raak lief vir haar.”

Die baadjie

Jong Zelda was ook ’n jaar lank in Worcester by die DelaBat Skool vir Dowes vir meer blootstelling aan ander dowe kinders.

Toe Zelda Keel se man, Anthony, ’n epilepsielyer wat ’n tyd lank werkloos was, in Empangeni werk kry, het hulle Kwazulu-Natal toe getrek.

“Hy is ’n verkoelingstegnikus en wou ’n gereedskapbaadjie laat maak, maar ek kon nie naaldwerk doen nie en die ou naaldwerkmasjientjie het my beproef. Toe maak hy dit self,” vertel Zelda Snr.

“Omdat ek verveeld was, het ek bygesit en gekyk wat hy doen,” onthou jong Zelda. “Al het ek nooit aan ’n masjien gevat nie, het ek gedink: ‘Ek kan dit doen.’”

Anthony het ’n beter werk in Pretoria gekry, waar kollegas sy gereedskapbaadjie gesien het en hulle wou ook so iets hê. Hy was te besig en het jong Zelda toe gepor om baadjies te maak.

“Ek het geskrik. Dit was harde, ingewikkelde werk. Die naalde het gebreek, die materiaal was dik soos seil. Ek wou huil en opgee, tog ek het dit klaargemaak. Ek het besef ek kan. Die Here het vir my ’n talent gegee, maar ek het nog nie geweet wat om daarmee te doen nie. Ons het nie masjiene gehad nie.”

Zelda Keel verduidelik: “Dowes vind moeilik goeie werk omdat hulle nie opgelei is nie en nie met kliënte kan kommunikeer of fone antwoord nie. Ek het geld van my ongeskiktheidstoelaag gespaar en ’n klein Nina (van Bernina) gekoop en daarmee begin speel. Heeltyd het ek gebid en gevra: ‘Wys my wat ek moet doen.’”

Antwoord op gebed

’n Paar weke later gee ouma Helma vir haar ’n Lééf-tydskrif met ’n aankondiging van Bernina wat lesers aanmoedig om ’n SMS te stuur met hul naam en adres as hulle ’n tydskrif met idees en wenke wil ontvang. Zelda Snr stel toe voor sy sit haar telefoonnommer by.

Kort daarna bel Derick Stevens, afgetrede bemarkingsdirekteur van Bernina Suider-Afrika en ’n inwoner van Parys. Hy bied aan om die tydskrifte self af te lewer, onbewus dat Zelda doof is. Derick het die tydskrifte gebring en haar ontmoet. Toe vra hy om haar te sien werk. Hy wou weet of sy ’n omkapmasjien het. (Sy het een gehad wat nie werk nie.)

“Ek het vir my vrou Gertie gesê ek het vandag ’n fantastiese ondervinding gehad,” vertel Derick. “Ek het ’n sprankelende dowe persoon ontmoet. Sy het nog nooit gekla oor haar gebrek nie en beur ander dowes op.”

’n Week later het Derick ’n spinternuwe omkapmasjien van Bernina afgelewer, later ook ’n 350 PE Bernina-naaldwerkmasjien wat siersteke, borduur- en laslappiewerk kan doen, asook bykomstighede soos ’n goeie skêr en speldehouers.”

Die Zeldas het gehuil van vreugde. “Dit was te wonderlik dat die Here ons gebede so vinnig verhoor het. Die duur masjiene was bokant ons vuurmaakplek. Dit was vreeslik maklik om daarmee te werk, soos ’n droom.”

Gertie het Zelda touwys gemaak met die masjiene en haar gewys hoe om kussingslope te maak. “Behalwe vir die masjiene kon ek haar niks van naaldwerk leer nie,” lag Gertie.

Bolla Creations

Tydskrifte en Pinterest was bronne van inspirasie. Zelda het haarself met selfdoenvideos geleer. Die eetkamertafel was haar eerste werkplek, later ’n toegeboude agterstoep. Vriende het stukkies lap, patrone en idees aangedra. Haar eerste skepping was ’n skouersak met swart en wit strepies en selfgemaakte materiaalblomme.

Derick het ’n basaartafel vir Zelda by die NG Moedergemeente Parys gereël waar haar goedere verkoop is. “Zelda sou 10% van verkope kry, maar sy wou eerder alle inkomste aan die kerk skenk omdat die Here so goed was vir haar.”

Bolla Creations is Zelda se speelse handelsmerk. “Ek’s lief om ’n bolla te dra. Anthony spot my gedurig daaroor en dit het ’n gesinsgrappie geword.”

Suster Helma bestuur ’n geskenkwinkel in Middelburg, Karoo, waar Zelda se babavriendelike skapies, donkies en windpompe in pastelbruin, pienk en mentgroen groot byval vind.

Vroeg in 2017 het Derick aan die hoofkantoor in Switserland geskryf met ’n versoek vir ’n borduurmasjien vir Zelda, ’n 560 Bernina wat R70 000 kos. Sy was oorstelp oor die derde veelsydige masjien.

“Zelda is supergedissiplineerd, hardwerkend, rigtingvas en doelgerig,” som Derick haar op. “Sy raak nooit agter met haar produkte en video’s nie.”

“Die Here het Derick en Bernina se beste gehalte-masjiene oor my pad gebring om my op my voete te kry,” glimlag jong Zelda. “Die Here doen niks halfpad nie. Hy seën jou uit jou sokkies uit.”

Gee iets terug

Oplaas het Bernina jong Zelda genader om as ambassadeur op te tree en Bernina aan dowes te bemark deur weeklikse demonstrasievideo’s van vyf minute elk op Facebook, asook kort geskrewe artikels. Hierin dra sy praktiese wenke oor, belig die masjiene se funksies en bevorder naaldwerk as ’n volhoubare loopbaan vir dowes.

“Die video’s was ’n splinternuwe ervaring,” onthou sy. “Aanvanklik was ek skrikkerig, maar ek het redelik gou reggekom. Tannie Zelda is my klank- en kameravrou én stilis.”

Die video’s word nou elke twee weke opgeneem om Zelda meer tyd te gee vir voorbereiding. Sy vind dit vervullend om iets terug te gee en ander dowes te inspireer.

Haar roetine hang af van hoeveel bestellings sy kry. Gewoonlik begin haar werksdag (08:30 tot 17:00) eers nadat sy gehelp het om huis skoon te maak. Terwyl sy naaldwerk doen, bid sy: “Dit help my fokus of ontspan wanneer ek gespanne voel.”

Psalms is haar geliefde teksgedeeltes want dit is kort en kragtig. Eendag hoop sy om haar eie reeks vroueklere te ontwerp en maak, en om ’n entrepreneur te wees wat ander dowes by haar onderneming betrek en hulle ’n hupstoot gee.

Vakansies in die Karoo bied welkome afleiding, en een naweek per maand kuier sy by vriende in Pretoria. Haar grootste bederf? Sjokolade en biltong. “Ek’s ’n regte vleiseter!”.

’n Bydrae met impak

“Deel van Bernina Suid-Afrika se betrokkenheid by die gemeenskap sluit projekte soos waarvan Zelda ’n sprekende voorbeeld is, in. Ons probeer daardeur om persone wat as Bernina ambassadeurs optree, te bemagtig deur hulle spesifieke vaardighede te leer en dan die gereedskap beskikbaar te stel om ’n fisiese en praktiese bydrae te maak tot die bevordering van naaldwerk. Bernina Internasionaal vier vanjaar hul 125-jarige bestaan en ons probeer om naaldwerk in al sy fasette, tot op grondvlak, by die naaldwerk-entoesiaste te bring, waarvan Zelda op haar unieke manier ’n bydrae met impak maak.” – Bertie Stevens, Bemarkingsbestuurder: Bernina Suider-Afrika

2018-04-29T21:08:25+00:00