Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Wanneer jy verwerp voel

Deur Lysa Terkeurst (CUM)

Ons voel so maklik uitgesluit en verwerp deur ander, maar wanneer ons besef dat God ons onvoorwaardelik en volkome liefhet, sal ons nie smeek vir ander se stukkies afskeepliefde nie. Die boek bestaan uit sewe Bybelstudies wat jou lei om situasies te identifiseer wat jou uitgesluit en verwerp laat voel en hoe om dit om te keer in situasies waar jy vanuit God se vrede en liefde leef. Verruil jou lewe van onsekerheid en pyn vir die volkome vrede en liefde wat ’n verhouding met God jou bied. Hierdie Bybelstudie is geskik vir groepstudie. Daar is ook ses dae se persoonlike studies om tussen die groepstudies te doen. Die Bybelstudie is gebaseer op Lysa se boek Uninvited. R139,95.

Stormkind

Deur Riana Scheepers (Tafelberg)

Jana is net drie jaar oud toe haar ma spoorloos verdwyn. Op die Bolandse wynplaas Stormkloof treur KleinStorm oor sy pragtige vrou. Jana verlang ook na haar ma. Snags roep die wind haar buitentoe, maar Jana is nie bang vir die storm nie. As sy mooi na die wind luister, hoor sy die soet, hoë note van haar ma se fluit. Een so ’n stormnag ontmoet Jana vir !Xúri. !Xúri het gekom omdat dit tyd is om Jana se ma te soek. R240.

Ter wille van die vaders Zechut Avot

Deur Marzanne Leroux-Van der Boon (Lux Verbi)

Hierdie is die tiende titel in die gewilde Israel-reeks deur bekroonde skrywer, Marzanne Leroux-Van der Boon. Ou vriende keer terug Israel toe: Henok kry ’n aangename verrassing wanneer sy vrou Sarah laat weet sy wil kom kuier. Waar Marc hom weer in die Hadassah-hospitaal bevind, gee hy opnuut sy seuntjie in God se hande. Maar hy voel verskeurd tussen sy familie in Israel en sy bekommernis oor sy ma in Suid-Afrika. Tog beleef hy God se nabyheid op wonderlike maniere en vind hy troos in die wete dat Adonai se weë ver bo ons verstand verhewe is. R220.

Die ou vrou en die priester en ander verhale

Deur Cecile Cilliers (Human & Rousseau)

Vanaf 1981 tot 2014 skryf Cecile Cilliers rubrieke vir Beeld, De Kat en Sarie. Deur die jare het sy etlike bydraes vir verskillende bundels gemaak, maar Die ou vrou en die priester is haar eerste eie kortverhaalbundel. Verskeie klassieke temas word onder die loep geneem: dit wat in ’n huwelik ongesê bly tussen man en vrou, die band tussen twee susters, die oorweldigende blindheid van ’n eerste liefde, en bowenal die uitdagings van oud word. R195.

Memory Rescue

Deur Daniel G. Amen (Tyndale)

Met hierdie boek wys Dr. Daniel G. Amen hoe om jou geheue te verbeter en die risiko vir geheueverwante probleme in die toekoms te verminder met die hulp van ’n unieke Memory Rescue-program. Die boek stel jou in staat om risikofaktore vir Alzheimer’s siekte, dementia en geheueprobleme te identifiseer en te oorkom. Die leser word geleer om hoe deur middel van ’n persoonlike program struikelblokke te benader, gesonde gewoontes te kweek en selfs ondersteuning te bied aan familielede wat aan dementia lei of aan ander geheuegerigte uitdagings blootgestel is. R279,95.

Lewe in Sy oorwinning

Deur Ewald van Rensburg (CUM)

Baie mense dink Openbaring is ’n groot en onverstaanbare boek. Johannes gebruik vreemde beelde en beskryf goed só dat ’n mens dit die eerste keer nie eintlik verstaan nie. In hierdie boek nooi Ewald van Rensburg jou uit om ’n jaar lank deur Openbaring te werk. Daar word gekyk na die agtergrond waaruit Johannes geskryf het en hoekom hy dus sekere beelde gebruik. Daar word gekyk na die vars spore wat Jesus soos leidrade vir ons gelos het. Die boek lei jou tot die ontdekking dat Openbaring ’n wonderlike boek van hoop vir ons as gelowiges is en wys hoe ons nou reeds in Sy oorwinning kán lewe. R219,95.

Die Afrikaners

Deur Hermann Giliomee (Tafelberg)

Hermann Giliomee vertel die dramatiese storie van die mense wat hulself mettertyd Afrikaners sou noem in dié nuwe, korter weergawe van sy omvangryke meesterwerk Die Afrikaners: ’n Biografie. Sedert Die Afrikaners verskyn het, het toekennings, sowel as plaaslike en internasionale lof ingestroom. Die Economist het dit onder meer as een van sy boeke van die jaar gekies. Hierdie korter weergawe vat die kern van die oorspronklike vas én werk nuwe gegewens by. Giliomee se vars styl laat die kleurryke verhaal van die Afrikaners met al sy drama, ironieë en patos lééf. Die hele, soms omstrede storie – van die onbedoelde vestiging tot die onsekere toekoms – kom prikkelend onder die loep. R290.

As Good as Eating out

Saamgestel deur Your Familiy (Human & Rousseau)

Om uit te eet is deesdae ’n duur besigheid, veral vir ’n gesin. Hierdie boek bied ’n versameling heerlike resepte wat jou in staat stel om restaurantkos tuis te kan maak. Daar is resepte vir pizza en pasta, hoenderhappies, vis en skyfies en selfs tuisgemaakte roomys. Bederf boonop jou gesin met heerlike nageregte soos kaaskoek en panna cotta in egte restaurantstyl. Daar word ook omgesien na diegene wat belangstel in ’n lae koolhidraatleefstyl en minder suiker wil inneem. Die ideale boek vir besige ma’s. R280.

2018-03-29T19:24:35+00:00