Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Klein kinders kyk fyn. Hulle sien raak. En – by gebrek aan genoeg woorde om iets te omskryf – slaan hulle dikwels júis die spyker op die kop met hul min woorde. Soos my kleinkinders wat van ’n sny brood sonder botter en smeergoed as “’n Eentjie” praat. Dit sê als.

Elkeen van ons het ’n ryk skat woorde uit kindermondjies rondom ons. Soms laat dit ons glimlag. Soms laat dit ons nadink. Soms maak dit ons hartseer – juis omdat dit iets verwoord wat onsself voel, maar nie weet hoe om in woorde om te sit nie.

’n Vriendin vertel van ’n vakansie by haar dogter. Daar speel dikwels ander maatjies by die kleingoed, en sy leer hulle mettertyd ken. Een van die dogtertjies vertel graag van haar ouer boetie en al die wonderlike dinge wat hy doen.

Toe my vriendin haar vra: “Hoe oud is jou boetie?” kom die antwoord: “Hy is al ’n mens.”

Wanneer is iemand ’n mens? wonder ek. Is dit wanneer jy self besluite kan neem? Is dit wanneer jy moet begin pa staan vir jou eie foute? Is dit wanneer iemand na jou opsien vir raad en leiding?

‘Ek is magteloos en sonder woorde. Ek weet nie hoe om te troos nie. Ons sit in die teenwoordigheid van verlies wat te groot is vir ons begrip.’

Onlangs sterf ’n jong vrou se man in ’n fratsongeluk. Op vier-en-dertig is sy skielik – sonder waarskuwing of voorbereiding – ’n weduwee met drie kleuters. ’n Paar weke na haar man se dood gaan kuier ek vir haar op die klein dorpie waar sy bly. Sy is verskrik en verwese. Daar hang ’n verlatenheid oor haar. In die manier hoe haar skouers vorentoe buig. In haar groot oë. In die afwesige vryf oor haar seuntjie se klein koppie waar hy by haar staan.

Ek is magteloos en sonder woorde. Ek weet nie hoe om te troos nie. Ons sit in die teenwoordigheid van verlies wat te groot is vir ons begrip.

Voor ek ry, kom vat die vyfjaaroud-dogtertjie my aan die hand om haar kamer vir my te gaan wys. Terwyl sy haar poppe een vir een uitpak en haar klein storietjies vir my vertel, sê sy so tussen al die ander praterye deur: “Ek het nog baie huil in my.”

Ek dink aan haar ma wat – soos ’n ‘eentjie-broodjie’– gestroop is van die teenwoordigheid van die persoon wat haar lewe ryker en mooier en sinvoller ingekleur het. Sy het – net soos haar klein dogtertjie – nog baie huil in haar. Maar sy is ‘al ’n mens’ – soos ’n ander klein patroon van haar boetie gesê het. Die jong weduwee se kinders sien op na haar. Hulle soek troos by haar. Sy is hul skuilplek, terwyl sy self skuiling soek.

In ons soeke na woorde om sin van ons lewensomstandighede te maak, kom God na ons. Hy is die immer-teenwoordige, wat met net twee eenvoudige, kragtige woorde: “Ek is”, ’n hele nuwe lewe vir ons kan laat oopbreek.

Here God, U wat op die eerste Skeppingsdag uitgeroep het: “Laat daar lig wees!”, U laat daardie Lig oor ons skyn. Dankie vir die ryk betekenis wat agter u Woorde lê. Laat ons eie woorde kragtig en helend vir ander wees, net soos U kindertjies se woorde gebruik om ons anders na dinge te laat kyk. Amen

2018-04-05T19:42:07+00:00