My twee oupas en oumas het soos dag by nag verskil. Nie dat die een paar soos dag en die ander soos nag was nie, maar die verskil was wel groot. Daar was die plaas in die Klein Karoo en die pastorie in Namakwaland. In dié twee huise het ek in die eerste vyf jaar van my lewe toe ek ál kleinkind was, die Here leer ken.

In die droë Karoo was afhanklikheid van die Almagtige ‘n werklikheid. Die vrese van die Here was deel van hulle daaglikse bestaan. Voor ligdag, word ek wakker van Oupa en Ouma wat “oggendgodsdiens” hou. Deur die enkele muur wat die “vrykamer” en die “brekfiskamer” skei, hoor ek die vertroude gesange, en Bybelgedeeltes, die geluid van stoele wat oor die houtvloer knars as hulle kniel om te bid.. Ek woel my dieper in die bulsak, maar ek hoor nogtans die name van elke kind, skoonkind en kleinkind. Ek dommel weer weg, getroos en geborge.

Daar word laat geëet saans. Ouma gee solank ‘n “sononderkossie” teen die ergste honger. Gebraaide lewertjie op ‘n biesiestokkie gesteek, of ‘n vetkoekie wat gouestroop en botter drup. Winters is dit donker as Oupa uit die veld inkom. Daar hang koue druppels aan sy snor. Ek ruik skaap en lusern aan sy klere. Hy gooi sy koffie in sy piering en blaas dit koud om te drink. Die lae bankie word nader gestoot, hy trek sy velskoene uit, sug behaaglik as hy sy voete in die badjie warmwater wat Ouma uit die “boiler” getap het, laat sak. Op my eie voetstofie, mag ek ook daarby. Oupa seep ons voete met blouseep in. In die stoof knetter houtvuur , die ketel fluit ‘n hoë noot. ‘n Pasgebore lammetjie wat Oupa ingebring het, blêr stotterend op die vuurherd. Buite sif kapok wit oor die werf.

As daar na ete boeke gevat word, is my oë swaar. Maar ek moet mooi luister wat Oupa lees, want hy gaan vra wat die grote Moses op die Sinai-berg gaan haal het. Of hoekom die Israeliete bloed aan hulle deurkosyne gesmeer het. As ons lank moet kniel oor Oupa vir die ganse land en al die mense in die parlement bid, wonder ek hoe die Here die sterre in die hemel opgehang gekry het.

Oupa en Ouma Namakwaland se huis sing van Jesus. In Oupa se studeerkamer waar die rakke van boeke kreun, hang ‘n hout kruisie. Dis olyfhout wat uit Jerusalem kom, hoor ek. Ek vat nie daaraan nie, netnou kom dit van die boom af waar Jesus bloed gesweet het. Sondae sit ek styf teen Ouma in die pastoriebank. Sy ruik na Sal Volatile en waai haarself met ‘n kantsakdoekie koel teen Klawer se versengende hitte. Oupa leun oor die preekstoel en sy silwer hare maak ‘n ligkrans om sy kop soos wat Jesus in die Engelse kinderbybel het. Sy gesig skyn as hy van die Here praat.

In die vaakste uur van Sondagmiddag ry ons met Oom Joggem se bootjie oor die Olifantsrivier Trawal toe om buitediens te hou. Oupa preek, trap die orreltjie , sing al die versies van die gesang voor. Saans as slaap op my aankruip, hoor ek die silwer nootjies van sy harp teen die krieke in sing. En ek weet, weet, weet die Een wat hy liefhet, is die Een wat ek wil ken.

Inderdaad is die saadjies van my geloof oor die Karoo gesaai en in Namakwaland geplant. Noudat ek self die saadsak dra, kyk ek met benouing na die versoekingsgolwe wat oor my kleinkinders wil toeslaan. En ek weet woorde sal nie praat nie. Net my lewe.

2018-03-29T19:44:20+00:00