Lééf mooi

Gou-gou mooi

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Het jy min tyd vir mooimaak? Hier is ’n paar kortpaadjies wat jou sal help om in ’n kits op jou beste te lyk.

  1. As daar nie tyd is om jou hare te was nie, kan stileerprodukte tot jou redding kom. Sproei ’n bietjie water op die hare en stileer met behulp van ’n ligte jel of waks. Gebruik andersins ’n droë sjampoe.
  2. Bedek haarwortels waarvan die kleur uitgegroei het tydelik met maskara.
  3. Bespaar tyd by die salon deur net sekere dele van die kop met kleurflitse te bedek. Kleurflitse wat net aan die buitenste hare aangewend word, gee beweging en tekstuur sonder om te veel tyd in beslag te neem.
  4. Gebruik ’n spesiale sjampoe en opknapper wat help om kleur langer te laat hou. Dit bespaar tyd en geld.
  5. Droë, beskadigde hare lyk dadelik mooier as ’n glansmiddel oor die hare gespuit word. Die skêr is natuurlike die beste vriend van hare wat verniel is. Dis dikwels die enigste manier om erg beskadigde hare weer mooi te laat lyk.
  6. Belê in ’n sterk haardroër om hare supervinnig droog te blaas.
  7. Was jou hare met ’n semi-permanente kleursjampoe vir kleur en glans in ’n kits.
  8. Draai hare met ’n paar Velcro-rollers in, spuit met stileersproei en laat die rollers ’n paar minute lank inbly. Dit gee jou hare sonder moeite lekker volume.
  9. Dra jou hare in ’n kort styl. Dit is die gerieflikste en maklikste manier om jou hare altyd goed te laat lyk.
  10. Moenie teen jou krulle baklei nie. Werk saam en nie teen jou hare se eie tekstuur nie. Gebruik die regte stileerprodukte om hare mee droog te blaas. Dit bespaar tyd.
  11. ’n Skroproom kan binne twee minute dooie en droë velletjies van die vel verwyder sodat dit weer blosend lyk.
  1. Gebruik ’n veeldoelige grimeerpotlood op die oë, lippe en wange.
  2. ’n Bietjie glansgrimering in die binneste en buitenste ooghoekies, wat bo-oor jou gewone grimering aangetik word, laat jou onmiddellik minder moeg lyk.
Bloedrooi lipstiffie kikker jou voorkoms dadelik op. Dra dit saam met onderlaag en pikswart maskara as daar nie tyd is vir grimering nie.
  1. Wit oogomlyner aan die binnekant van die onderste ooglid laat moeë en rooi oë wakkerder lyk.
  2. Dra ’n spierwit hemp. Die lig wat deur die hemp weerkaats word, verhelder die gelaat.
  3. ’n Verbruiningspoeier wat oor die gesig gestof word, laat jou gesond en blosend lyk. Dit gee jou gesig kitskleur sonder skadelik sonblootstelling.
  4. Pluk en vul jou wenkbroue in. Dit skep ’n versorgde voorkoms in ’n kits en beklemtoon jou oë.
  5. Laat tint jou wimpers en wenkbroue gereeld by die salon.
  6. ’n Tikkie teeboomolie drie keer per dag aangewend op ’n puisietjie laat die merkie vinniger genees.
  7. Bloedrooi lipstiffie kikker jou voorkoms dadelik op. Dra dit saam met onderlaag en pikswart maskara as daar nie tyd is vir grimering nie.
  8. Dra ’n gekleurde vogroom as jy nie onderlaag hou nie.
  9. Laat sny jou hare gereeld. ’n Goeie snit is die sleutel tot ’n maklik beheerbare styl wat nie veel tyd in beslag neem nie.
  10. Kies ’n naellak wat vinnig droog word. Belê in ’n spuitmiddel wat naellak vinnig uitdroog.
  11. Hou altyd ’n behandelingsproduk byderhand wat die vel vinnig lewe gee soos Clarins Beauty Flash Balm.
  12. Bêre ’n metaalteelepel in die yskas. Hou die yskoue teelepel ’n paar minute lank op elke oog om pofferigheid oombliklik te verminder.
  1. Die regte masker op sy tyd is soms ’n vinnige lewensredder vir die vel.
  2. Ontlaai spanning deur betyds gou ’n paar asemhalingsoefeninge te doen. Diep en reëlmatige asemteue laat jou dadelik ontspanne voel.
  3. Organiseer jou smuktassie en grimering sodat jy maklik die regte produkte kan raakvat.
  4. Raak van onnodige skoonheidsprodukte ontslae. Koop eerder minder produkte wat werk.
  5. Dra ’n onderlaag en poeier in een. Net ’n vinnige vegie en jy lyk mooi.
  6. Stort pleks van bad. Wissel die temperatuur van die water af om jou sirkulasie goed aan die gang te sit.
  7. Reinig die vel saans met ’n veeldoelige middel wat ook van grimering ontslae raak.
  8. Gebruik jou badtyd om ’n gesigsmasker en diepwerkende opknapper vir die hare aan te wend.
2018-03-29T19:26:05+00:00