Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Ek blaas die ingehoue lug stadig uit, bewus van my stywe skouers en galoppende hart. Ek kan uiteindelik in my hoekie sit en die afgelope 28 maande se handewerk betrag.

Om ’n laerskool en ’n koshuis met min hulpmiddele in die hart van die platteland oop te maak, is ’n taak wat ek waarskynlik nie weer sal aanpak nie. Maar die skrif was aan die muur. Ons plaasskooltjie met sy twee leerlinge en baie afleiding het sy kinderskoene ontgroei en ons moes plan maak om ratte te verskuif en die ernstige taak van akademie op te neem.

Ons kinders was eers verbysterd en toe steeks. Enige verwysing na die dorpskool en die koshuis is met algehele ongeloof en siedende misnoeë begroet. Tot die groot dag aangebreek het.

Nog voor die son oor Wilde Perdeberg gebeur het, sit ons vier kiertsregop in ’n volgepakte kar die grondpad voor ons en dophou. Opeens intens bewus van die nuwe seisoen wat voor ons oë aanbreek. Ek sien Pa Jan byt sy kiestande deur, hy is moedig in sy skyn van entoesiasme. Hy was self ’n koshuiskind en weet watter moed dit van die kinders gaan verg. Ek kyk na Dawid wat bleekstil en met groot oë die kinders om hom dophou. Sy graad een skouertjies vooroor gebuig met die boeksak wat soos ’n skilpaddop om hom vou. Ek weet hy wens hy kon daarin wegkruip. In die koshuiskamer kniel ons op die vloer en ek trek ’n sirkel om elkeen, vra smekend vir beskerming en krag en alles wat dit sal vat om ons harte sterk te maak.

Die dae was lank en die gebede nog langer! Die dae wat die seuntjies met betraande oë voor ons staan en vra of hulle asseblief saam met ons mag huis toe kom, en ons moet omdraai en hulle agterlaat, is soos die dag wat die hoenderhaan vir Petrus gekraai het.

Die een woord wat telkens my bewerige hart versterk het, is “verduur”. Soveel verwysings in die Skrif gaan juis oor hierdie woord wat ons deesdae met ’n ergerlike wegveeg wil vervang met enigiets anders wat ons juis kits beterskap beloof. “Verduur saam met my die lyding soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus”, skryf Paulus in 2 Timoteus 2:3. Ek kan met sekerheid sê dat geestelike dinge in die wêreld om ons, nie makliker gaan word nie. Die geweld, die hartseer, die vernietiging en die morele verval vra een ding van ons wat saam met Jesus Sy kruis wil dra – om te verduur.

So, as ek my seuntjies se gesiggies in my hande vashou en die verlange skeur ons in twee, onthou ek dat die een ding wat hulle nou leer, is juis dit. Om te verduur.

Leer jou kind:

  • Uithouvermoë is ’n fantastiese deug wat kinders van jongs af moet aanleer.
  • Om te verduur dui op jou emosionele vermoë om te kan uithou.
  • Kinders kry baie voordeel daaruit wanneer hulle in emosionele swaarkry-tye, deur ouers ondersteuning en bemoediging kry.
  • Wys altyd die voordeel van verduring uit: Jesus beloof ’n dubbel porsie vir diegene wat Sy wenpaal haal.

Lees meer:

Die ganse Nuwe Testament is bewys dat God juis in ons die deug wil ontwikkel – hou uit en hou aan!

“Dit kos guts om te bly glo” deur Stephan Joubert uitgegee deur Lux Verbi.

2018-03-29T19:25:52+00:00