‘Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike.’ 1 Korinthiërs 15:46

Oupa Brunner het soggens eers kaalvoet in die dou gaan loop. Volgens hulle oortuiging was dit baie gesond! By die see sou hy – diep in die sewentig – heerlik in die son lê en gaan swem met sulke stadige vlinderhale. ’n Glasie sap drink was ’n hele ritueel – met toe oë! Tienuur soggens het hy en Ouma huisgodsdiens gehou.

Soms vergeet ons dat die Here ons as mense gemaak het, met liggame, en vir ons die aarde gegee het as huis. Ons menswees, liggaamlikheid en aardsheid is daarom heilig. Soms wil ons ’n spiritualiteit ontwikkel wat ons lyflikheid en aardsheid probeer oorkom, asof dít op sigself ons probleem, ons sonde is. Nee, uit ons menslikheid groei ons geestelikheid, uit ons liggaamlikheid kom ons tempel-wees – uit hierdie aarde kom die nuwe aarde, wat vir ewig ons plek sal wees! ’n ‘Suiwer geestelike’ spiritualiteit is heeltemal gediskonnekteer van God se plan.

Ons moderne lewe – oggend-TV, stringe verkeer en dan ’n dag agter ’n rekenaar – is myle verwyder van ons voorgeslagte s’n, wat soveel meer verbintenisse met die natuur gehad het. Elke oggend kon jy die son síén opkom! Hout haal, hoenders kos gee, die werf vee, boontjies kerf, veld toe gaan was maar gewone dinge. Laat ons ten minste iets van daardie konneksie terugvind in ons dag: ten minste iewers stil staan en asem haal, die wolke bekyk, die rose raakruik in jou tuin, vóél wat jou lyf vir jou sê. Doen dit op jóú manier – kruietuin, staproetes, fotografie – maar skakel tog die skerms af en herkonnekteer: met die grond, met jouself, met die Here. Dís diep geestelik!

Gebed

My lewe is nie geaard nie, Here – bring my terug!

‘Die aarde is die voorportaal van die hemel’. Johan Smit

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2018-03-29T19:24:23+00:00