Ons deel ons harte

Eendrag maak mag

deur Beatri Joubert | Foto’s Lorna Daroll

Die drie broers van 1925 Band – Reno (33), Jeff (31) en David-Lee (25) Gericke – sing sielvolle musiek en gee God al die eer vir hul sukses.

Hoe die groep ontstaan en van waarvandaan kom die naam?

Reno: Ons is in Orkney, Noord-Wes, gebore, maar woon die afgelope 19 jaar al in Pretoria. Ons sing al drie van ’n baie jong ouderdom af en ons ma het van kleins af gesê ons moet ’n band begin, maar dit het eers in 2011 ’n werklikheid geword. Jeff en David het besluit om hul ouderdomme (Jeff, toe 25, en David toe 19) saam te sit om 1925 te vorm. Ek het eers ’n paar maande later by hulle aangesluit. Hulle het “1925” gegoogle en gesien Afrikaans is in 1925 as ’n amptelike taal aanvaar – en ons ondersteun Afrikaans!

Vertel ons van julle geloofspad: waar het alles begin, watter uitdagings was daar en wat het jul geloof gevorm?

Reno: Vir my het geloof ’n wye betekenis. Eerstens is dit geloof in God, wat ek dink ’n groot deel van ons sukses is. Dan is daar my geloof in myself en my broers. My geloof in my broers het begin die eerste dag wat ons saam op verhoog gespeel het. Om te doen wat ons geoefen het en sien hoe hulle dit regkry om te wees wie hulle is en nie voor te gee om iets of iemand te wees wat hulle nie is nie. Geloof beteken ook om nederig en dankbaar te bly.

Jeff: My reis saam met Jesus het begin in graad 10 by ’n lofprysingsaand toe ek ’n ongelooflike ontmoeting met die Heilige Gees gehad het! Ek het besef dat ek nie sonder Hom elke dag kan aanpak nie, want Hy hou alles in Sy hand. Hy het my perfek gemaak en is lief vir my, maak nie saak wat ek doen nie. Dis vir my kosbaar. Maar ek moet my foute opreg bely en regmaak. Om ’n kind van God te wees is moeilik, want dit gaan vir my meer oor jou leefstyl as oor wat jy doen en sê om gesien te word.

David: Ek sal myself eerder ’n kind van die Here noem as ’n Christen. Ek dink nie daar is ’n spesifieke manier om God te dien nie. Dis belangrik om elke dag van Hom te leer en vir Hom lief te wees. Die belangrikste is dat mens altyd oop is vir die Here sodat Hy met jou kan praat. My verhouding met die Here het in 2007 begin toe ek meer verstaan het oor wie Hy is en hoe lief Hy ons het. As ek eerlik moet wees, moet ek sê my verhouding met God was toe baie sterker as nou. Die geloofspad het baie struikelblokke, maar as jy jou oog op die regte pad hou, sal jy deur die moeilike tye kom.

Vertel ons van die dinamiek in die groep – wie is baas en wie is klaas … 

Reno, laggend: Ek dink elkeen in die groep het sy verantwoordelikhede. Ons probeer besluite saam neem, maar partykeer is dit maar die oudste broer se plig om besluite alleen te neem …

Jeff: Om saam met jou broers te werk is nie altyd maklik nie, want elkeen het sy eie idees. Maar ek dink ons kry dit goed reg. Dis belangrik dat almal saam ’n besluit neem en elkeen soms ‘n beurt kry om die minste te wees.

David: Die oudste sal altyd die laaste sê hê en die jongste is weer die wintie een. Daarom gee ek hulle altyd so bietjie attitude, want dis ook mos nodig …

Wie is jul geloofshelde?

Reno: Daar is so baie, maar iemand wat uitstaan, is my oupa. Hy was ’n briljante musikant en ek het baie van hom geleer.

Jeff: Die Amerikaanse pastoor Louis Giglio motiveer my met sy verhale en boodskappe oor die lewe. Die feit dat hy erken hy is ook net ’n mens met foute, inspireer my.

David: Dit mag dalk snaaks klink, maar ek kies Justin Bieber. Hy is ongelooflik talentvol, maar dien steeds die Here. Op sy album Purpose sing hy oor sy verhouding met die Here en gee God al die eer vir sy talent.

Watter persoon het die grootste invloed op julle gehad?

Reno: Die grootste positiewe invloed sal die van ons ma en tannie Deidrè wees. Hulle is van die begin af ons grootste ondersteuners.

Jeff: Ek stem saam. Die twee vroue buig agteroor vir ons en gee hulle alles vir ons. En natuurlik my vrou, Remona, vir wie ek baie lief is.

David: Ons ma, sonder twyfel. Sy het alles in haar vermoë gedoen om ons reg groot te maak met waardes en liefde vir die mense om jou.

Jul liedjie Grondpad nasie is baie patrioties: Wat maak ons land so wonderlik ten spyte van al die nood en geweld. En wat het ons nodig om weer op die regte pad te kom? 

Reno: Jeff het die liedjie geskryf en ek het by hom geleer dat ’n mens nie net in die slegte kan vaskyk as jy wil hê dinge moet beter word nie. Ek wou vroeër emigreer, want ek het gedink daar is baie beter plekke met minder probleme. Maar ek het agtergekom dis onwaar. Suid-Afrika is een van die mooiste lande in die wêreld met ongelooflike mense. Ek dink ons moet meer omgee vir ons land. Ons moet saamstaan en ophou neerkyk op mekaar.

Jeff : Ons het ’n wonderlike, mooi land! Al wat ons kort is hoop, liefde en vrede.

David: God het ons almal na Sy beeld gemaak, maak nie saak watter ras ons is nie. En God het vir ons die mooitste berge, velde, diere en see gegee. Hoekom sal ons dit wil vernietig met stof en bloed?

Hoe leef julle jul geloof prakties uit?

Reno: Ek probeer dit wys deur nederig en dankbaar te leef, om die goeie in ander raak te sien en dit vir hulle te sê, om ander se geluk voor my eie te stel, en om ander te help waar ek kan.

Jeff: Ek probeer altyd ’n voorbeeld stel met my dade. Dis partykeer moeilik weens versoekings, maar ek probeer leef soos wat die Bybel my leer.

David: Ek skryf. Dit is my manier om my getuienis te deel. Soos my liedjie Gedig op jou arm. Dit gaan glad nie oor liefde nie, maar oor my verhouding met God. Hy het my nie gedwing om Hom te dien nie, maar my ’n keuse gegee. As ek Hom volg, sal Hy my nooit verlaat nie.

Baklei julle ooit en hoe oorkom julle verskille?

Reno: Dit is moeilik, maar ek dink dit is vir ons makliker as dit kom by musiek. Ons verstaan mekaar en probeer mekaar help om die regte besluite te maak. Ons baklei baie, soos enige familie. Maar ons sê jammer en leer daaruit. Ons hou nooit dinge teen mekaar nie.

Jeff, laggend: Ek dink die regte manier om dit te stel is ons sort mekaar bietjie uit … Wonder bo wonder bly ons nie nooit lank kwaad vir mekaar nie en ek dink dis ’n goeie resep vir enige groep!

David: Ja, dis maar net menslik om te baklei. Ek glo as jy iemand seermaak, moet jy dit regmaak en aanbeweeg, want lewe is te kort om nie lief te hê nie.

1 Tessalonisense 5:16 sê: ‘Wees altyd bly.’ Wat vul julle met vreugde?

Reno: Musiek en mense wat gelukkig is, régtig gelukkig is. En om ander mense te help.

Jeff: Net om te weet dat my lewe in beheer is van die Een wat my geskape het. Die wete dat Hy my so ongelooflik liefhet en dat Hy my Pa is.

David: Musiek, want ek glo dit kom van die Here af. Musiek borrel oor in my. Dit is ’n geskenk wat Hy aan my gegee het om vol vreugte te bly. Dit laat my altyd lag, al is ek hartseer. Dit laat my goed voel oor die wêreld en oor liefde en alles om my. Sy liefde is al wat saak maak en as mens dit beleef,  verstaan jy hoe lief Hy jou regtig het.

2018-05-29T18:35:11+00:00