Vra jouself…

Deur Amanda de Lange | Foto Hanneri de Wet

Januarie lê op die naat van sy rug. Het jy moed opgegee met jou Nuwejaarsvoornemens? Lewensafrigter, Amanda de Lange, het raad.

Kort ná Nuwejaarsdag het ’n grappie die rondte op Facebook gedoen.

1 Januarie: Maak Nuwejaarsvoornemens.

2 Januarie: Goed so, ons begin vandag.

3 Januarie: Nee, eerlik waar: Begin vandag!

31 Desember: O gaats! Die tyd het gevlieg. Kom ons probeer weer môre.

Dít is presies hoe dinge vir so baie van ons verloop wat Nuwejaarsvoornemens betref. En dit is ook een van die redes waarom ek nie ’n voorstander van dié spesifieke term is nie. Ek noem dit eerder jaarlikse doelwitte.

Voornemens wat op die vooraand van die nuwe jaar gemaak word, word dikwels gemaak sonder veel nadenke en veral sonder ’n plan. Die mees algemene voornemens is om gewig te verloor, gereeld gim toe te gaan, op te hou rook, ’n sekere vaardigheid onder die knie te kry, geld te spaar, skuld af te los ensomeer.

Dit is alles goed en wel, maar as jy nie ’n plan het waarmee jy hierdie goeie voornemens tot uitvoer gaan bring nie, is die kanse goed dat jy heel moontlik op Oujaarsaand vanjaar steeds sigaret in die hand kla oor die vyf ekstra kilogram wat jy aangesit het terwyl jou hoop skuld verdubbel het. En dan, ná ’n sluk wyn, jou kop skud en sê, “Sien, Nuwejaarsvoornemens is sommer twak”.

Ek wil jou dus ’n bietjie help om doelwitte te stel vir hierdie jaar wat nie net haalbaar is nie, maar wat jou opgewonde gaan laat.

Die heel eerste ding wat jy in ag moet neem, is dat die jaar ’n allemintige 365 dae het waarin jy jou doelwit kan behaal. Dit is 12 maande en 52 weke.

Toegegee, Januarie lê op die naat van sy rug. Dalk het jy nog nie begin nie en is jy reeds op die randjie van moed opgee. Moenie. Haal diep asem. Dis okei. Daar is nog elf maande oor. Jy kán dit nog doen.

Hier is vyf wenke wat jou op die regte spoor behoort te sit:

  1. Formuleer jou doelwitte só dat dit jou opgewonde maak. Pleks van om te sê “ek wil gewig verloor”, dink na oor hoekom jy gewig wil verloor, wat gaan dit vir jou beteken om daardie gewig te verloor en hoe jy gaan voel wanneer jy dit gedoen het. Gebruik woorde wat jou opgewonde maak om die doelwit te formuleer en verwys elke keer daarna wanneer jou moed die dag bietjie laag sak.
  2. Stel vir jou ’n werkbare plan op. Breek jou groter doelwit op in kleiner, haalbare “happies”. Moenie in sak en as gaan sit as jy iewers jou teiken mis nie. Haal diep asem en begin weer.
  3. Wees verantwoordbaar teenoor iemand vir jou vordering. Kies iemand wat jou gaan ondersteun en op die smal baan sal help hou en wat minstens net so vasberade is soos jy. Bly weg van mense wat self maklik tou opgooi, want hulle gaan jou nie aanmoedig wanneer jy die eerste hobbel tref en neus in die modder beland nie. Hulle lê reeds daar en hulle gaan maar té dankbaar wees dat hulle nou iemand het wat saam met hulle misluk het.
  4. Daar gaan dae wees wanneer jy faal, wanneer jy nie lus is nie, wanneer dit voel of jou plan nie werk nie en of jy nooit by jou teiken gaan uitkom nie. Wees veral op daardie dae lief vir jouself. Jy is nie ’n superwese nie, jy is bloot iemand met ’n doelwit wat voor jou lê en jy werk daaraan om dit te bereik.
  5. Moenie te trots wees om hulp te vra nie. Moenie te skaam wees om te sê jy sukkel nie. Moenie huiwer om professionele hulp te soek indien jy dit nodig het nie. Moenie probeer om alles alleen reg te kry nie. Daar is baie groter krag daarin om met ander saam te werk as om op jou eie aan te karring.

Sterkte en onthou om op 31 Desember vanjaar ’n glasie te klink op al jou oorwinnings.

*Amanda de Lange is ’n motveringspreker, meesterafrigter en veranderingstrateeg. Kontak haar by 0846090344 of amanda.dlange@gmail.com

Lees haar persoonlike getuienis wat in Lééf verskyn het, hier: Om die verlede te vergeet

2018-02-01T09:26:15+00:00