Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

100 Days to be brave

deur Annie F. Downs (CUM)

Ons is bedoel om dapper te wees. Annie F. Downs het gevoel dat die lewe se uitdagings te moeilik en te veel geword het. Maar op ’n dag het sy besluit om nie langer toe te laat dat vrees haar baas sal wees nie. Om dapper te wees is nie maklik nie, maar dit is goed. Dié boek bestaan uit ’n honderd dagstukkies oor dapperheid wat jou sal help om God se plan vir jou lewe te omarm. Annie skryf met eerlikheid en ’n tikkie humor en lei jou om te ontdek dat jy sterker is as wat jy dink! R199,94.

The Atlas of Beauty

deur Mihalea Noroc (Penguin Random House)

Sedert 2013 reis Mihaela Noroc regoor die wêreld met ’n rugsak en kamera en neem sy foto’s van gewone vroue wat die diversiteit en skoonheid om ons uitbeeld. Hierdie boek is ’n versameling van haar beste foto’s waarin vroue regoor die wêreld gevier word en vir ons wys dat skoonheid universeel is en nie afhang van geld, ras of sosiale status nie. Die portrette is geneem van die reënwoude in die Amasone tot markte in Indië, die strate van London en parke in Haarlem – daar waar vroue woon, werk en leef. R480.

Meer as ’n Ja-woord

deur Johan & Nina Smit (CUM)

Die realiteit is dat die huwelik ’n leerskool is waar twee mense hulle hart vir mekaar moet gee en mekaar moet aanvul. In hierdie dagboek vir getroudes gee Johan en Nina Smit Bybelse riglyne om van die huwelik ’n stille hawe van geluk te maak. Sodoende word die huwelik meer as die spreekwoordelike ja-woord: dit word ’n deurdagte, nugter wilsbesluit om in alle omstandighede getrou te bly. Om te gee en lief te hê, vra daadwerklike toewyding en trou om van ’n vlietende belofte ’n lewenslange verbintenis te maak. R179,95.

Altyd Jesus

deur Sarah Young (Struik Christian Media)

Die lewe is vol probleme en swaarkry, verlies, hartseer en vrees. Te midde van hierdie uitdagings voel vreugde onmoontlik en buite ons bereik. Altyd Jesus is ’n ontdekkingsreis om die beloftes van vreugde in die Woord te ontgin. Deur diep te delf in die vreugdevolle belofte sin die Woord, leer ken jy Jesus op ’n dieper vlak en bou jy ’n intieme verhouding met Hom. Saam met Hom kan jy vandag en elke dag daarna ware vreugde ervaar. R149,95.

God roep jou tot ’n dieper lewe

deur Nancy Taylor (CUM)

Verbly jou in My. Kom na My toe. Vertrou My. God praat met jou uit elke bladsy van Sy Woord. Kan jy Sy stem hoor? Of voel dit soms dat jy die Skrif met jou verstand inneem, maar dit dring nie deur tot jou hart nie? Hierdie dagstukkieboek met 366 oordenkings lei jou om die gaping te oorbrug tussen die ewige, onveranderlike woorde in die Bybel en jou hartsbegeerte om in ’n verhouding te staan met die Een wat jou oneindig liefhet. R249,94.

Vroue van Atlantis

Saamgestel deur Anastasia de Vries en Eldrige Jason (Lapa Uitgewers)

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Hulle het besluit om nie moed op te gee nie. Hulle stories is dié van moed, optimisme en inspirasie. ’n Moet-lees vir elkeen wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kan maak. Die opbrengs van dié boek se verkope sal deur die Departement van Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaap (UWK) aangewend word vir studentebeurse. R195.

Sprinkaan leer werk

deur Wendy Maartens (Lapa Uitgewers)

Die miere werk hard. Hulle maak kos vir die winter bymekaar. Sprinkaan lag vir hulle. Hy lê eerder in die koelte. “Jy gaan spyt wees,” sê die mier. “Die winter kom!” ’n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee. Hierdie boekie is deel van die Ek lees self-reeks vir beginnerlesers deur Wendy Maartens met prag-illustrasies deur Zinelda McDonald. Die prettige stories sal ure se leesvermaak verskaf. Elke boek bevat ook nuttige wenke wat ouers kan help om kleingoed se leeslus aan te wakker. R50.

Gister is verby

deur Juanita Aggenbach (Human & Rousseau)

’n Deernisvolle verhoudingsroman oor borskanker en die invloed daarvan op verhoudings. Nadine se wêreld stort in duie wanneer ’n doodgewone doktersafspraak ’n skrikwekkende vonnis oplewer. Skielik moet sy nie net borskanker se aanslae op haar gesondheid, menslikheid en vroulikheid leer hanteer nie, maar ook die reaksies van haar vriendekring en haar man, Pierre. Hy soek desperaat na antwoorde en begin stelselmatig sy plek in hul verhouding bevraagteken. In Gister is verby wys die skrywer hoe geliefdes, te midde van talle struikelblokke, kan groei en saam sterk word. R260.

2018-02-01T09:59:12+00:00