Kuns van Lééf

Plant & blom

deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Ragfyn orgideë in sierpotte, voëls, vlinders, motte. Die botaniese stillewes van Kelly Higgs van Bryanston, Johannesburg pols met natuurlike skoonheid, kleur en bruisende lewe.

Die geil tuin is net buite die oop stoepdeure. Gladgesnyde grasperke en groen lower is sigbaar deur al die vensters van Kelly Higgs (40) se gesellige huis.

Teen die mure hang geraamde werke wat, nes die huisvensters, ’n kykie gee op die skepping en ’n skilder se pretensielose waardering van die natuur.

“Ek het niks diep oor my werk te sê nie,” erken Kelly. “Dit is suiwer dekoratief, alles wat pragtig is, met die fokus op die natuur. Die verstommende variasie, kleur, patrone en spesies wat jy oral ontdek, asook dinge wat vir my mooi en spesiaal is. My aanslag is speels en bevestig die lewe. Dit is ryk aan detail; die soort kuns wat by die meeste mense byval vind, suiwer gemik daarop om ’n ruimte mooier te maak.”

Kenmerkend van haar skilderye is dekoratiewe stillewes van bekende of eksotiese plante in ryklik geïllustreerde houers of antieke porseleinpotte, met besoekende voëls, insekte en skoenlappers. Op sommige potte word soogdiere soos apies en voëls uitgebeeld. Kyk mooi en jy merk ’n piepklein slakkie wat vertikaal teen ’n potwand seil. Verrassende elemente duik oral op; ’n aardvarktand, ’n gespikkelde voëleier wat haar seun aangedra het.

Kelly erken dat sy onder meer deur die verweefde patrone op outydse muurpapier geïnspireer is. Olieverf is nie haar medium nie, al het sy op skool in olie leer skilder. Sy verkies waterverf: “My kunsonderwyser kon my dit nie leer nie. Ek moes myself leer.”

Haar grootste prestasie, meen sy, is om wat sy sien en visualiseer geduldig en met presiese detail in haar skilderye te realiseer – ’n rykdom van inkleding wat ander haar beny.

Die seldsame

Kelly Higgs is gebore in Empangeni in Kwazulu Natal, waar haar pa met suikerriet geboer het. Die weelderige subtropiese plantegroei van die Suidkus was altyd deel van haar verwysingsraamwerk.

“Ek en my broer het dikwels met ons tekenboeke en vetkryt op die vloer in die sitkamer gesit en teken,” onthou Kelly. “Op agt het ek blomme, huise en mense geteken, nooit landskappe nie.”

As student aan die Durban Technikon het sy grafiese ontwerp studeer. Verder was daar altyd ’n passie vir binneversiering en blomme. “Ek was te arm om kuns te koop en wou twee groot skilderye vir die woonstel maak. Dit moes propvol wees van alles wat pragtig is; die blou en wit porseleinpotte van my kleintyd, orgideë wat toe baie seldsaam was, groot skulpe en skoenlappers.”

Kelly het ses maande lank aan die skilderye gewerk.

“Toe ek die werke neem om te laat raam, vra die ramer my of ek dit wil verkoop. Ek wou glad nie. Kort daarna bel hy my en vra wat ek as prys sou oorweeg. Ek sê toe maar R5 000 per skildery, om kopers af te skrik – dit was baie geld in die 1990’s. Ek was geskok toe hy my ’n halfuur later laat weet beide is verkoop. Ek was verlief op daardie skilderye, maar dit het nooit teen my mure gehang nie. Ek wonder steeds waar dit rondswerf. Ek het nooit die koper se naam geweet nie. Sou ek dit ooit kon opspoor?”

In dieselfde styl het Kelly nog werke geskep en alles ewe vinnig van die hand gesit. Aanvraag het gegroei. Sy het haar nis gevind en nooit teruggekyk nie.

Haar tante, Tessa Proudfoot, het Kelly se eerste solo-uitstalling in haar Johannesburgse woning gehou. “Tessa was my mentor en geesgenoot; sy kon my boonop voorstel aan vele kliënte. Alles het verkoop. Ek kon dit nie glo nie!”

Kelly het sewe jaar in Engeland op ’n weermagbasis gewoon saam met haar man, Giles Cutter. Hy is deesdae ’n logistiekbestuurder by Fuchs. Hulle het drie jong spruite: ’n dogter Lexi (9) en ’n tweeling, Gaby en Spencer (6).

In Engeland is haar kunshonger gevoed deur besoeke aan kunsgalerye soos die National Portrait Gallery in Londen. Voor sy getroud is, is van haar skilderye in ’n Londense galery opgeneem.

‘Dit moes propvol wees van alles wat pragtig is; die blou en wit porseleinpotte van my kleintyd, orgideë wat toe baie seldsaam was, groot skulpe en skoenlappers.’

Vir almal

Dit pla Kelly glad nie dat haar werk in kommersiële venues soos die Hyde Park-winkelsentrum uitgestal word nie.

“Alle soorte terloopse besoekers kry dit daar te sien, mense wat nie gewoonlik in kunsgalerye kom nie. Galerye kry boonop ’n groot deel van die verkope. Ek hou nie by met die aanvraag nie. Elke druppel van my hart en siel gaan daarin.

“Tydens my tweejaarlikse uitstalling in November 2017 het ek opmerkings gehoor soos: ‘Dit maak my net gelukkig!’ Dit is presies wat ek wil hoor en wat ek wil doen – mense gelukkig maak.

“Mense leun dikwels nader om beter te kan sien, om al meer detail en tegniek waar te neem. Dit kom van jare der jare wat ek my tegniek verfyn het – lewenslank, en voltyds die afgelope 15 jaar.

“Dis altyd die vroue wat die skilderye wil koop. Hul mans word weer geboei deur die tegniese afronding en detail,” beduie Kelly.

Haar skilderye is meestal portretgrootte. Soms pak sy iets groter aan. Sy verkies ’n neutrale wit agtergrond wat sterk kontrasteer met die delikate kwaswerk.

In die hoek van haar eetkamer pryk ’n lewensgrootte muurskildery van ’n natuurtoneel in die styl van Oosterse waterverfskilderye. “Ek kon nie die muurpapier bekostig nie, toe doen ek sommer my eie ontwerp direk op die muur.”

Die plante en voëls in haar werk is dikwels inheems. “Mense in Suid-Afrika ken hul voëls. Ek kry opdragte met spesifieke versoeke, soos om ’n plaaslike voël in ’n skildery in te werk.”

Antieke inspirasie

Toe Kelly die botaniese sketse van die wetenskaplike Maria Sibylla Merian van die sewentiende eeu ontdek, het sy geweet dis haar onderwerp. Ons blaai deur ’n boek oor die kunstenaar met kleurryke illustrasies van eksotiese plante en insekte, net so treffend as eeue gelede.

“Ek het haar oorspronklike sketse in Londen bestudeer en besef dis wat ek reeds doen! Maria het saam met verkenners op skeepsvaarte gegaan om plante en insekte te dokumenteer; sy was ’n pionier in die ontdekking van die lewenssiklus van die skoenlapper, wat sy in haar skilderye uitgebeeld het. Sy het ook dekoratiewe potte in haar werk gebruik, asook voëls en blomme.”

Botaniese skilders se tegniek oor die eeue was oorwegend realisties, detailgedrewe, hul werk moes dien as ’n rekord van die omgewing. Mettertyd het dit ontwikkel in ’n dekoratiewe kunsvorm.

Kelly verkneukel haar in ’n beskrywing van haar as “die rebel van die Suid-Afrikaanse Botaniese Kunstenaarsvereniging” (waarvan sy ’n lid is) omdat sy nie streng hou by die reëls van die formele kunsvorm nie.“Volgens die reëls van botaniese skilderwerk moet plante op ’n baie spesifieke manier uitgebeeld word.”

Sy hou net een keer elke twee jaar ’n uitstalling omdat dit haar lank neem om genoeg werke te skep. Ná elke tentoonstelling neem sy ’n ruskans. Tussendeur is daar steeds vele opdragwerke wat haar besig hou.

Toekomsplanne sluit in botaniese ontwerpe op materiaal en vir ’n reeks porseleinware en teestelle. Sy is ’n liefhebber van Wedgewood-porseleinware. In Maart vanjaar besoek sy Engeland – “wanneer die pienk magnolias blom!” – om te gaan kyk na haar materiaalontwerpe wat sy vir die Britse maatskappy Zoffany gedoen het.

“Die Sanderson-moedermaatskappy het my destyds op ’n toer van hul argiewe geneem. Ek moes eers deur James Bond-agtige tegnologie geskandeer word voor ek eeue van papiere, kunswerke en ontwerpe kon aanskou – asemrowend! ’n Ongelooflike ervaring.”

‘Mense leun dikwels nader om beter te kan sien, om al meer detail en tegniek waar te neem.’

Skoonheid kring uit

Kelly werk drie tot vier weke aan ’n groot skildery.

“Ek neem foto’s en soek verwysings in die boeke wat ek versamel het; soos klassieke blom-illustrasies. Ek snuffel op Google Images. Vir elke element kry ek verskeie verwysings wat ek bestudeer. ’n Regte blom bly die beste voorbeeld. Uiteindelik skep ek my eie interpretasie van ‘n blom; ek teken nie bloot af nie.

Sy droom van ’n eie ateljee. “Ek werk waar die lig goed is, in die eetkamer of sitkamer. Dit neem my ’n halfuur om by ’n tafel op te stel. Gewoonlik werk ek soggens vir vier ure wanneer die kinders by die skool is. Dan luister ek graag na outydse musiek, rustige, aangename, klassieke liedjies.”

’n Poskaartgrootte potloodskets dien as uitleg waarop elke element haarfyn beplan en kortliks opgesom word.

“Die beskrywings herinner my aan wat ek wil bereik. Ek begin altyd met die pot en bou dan stadig die ander besonderhede op. Ek maak die kleure sag en intens, nooit wishy washy nie. Die voorgrond kom eerste, dan werk ek agtertoe vir ’n driedimensionele effek.”

In haar handel en wandel bly sy bewus van besondere plante; immer op die uitkyk vir bloeisels, blare, stingels, mooi voorwerpe wat sy kan gebruik – by bloemiste, die bloeisels aan bome in tuine.

“Onlangs was ek saam met my man op Dullstroom, waar hy met kunsvlieë gehengel het. Ek het heeltyd selfoonfoto’s van wilde blomme geneem.”

Tydens ’n tuinparty was sy vasgenael deur ’n massiewe donkerpienk bougainvillea. “Dit het my oorweldig, ek kon nie ophou daarna staar nie. Ander mense het dit nie eens opgemerk nie, maar vir my was die struik oorweldigend, ’n ontploffing van kleur.

“So het ons elkeen ’n persoonlike belangstellingsveld in die lewe. Ek het iewers gelees dat dit waarop jy fokus, aanhou uitkring. Hoe meer jy daaroor tob en daarmee werk, hoe meer begin jy dit oral om jou oplet.”

2018-02-15T09:58:06+00:00