Lééf mooi

Jou mooiste dag

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Dis jóú dag – en jy skitter. Elke bruid wil op haar troudag mooi en spesiaal voel. Voorbereiding vir jou troue begin reeds maande voor die tyd, en dieselfde geld vir jou voorkoms.

Dis wys om vroegtydig aandag aan jou vel te gee en te let op wat jy eet. Dis nie net jou haarstyl en grimering wat belangrik is nie. ’n Stralende bruid is gesond, uitgerus en goed versorg. Elke bruid behoort met ’n suiwer vel, netjies geplukte wenkbroue, ’n vleiende haarstyl, keurige grimering, fyn versorgde hande en voete en ’n sagte, gladde lyf te kan spog.

’n Vel soos porselein

Jou vel is jou liggaam se grootste orgaan en vra vir sagte sorg. Troetel ’n dowwe vel daagliks met ’n serum wat die vel verhelder. Beskerm teen sonskade met ’n SPF-room en sorg dat jy minstens twee keer per week ’n skroproom en masker aanwend. Daar’s talle vogrome op die rak wat help om jou vel blosend mooi te laat lyk. Onthou, ’n vogtige vel is ’n sagte vel.

’n Bruid behoort haarself voor haar troue met ’n reeks skoonheidsbehandelinge by ’n professionele salon of spa te laat bederf. Besoek reeds die salon ’n maand of drie vooraf vir ’n gesigsbehandeling. Dit laat genoeg tyd om enige probleme op te klaar. Stel die terapeut in kennis van jou troudatum en vra haar om ’n behandelingsplan voor te stel om jou vel op jou groot dag te laat straal. ’n Blosende, stralende vel op jou troudag is waarna jy streef. ’n Reeks afskilferingsbehandelinge wat daarop gemik is om die vel se dooie boonste lagie te verwyder is aan te bevele. Die tipe behandeling verlewendig die vel en laat dit sag en blosend lyk.

Gesels met jou terapeut as jy met pigmentasie of aknee sukkel sodat sy die regte behandelinge en produkte vir jou kan aanbeveel. ’n Gesigsbehandeling moet nooit kort voor of op die troudag gedoen word nie.

Jou hare, jou kroon

Jou haarstyl is ’n belangrike komponent van jou voorkoms op jou troudag. Die styl van jou rok is bepalend as dit kom by jou haarstyl vir die dag. Gesonde en blink hare is ’n moet. Begin reeds maande voor die troue jou hare behandel en versorg. Kies ’n sjampoe en opknapper wat geformuleer is om ’n verskil aan jou hare se tekstuur of voorkoms te maak. Laat jou hare gereeld in ’n mooi styl sny en raak van dooie punte ontslae. Span die voedende krag van ’n haarmasker in om te sorg dat jou kroon op sy beste lyk. Kleur as jy wil. Dit swel die haarskag en laat die hare voller lyk.

Kies ’n haarstilis met wie jy gemaklik voel. Skeur ’n paar prente uit tydskrifte of versamel foto’s van mooi haarstyle op Pinterest om vir jou stilis te wys wat jy in gedagte het. Dis belangrik dat jou haarstyl die styl van jou rok komplimenteer. Onthou, jou voorkoms op die groot dag moet ’n pragtige geheel vorm. Geen element moet uitstaan of aandag aftrek van die volledige prentjie nie. ’n Oefenlopie is ’n moet. So verhoed jy onaangename verrassings (en groot drama) op jou troudag. Neem ’n foto van jou rok, asook (indien moontlik) jou sluier en hooftooisel saam vir die stilis om mee te werk.

Die tekstuur en aard van jou hare speel ’n rol as dit kom by die keuse van haarstyl. Hou in gedagte dat ’n sagte blomkransie of tooisel wat laag oor die voorkop hang ’n hoë voorkop wegsteek. Hare wat uit die gesig gedra word, beklemtoon jou mooi gelaatstrekke, nek en skouers. ’n Haarsproei hou fyn haartjies op hul plek. Spuit die hare liggies met ’n glansmiddel om dit te laat blink. Ligstrepies in verskillende sagte skakerings verleen beweging en tekstuur aan ’n opgekamde styl. Hare wat effens oor die gesig val versag jou voorkoms. Tem krullerige hare met die regte produkte. Spog gerus met jou krulle op jou groot dag! Oorweeg ’n haarstuk as jou hare fyn is of nie lank genoeg is vir die styl wat jy in gedagte het nie. Gebruik ’n haarbandjie van pêrels of ’n byderwetse kroontjie om jou hare in plek te hou en om jou haarstyl mee af te rond.

Pragtige grimering

Grimering in natuurlike skakerings wat slim en oordeelkundig aangewend is, skep ’n mooi versorgde voorkoms en help om gelaatstrekke te beklemtoon. Dra onderlaag in ’n skakering wat perfek by jou velkleur pas – dit is die sleutel tot ’n porseleinmooi vel. Wend verbloemroom aan onder die oë. Vorm die wenkbroue en kleur dit liggies in. Oogomlyner word gebruik om die oë te beklemtoon. Rond af met maskara aan die boonste wimpers om die oë oper te laat lyk. So verhoed jy ook dat swart merke onder die oë vorm deur maskara wat afsmeer. Kies ’n sagte blosser en ’n lipstiffie wat jou tande witter laat lyk en jou gelaat verhelder.

Dis altyd veiliger vir die bruid om die dienste van ’n professionele grimeerkunstenaar te gebruik aangesien hulle oor die regte kennis en produkte beskik om jou op jou mooiste te laat lyk. Die regte grimering is veral belangrik vir die troufoto’s. Dis noodsaaklik om die korrekte skakering onderlaag te dra om te keer dat jou gesig bleekwit of onnatuurlik op die foto’s lyk.

Volg dié raad as jy verkies om jouself te grimeer:

  • Bly weg van ’n ligweerkaatsende onderlaag. Dit belemmer die foto’s wat van jou geneem word.
  • Kies eerder ’n matt onderlaag wat presies by jou veltoon pas.
  • Maak seker dat die styl van die grimering by jou rok en hooftooisel pas.
  • Beklemtoon óf die oë óf die mond, nie albei nie.
  • Kies eerder warmer as koel grimeerkleure.
  • Hou lipstiffie en poeier byderhand om jou grimering mee op te knap.
  • Dra altyd watervaste maskara, bruide is geneig om by die seremonie ’n paar trane te stort.
  • Gebruik ’n verbruiningspoeier, eerder as blosser, vir ’n gesonde sonbruin voorkoms.
2018-02-01T09:20:56+00:00