Boekuittreksel

’n Stem in die wind

Deur Francine Rivers

In ’n eeu-oue kultuur, skrikwekkend eenders as die hedendaagse moderne Amerika, veg ’n jong slavin om die behoud van die mense en die man wie sy liefhet. Verskeur deur haar liefde vir ’n aantreklike jong edelman probeer sy desperaat aan haar geloof in ’n lewende God vashou; ’n God wat sy glo hulle kan verlos van die verslawende mag van ’n dekadente Rome.

Hierdie meesterlike en opwindende roman uit die pen van die gewilde skrywer Francine Rivers is bestem om tot die hart te spreek van elkeen wat dit lees. Die boodskap is een van waarheid en hoop in ’n wêreld vol leuens en wanhoop.

Uittreksel

Dis bloedig warm en die stil stad lê opgeblase in die son en vrot. Buite die stadsmure skuil die Dood saam met Titus, seun van Vespasianus, en sestigduisend soldate wat angstig wag om die stad van God te plunder.

Hadassa bly in die klein huisie, hoor die verskrikking van wat net buite hulle ongeslote deur gebeur. ’n Man hardloop gillend in die straat af. “Hulle het op die muur geklim!”

Toe Markus uitgaan om te gaan kyk, word Lea histeries. Hadassa gaan na haar suster en hou haar styf vas. Syself voel na aan histeries, maar dit kalmeer haar om haar jonger sussie te vertroos.

“Alles sal regkom, Lea. Wees stil.” Haar woorde klink sinneloos in haar eie ore. “Die Here kyk na ons,” sê sy en streel sag oor haar sussie.

’n Litanie van vertroostende leuens, want die wêreld om hulle is besig om te verkrummel. Wat sal van hulle word?

Hadassa probeer dit uit haar gedagtes ban, maar die geluid van die dood is orals. Haar moeder het gesterf toe Jerusalem ingeneem is, en vir twee dae het Hadassa, Markus en Lea gewag, geweet dat die Romeine hulle een of ander tyd sou bereik en vernietig soos hulle alles en almal vernietig.

Iemand vlug in hulle nou straatjie af. Ander mense gil terwyl hulle genadeloos doodgesteek word. Hadassa wil opspring en weghardloop, maar waarheen kan sy gaan? En wat van haar sussie en broer? Sy skuif verder terug in die donker skaduwees van die klein vertrekkie en hou Lea vas.

Nog manstemme. Harder. Nader. Iewers naby word ’n deur oopgebreek. Binnekant gil mense. Een vir een word hulle stilgemaak. Swak en uitgeteer, sukkel Markus orent en gaan staan voor die deur terwyl hy woordeloos bid. Hadassa se hart klop swaar, haar leë maag kramp in ’n bal van pyn. Sy hoor manstemme in die straat. Die woorde is Grieks, die toon vol veragting. Een man beveel dat die volgende huise deursoek moet word. Nog ’n deur word oopgebreek. Nog gille.

Die geluid van spykerskoene kom tot voor hulle deur. Hadassa se hart klop wild. “O, God … ”

“Maak toe jou oë, Hadassa,” sê Markus, en daar is ’n vreemde kalmte in sy stem. “Dink aan die Here,” sê hy toe die deur oopbars. Markus uiter ’n harde, gebroke geluid en val op sy knieë neer. ’n Bebloede swaardpunt steek deur sy rug en sy grys kleed vlek rooi. Lea se hoë gille vul die klein kamer.

Die Romeinse soldaat skop Markus terug, trek sy swaard uit die lewelose liggaam.

Hadassa kan nie ’n geluid uitkry nie. Sy kan nie beweeg nie, staar net na die man, sy harnas vol sweet en haar broer se bloed. Sy oë glinster deur sy helmmasker. Toe hy vorentoe tree en sy bloederige swaard lig, beweeg Hadassa vinnig en sonder om te dink. Sy druk Lea af en val bo-oor haar. O, God, laat dit gou verby wees, bid sy. Laat dit vinnig wees. Lea bly stil. Die enigste geluid is die soldaat se onsamehangende asemhaling en die gille laer af in die straat.

Tertius se greep om sy swaard verstyf en hy gluur na die maer meisie wat bo-oor die kleiner een lê. Hy behoort hulle albei dood te maak en dit agter die rug kry!

Die ouer meisie kyk op na hom, haar donker oë vol vrees. Sy is so klein en maer, behalwe vir daardie oë, te groot vir haar aswit gesig. Iets aan haar tap die moordende krag uit sy arm. Sy asemhaling word rustiger, sy hart klop stadiger.

Hoekom huiwer hy dan nou? Is dit jammerte vir ’n smerige Jodin? Dit sal meer genadig wees om haar dood te maak en haar uit haar ellende te verlos. Sy is so maer dat hy haar met ’n asemteug kan omblaas. Hy gee nog ’n tree na haar toe. Hy kan albei meisies met een steek doodmaak …

Tertius se hart draai om en hy voel swak. Hy trek sy asem in en blaas dit skerp uit. Met ’n vloek druk hy sy swaard in die skede aan sy sy. “Julle sal lewe, maar julle sal my nie daarvoor bedank nie.”

“Waarheen vat ons die gevangenes?” roep Tertius vir ’n soldaat wat besig is om die dooies te skei. Die soldaat kyk op na Tertius en loer vlugtig na Hadassa en Lea. “In daardie straat af en om deur die groot hek, maar ek weet nie wat sukkel jy met daardie twee nie.”

… Uiteindelik kom die soldate en beveel dat die gevangenes in ’n ry moet staan om hulle rantsoene van koring en gort te ontvang. Hadassa kom swakkies orent en staan in die lang ry, oortuig dat sy weer kos geweier gaan word. Trane brand in haar oë. O, God, God, doen soos U wil. Toe dit haar beurt is, hou sy haar hande bak en wag om weggestamp te word. Maar goue korrels rol uit die skepgraaf tot in haar palms.

Sy kan amper haar moeder se stem hoor. “Die Here sal voorsien.”

Hadassa gaan sit teen die heuwel. Sy is eenkant, alleen in haarself gekeer. Sy buig haar hoof en hou die kosbare koring styf vas. Emosie wel in haar op “Hoekom ek, Here?” vra sy terwyl sy saggies huil. “Hoekom ek?”

’n Stem in die wind deur Francine Rivers word uitgegee deur CUM Christelike Uitgewersmaatskappy.

Wen!

Twee gelukkig lesers kan elk ’n kopie van ’n Stem in die wind deur Francine Rivers wen. Stuur jou naam, kontakbesonderhede en posadres saam met die antwoord op die onderstaande vraag aan navrae@leef.co.za. Sluitingsdatum: 28 Februarie 2018.

Deur watter uitgewer word die boek uitgegee?

2018-02-01T10:08:42+00:00