Boekgesprek

Lééf gesels met skrywer, Lizettte Murray, oor haar jongste boek Stilword by God – ‘n Bybelstudie.

‘Ons lewe is soos ’n huis met baie vensters, en net soos ons deur die vensters kan uitkyk na buite, kan mense deur die vensters in ons lewens inkyk.’

In hierdie nuwe boek deur Lizette Murray word daar gefokus op vier vensters wat verskillende aspekte van ’n mens se lewe verteenwoordig:

  1. Die venster op rus – om rus, troos en bemoediging by God te vind.
  2. Die venster op vrug en vrede – dienswerk.
  3. Die venster op leef en liefhê – naasteliefde.
  4. Die venster na die straatkant – waar ons lewe ons verhouding met God weerspieël.

Dié Bybelstudieboek lei jou tot geestelike groei en insig in jou eie menswees en word daar onder meer in elkeen van die 24 studies vrae aangebied waaroor jy kan nadink of met ander kan bespreek om sodoende die beginsels in die boek jou eie te maak.

Vraag: Lizette, vertel vir ons waar jou liefde vir skryf vandaan kom?

Antwoord: Woorde het my gefassineer voordat ek kon lees. En die oomblik toe ek self kon lees, wou ek skryf. Ek het my eerste rêrige storieboek present gekry toe ek sewe jaar oud was. Ek was in verwondering en het dit oor en oor gelees totdat ek die hele boek uit my kop kon opsê. Ek onthou die slotwoorde van die boek nog: Eindelik is dit doodstil in die bos, want alles en almal slaap. Ek het toe besluit: Ek wil ook mooi maak met woorde.

Vraag: Is daar dinge wat jou inspireer om te skryf?

Antwoord: Wanneer ek iets besonders lees, word ek geroer deur die skoonheid van woorde wat reg ingespan is en dit wat ek ervaar, so presies kan weergee. Ek het geleer om fyn waar te neem en in die oomblik te leef. Die kleinste dingetjie kan ’n skryfprikkel wees. ’n Gevoel of gewaarwording of klank. Of deur bloot na die skepping of mense en situasies te kyk.

Vraag: Kom skryf vir jou maklik?

Antwoord: Vir my is dit die maklikste om iets te identifiseer waaroor ek wil skryf. Selfs wanneer ek ’n opdrag-skryfstuk kry, begin ek onmiddellik rondspeel met idees oor hoe ek dit sal aanpak. Om dit op papier te kry, is moeilik – en my eerste paragraaf is gewoonlik die heel moeilikste. Dit bepaal hoe die res gaan ontplooi.

Vraag: In die boek Stilword by God beskryf jy dat ons lewe soos ’n huis met baie vensters is en fokus jy dan ook in die boek op vier sulke vensters – vertel vir ons meer oor die betekenis van hierdie vensters.

Antwoord: Net soos elke venster van my huis ’n ander prentjie op die wêreld daarbuite het, so is daar verskillende geestelike waarhede waaroor ons insig kry wanneer ons ons binne-oog daaroor laat gaan. In die eerste afdeling, Venster op rus, fokus ek op Skrifgedeeltes wat die leser te midde van ’n oorlaaide lewe by God tot rus kan laat kom. Die afdeling, Venster op vrug en vrede, konsentreer op geestelike groei en vrugdra deur die Gees. Hier behandel ek onderwerpe soos erbarming, nederigheid en dankbaarheid. In die derde afdeling, Oop vensters op leef en liefhê, kyk ek na Liefde as die groot gebod en lei die leser tot die insig dat liefde tuis begin en vandaar af uitkring na buite. Ek behandel onderwerpe soos gasvryheid. In die laaste afdeling, Venster na die straatkant, wil ek die klem laat val op hoe ons na buite lewe. Van die onderwerpe waaroor ek skryf, is “Met God op reis” en “Kortpad. Langpad. Regte pad”.

Vraag: Wie het jy in gedagte gehad toe jy die boek geskryf het?

Antwoord: My oogmerk was dat dit as hulpmiddel by persoonlike stiltetyd, sowel as Bybelstudie- en selgroepe gebruik kan word. Ek sou wou sien dat enige iemand met ’n besige program rustig en op sy/haar eie tyd deur die boek kan werk. Bybelstudiegroepe kan gerus langer as ’n week aan een stukkie afstaan. Dis nie ’n boek om haastig deur te jaag net om dit af te handel nie. Ek wil eerder hê dat die gedeeltes persone sal laat nadink en aanspoor om dit wat hulle raak, in die praktyk toe te pas. Ek het by elke hoofstuk anekdotes en aanhalings ingewerk waaraan die leser deur die loop van ’n dag of week kan terugdink.

Vraag: Hoekom dink jy is dit belangrik vir mense om elke dag stil te word saam met God?

Antwoord: Wanneer ’n kind van God ’n dag sonder Hom ingaan, ontneem jy jouself van seën. Dikwels kom die woorde van jou oggend se stilword deur die loop van die dag terug na jou. Jy kan nie vooraf weet wanneer jy ’n woord van krag of troos vir jouself of iemand anders gaan nodig kry nie.

Vraag: Wat leef in jou hart oor hierdie boek?

Antwoord: My gebed is dat dit lesers sal aanmoedig om daglank in God se teenwoordigheid te vertoef. Hy moet deel van ons asemhaling wees, nie net van formele afspraaktye nie.

Vraag: Was daar vir jou uitdagings verbonde aan die skryf van hierdie spesifieke boek?

Antwoord: Dit was ’n heerlike proses om visueel te dink aan hoe my Christenskap vanuit ’n intieme binnekant (huis) begin en hoe dit uitkring na alle aspekte van my lewe. Die skryf van die boek het my weer daaraan herinner dat Christenskap ’n opdrag is, nie net ’n terugsit op die rusbank en vandaar passief uitkyk by ’n venster nie. Die uitdaging het daarin gelê om hierdie gedagtes in sinvolle stukkies om te sit wat ook vir ander mense iets kan beteken en ’n appèl op hul lewe as Christene maak.

Lizette Murray het in Stellenbosch en die Paarl grootgeword. As onderwyseres en ma van vyf seuns ken sy die hart van ’n kind. Sy is die medeskrywer van ’n bekroonde kinderboek. Ná die dood van haar middelseun begin sy die rubriek “Henri stap aan” in Lééf – met hart & siel. In 2008 word hierdie rubrieke as boek uitgegee. Lizette is tans ’n vryskut-skrywer vir Lééf – met hart & siel en behartig ’n paar rubrieke in dié tydskrif, onder andere “My hart se punt”, wat deur CUM-uitgewers as bundel uitgegee is. Haar huwelik met George, ’n bedryfsingenieur, is vir Lizette ’n veilige hawe – en steeds ’n avontuur.

Stilword by God – ’n Bybelstudie word uitgegee deur CUM Christelike Uitgewers. Besoek www.lizettemurray.co.za of bestel jou kopie by ???

2018-02-02T10:24:42+00:00