Lééf mooi

Weg met selluliet!

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Volg dié maklike 10-puntplan teen selluliet en verbeter die voorkoms van jou lyf dramaties.

Selluliet is nie sommer iets wat mens kan weg wens nie. Navorsing dui daarop dat selluliet te make het met die struktuur van die bindweefsel onder die dermis. Blykbaar is die samestelling van hierdie weefsel by vroue meer oneweredig en swakker as wat die geval is vir mans. Die onderliggende vetweefsel word dus makliker na die velopppervlak gestoot – vandaar die oneweredige lemoenskilvoorkoms.

Wat ook al selluliet veroorsaak, of dit nou hormone of die aard van die vetselle en bindweefsel is, dit bly ’n probleem waarvan diegene wat daarmee sukkel, graag ontslae wil raak.

Hoewel jy waarskynlik nooit heeltemal van selluliet ontslae sal raak nie, is die goeie nuus dat die voorkoms daarvan wel drasties verbeter kan word, Dit verg egter aandag, toewyding en heelwat geduld.

Te min of geen oefening kan tot die vorming van selluliet bydra. Lae bloedsirkulasie keer die uitskeiding van gifstowwe.

Volg ons 10-puntplan en jy sal self agterkom watter verskil dit maak.

  1. Drink meer water. Dit help om gifstowwe uit te spoel wat in die liggaam saampak. Besoedeling, rook swak eetgewoontes en selfs stres veroorsaak dat gifstowwe onnodig in die liggaam opgaar. Een van die noodsaaklike funksies van vetselle is om die lewensorgane teen gifstowwe te beskerm. ’n Opbou van gifstowwe veroorsaak water retensie en vererger die voorkoms van selluliet. Drink soggens, net nadat jy wakker geword het, ’n koppie warm water met ’n skyfie suurlemoen daarin. Dit bespoedig die uitskeiding van gifstowwe en kan jou eetlus help beheer.
  2. Eet gesond. Selluliet kom by vet en maer mense voor. As jy oorgewig is, sal dit help om van oortollige gewig ontslae te raak. Vermy vetterige kos en soetgoed. Eet minder sout. Te veel sodium veroorsaak water retensie. Onthou, ’n gebalanseerde eetprogram is die sleutel tot gesonde en reëlmatige gewigsverlies.
  3. Verbeter jou spysvertering. ’n Paar kleiner maaltye deur die loop van die dag kan help om jou spysverteringstelsel aan die gang te hou. Drink minstens agt glase water per dag. Maak seker dat jy genoeg ru-vesel inneem. Semels en pruimedante is die natuur se lakseermiddels. Eet stadiger en kou kos deeglik. Dit gee die spysverteringstelsel summier ’n hupstoot.
  4. Hou op rook en drink minder alkohol en kafeïendrankies. Rook beroof die liggaam van vitamien C, wat noodsaaklik is vir die gesonde produksie van kollageen, die bindweefsel wat die vel en spiere ondersteun. Nikotien belemmer ook sirkulasie. Alkohol en kafeïen hou vog in die liggaam terug wat die voorkoms van selluliet kan vererger.
  5. Wat van oefening? Te min of geen oefening kan tot die vorming van selluliet bydra. Lae bloedsirkulasie keer die uitskeiding van gifstowwe. Oefening bevorder sirkulasie en kan selfs help met hardlywigheid.
  6. Borsel jou lyf. Drooglyf-borsel en afskilfering hou die vel soepel en glad. Dooie selletjies moet van die oppervlak van die vel verwyder word om dit sag en mooi te hou. Net dan kan die vel homself vernuwe en gesond gloei en lewe. Borsel jouself van kop tot toon met ’n lyfborsel van natuurlike vesel. Borsel in ligte opwaartse hale oor jou lyf terwyl dit droog is. Dié vinnige borselbewegings stimuleer die limfstelsel en hou die vel glad. Probeer Optiphi Body Curve Body Foliant Double-Action Skin Revealing Exfoliant. 
  7. Massering is ’n moet. Massering verbeter jou welstand en verbeter bloedsomloop. Suurstof wat deur verbeterde bloedsomloop gesond deur die liggaam beweeg en selle voed, is goed vir jou. Dit is ook ’n maklike manier om van stres ontslae te raak.
  8. Gebruik elke dag ’n middel teen selluliet. ’n Room of jel wat daagliks op die aangetaste dele van die lyf gesmeer word, verbeter die voorkoms van die vel en verferm die lyf. Dit werk beslis, solank jy aanhou om dit te gebruik.
  9. Deskundige salonbehandelinge bied ’n kortpad na ’n fermer lyf. ’n Reeks salonbehandelinge sal beslis help. Daar is talle behandelinge beskikbaar wat gevorderde tegnologie inspan om selluliet te takel. ’n Reeks behandelinge is egter noodsaaklik. Probeer gerus die nuwe BTL X-Wave-masjien. Hierdie behandeling is doeltreffend en span die vibrasies van akoestiese golwe in om suurstoftoevoer te verhoog en die metaboliese tempo te versnel. Probeer andersins ’n reeks Patricia Clarke-kokonbehandelinge waar die liggaam twee maal per week toegedraai word in spesiale verbande nadat ’n hoogs-aktiewe jel aan die lyf gesmeer word.
  10. Permanente oplossings. In ernstige gevalle kan ’n besoek aan die sjirurg oorweeg word. Doen deeglike navorsing oor die dokter se werk en metodes voordat jy tot behandeling instem. Maak ’n ingeligte besluit voordat jy enige drastiese stappe neem. Ook laser word deesdae in die behandeling van selluliet ingespan.
2017-12-01T10:06:26+00:00