Lééf gesond

Teen ’n prys

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Maak só korte mette met onvoorsiene mediese uitgawes. ’n Paar kenners gee raad oor hoe om mediese kostes en fondstariewe oopkop te benader.

Mediese uitgawes kan ’n onverwagse las word. Ernstige beserings of siekte kan jou honderde duisende rande uit die sak jaag. Die rede vir hoë mediese kostes is tweevoudig. In die eerste plek bly mediese premies verhoog as gevolg van mediese inflasie wat oor die afgelope vyf jaar met ongeveer 13% gestyg het. In die tweede plek oorleef meer mense ernstige siektes as ooit tevore.

Volgens Jaco Visagie, direkteur en finansiële raadgewer by FinSafe, toon statistieke dat meer as 50% van alle mans en 65% van alle vroue wat met kanker gediagnoseer is, met behulp van die regte behandeling nou jare langer leef as tevore. Navorsing deur die Britse Hartstigting het gewys dat persone met ernstige hartkwale tot 10 jaar langer as voorheen leef. Hoewel dit uitstekende nuus vir pasiënte en hul families is, dui langer lewensduur op langer behandelingsperiodes wat weer hoër premies tot gevolg het.

Volgens Wikus Olivier, ’n skuldbestuur-kenner by DebtSafe, is mediese onkostes een van die hoofredes vir skuldprobleme by die verbruiker. Hierdie is dikwels gevaarlike skuld waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie.

Volgens Jaco is daar maniere om hierdie moontlike skuldlas pro-aktief te benader. “Elke gesin behoort ’n finansiële plan in plek te hê om onvoorsiene mediese uitgawes te dek. Dit is maklik, maar nie wys om hierdie tipe uitgawes in moeilike tye te sny nie.”

Maar hou die volgende in gedagte:

  • Doen jou huiswerk en weet hoeveel jy nodig het om te spaar vir mediese bybetalings vir sekere prosedures.
  • Hoe vergelyk die tariewe wat deur jou mediese fonds betaal word met die tariewe van dokters en spesialiste?
  • Kyk uit vir ’n jaarlikse hospitaalplan met onbeperkte hospitaaldekking as jy dit kan bekostig.
  • Gee spesiale aandag aan die onkologiese voordele wat deur jou mediese fonds gebied word, asook jaarlikse limiete en onkostes waarvoor jy verantwoordelik is en ander bybetalings.
  • Kyk na die ambulansdienste wat deur jou mediese fonds gebied word en ook waarvoor jy hier verantwoordelik gehou sal word.

Wikus stel voor dat jy met ’n skuldberader gesels as jou mediese rekeninge uitermatig hoog is en jy in die skuld daaroor beland. ’n Skuldberader kan van groot hulp wees om namens jou, indien nodig, met skuldeisers te onderhandel.

Niemand kan siekte of beserings voorspel nie, maar jy kan wel daarvoor beplan. As jou huidige mediese onkostes jou finansiële welstand bedreig, behoort jy dadelik die hulp van ’n geregistreerde finansiële beplanner in te roep. Moenie wag totdat dit te laat is nie.

Baie mediese fondse bied ’n afslag vir die gebruik van sekere mediese praktisyns en hospitale wat binne hul netwerk val.

Kyk voor jy hernu

Dit is uiters noodsaaklik om ’n deeglike studie te maak van die voordele wat jou mediese fonds inhou, voordat jy jou lidmaatskap vir nog ’n jaar hernu. Voordele word dikwels van jaar tot jaar aangepas. Moenie bloot net aanvaar dat voordele dieselfde sal bly as die vorige jaar nie. Volgens Jill Larkin, hoofgesondheidsorgkonsultant by GTC Healthcare, ’n finansiële raadgewende maatskappy, is dit verbasend om te sien hoe min mense werklik genoeg aandag gee aan die veranderende voordeelvlakke van hul mediese fonds.

“In 2018 sal die styging in mediese fondstariewe bo die inflasiekoers wees, terwyl die voordele nie noodwendig dienooreenkomstig aangepas word nie en selfs verlaag kan word” sê Jill.

Jill beveel aan dat jy jouself dié ses eenvoudige vrae afvra om sodoende ’n ingeligte besluit oor jou mediese fonds te kan neem:

  1. Verwag jy groot mediese onkostes in die jaar wat voorlê?

Kindergeboorte, operasies en spesiale tandheelkundige prosedures beteken dat jy die samestelling van jou mediese fonds deeglik sal moet evalueer.

  1. Sal jy ’n netwerk oorweeg?

Baie mediese fondse bied ’n afslag vir die gebruik van sekere mediese praktisyns en hospitale wat binne hul netwerk val. Kyk gerus na die lys van dokters en hospitale wat jou mediese fonds bied om te sien of dit vir jou kan werk of nie.

  1. Was jou mediese spaarplan die afgelope jaar voldoende?

Dit is belangrik om te kyk na wat jy die afgelope jaar spandeer het. As jou spaarplan reeds teen Maart uitgeput was, is dit nodig om voorsiening te maak vir of ekstra spaargeld óf ’n opgradering van jou premie te oorweeg.

  1. Hoeveel kan jy bekostig om te betaal in die jaar wat kom?

Vergelyk die nuwe premie met jou inkomste. Kyk goed na wat jy in die verlede spandeer het, na jou voordele en na wat jy kan bekostig.

  1. Het jou mediese fonds jou ingelig oor veranderinge?

Maak ’n deeglike studie van alle kommunikasie en veranderinge. Roep die hulp van ’n finansiële raadgewer in indien nodig.

  1. Teen wanneer moet jy ’n besluit neem?

Maak seker jy weet wat die afsnydatum vir aanpassings en veranderinge is en sorg dat jy die nodige dokumente betyds inhandig.

2017-12-01T10:02:56+00:00