Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Wanneer ons tyd maak om die lewe deur ons siel te laat vloei, beleef ons die wêreld soveel anders. En lééf ons soveel meer.

In ons haastige bestaan kan ons so maklik die eenvoudige lekkertes van die lewe by ons laat verbygaan. En dan mis ons dikwels die skoonheid van dié dinge wat ons werklik laat leef. Soos om die weerlose blaartjies van ’n blom te sien en te besef dat sag- en brooswees mooi kan wees. Om te ervaar hoe die grootsheid van die berge met jou praat en toe te laat dat dit jou herinner aan die een wat elke plek gemaak het. Om ’n klein insek dop te hou en weer te verstaan dat ons almal – hoe gering ook al – deel uitmaak van ’n groter geheel.

Jy het heel jaar gewoel. Beskou nou hierdie vakansie- en Kerstyd as ’n geskenk uit jou Vader se hand; ’n rustyd waarin jy weer tot verhaal kan kom en opnuut die eenvoudige kosbaarhede van die lewe kan geniet. Maak dikwels tyd vir jou siel, vir stilword, vir gesels met jou Vader… vir luister.

Voel hoe die wind deur jou hare speel, drink jou omgewing in en koester die lekker warmte van die somerson op jou vel. Maak tyd om jou liefhê-mense regtig raak te sien en met sagtheid oor hul hart te streel. Vul hul lewe met jou deernis, omgee-liefde… en soms selfs met onverdiende vergifnis.

En wanneer jy die blink liggies van die Feestyd sien, hoor dan hoe vrolik die hemelklokke oor jou jubel en leef dan met vreugde omdat jy opnuut besef dat jy – danksy die Kripkind – ’n uitgesoekte Koningskind is.

Danksy die Lig…

Haar lyf was moeg en seer en die strooi onder haar stekelrig ongemaklik. Maar Maria het nie daaroor gekla nie. Want in haar siel het ’n vlam van liefde gebrand waardeur sy die lewe anders gesien het. Sy’t onthou hoe groot die God is wat haar gekies het om Sy Seun in die wêreld te bring. Sy’t onthou dat hierdie Seun die Verlosser van die wêreld – ook van haar – is. Sy’t te midde van die min om haar ’n stukkie hemel op aarde beleef.

Mag die Lig ook jóú hart verlig en jou help om met nuwe oë na die wêreld rondom jou te kyk. Om elke faset daarvan sommer net te geniet… om werklik te lééf.

Voluit méns
Here, ek besef vandag
dat ek kan kies
om ’n vaal bestaan te voer
óf om die lewe
in al sy volheid
te geniet.
Skep in my hart
in hierdie tyd
’n helder somerkersfees
waarin ek weer
U grootheid rááksien,
U goedheid belééf
en U genade omhéls.
Laat U liefde oor my skyn,
U vrede in my tuiskom en
U deur my straal.
Boodskap: “Kom kyk wat die Here alles op die aarde doen…Wees stil en weet Ek is God” Psalm 46:9,11
2017-12-01T11:05:23+00:00