Lééf in oorwinning

Om die verlede te vergeet

Deur Riëtte Grobler | Foto’s Hanneri de Wet

Amanda de Lange is as agtjarige dogtertjie deur ʼn familielid verkrag. Vir jare na dié traumatiese ervaring was sy stukkend, maar God het haar nie laat los nie en vandag kan sy te danke aan Sý ingryping van heelwording en vrede getuig.

Dit het jare geneem voor Amanda de Lange van Johannesburg gereed was om haar storie te deel. En vandag, op die stoep van ʼn koffieplek in Johannesburg, sê Amanda die genesing wat die Here in haar bewerkstellig het, was só omvangryk, dat sy by tye vergeet dat wat met haar gebeur het, hoegenaamd ʼn deel van haar verlede is.

“So waarom nóú daaroor praat? Want dieselfde ding raak soveel ander vroue en ek wil die boodskap bring dat jy nie altyd ʼn slagoffer hoef te wees nie. “Wanneer God kom genees, genees Hy volkome,” sê Amanda, ʼn meester-lewensafrigter, veranderingstrateeg en voormalige joernalis. Sy was agt jaar oud toe ʼn verlangse familielid en sy vrou haar gemolesteer en verkrag het. Die egpaar het later uit hul lewe verdwyn, maar die wonde wat hulle gelaat het, was diep.

“Na ek verkrag is, het my gedrag buite beheer spiraal. Ek het woede-uitbarstings gehad en waar ek voorheen ʼn toppresteerder was, het my skoolpunte het met 20% geval.” ʼn Besoek aan ʼn sielkundige het sake vererger.
“Hy het gesê ek is ʼn lui onderpresteerder en vir jare lank het dié woorde my siening oor myself gevorm.”

Met haar gebrekkige begrip, het die klein dogtertjie vir haar pa probeer verduidelik wat met haar gebeur het, maar hy het nie verstaan nie. Onbewustelik het dit haar siening oor haar eie pa en God as Pa is intens beïnvloed. “Ek het vir jare gesukkel om te glo enigiemand kan my werklik kan liefhê. En die komplekse verhouding met my pa, het bygedra daartoe dat dit vir my moeilik was om te glo God kan ʼn liefdevolle Vader wees.”

Die seer van heelwording
Amanda het verskeie ander traumatiese gebeure ervaar wat sy moeilik verwerk het en wat daartoe bygedra het dat sy geglo het die Here het haar vergeet. “Ek het twee miskrame gehad; is na sewe jaar geskei en het as enkelouer van twee seuns van vyf maande en vier jaar, finansieel gesukkel. En al het ek dit nie geweet nie, het ek vir jare geglo ek is ʼn slagoffer. “Ek was gebroke en het aan ernstige depressie gelei en ek het meer as een keer probeer selfmoord pleeg.”

Haar verhoudings het nie onaangeraak bly nie. “Jy en die mense om jou verstaan nie in watter mate só iets ʼn uitwerking op jou kan hê nie…” Na haar egskeiding het haar pad na genesing meer intensief geword. “Die Here het my aangeraak en het begin om Homself al meer as ʼn Vader aan my te openbaar,” sê sy.

Dié pad was egter nie altyd reguit nie en die herstelproses dikwels pynlik. “Maar die Here is goed en ek my genesing het stuk-stuk gekom.” Berading en verskeie prosesse van innerlike en emosionele begeleiding oor baie jaar het gevolg. Amanda vergelyk haar herstel met ʼn ui wat laag vir laag afgeskil is – elke laag het met ʼn oomblik van verheldering gepaard gegaan. “Eendag, te midde van my herstel, was ek oorweldig deur al die herinneringe en pyn en ek het vreeslik begin huil. Ek het gevoel niemand het my lief nie en ek het nie ʼn toekoms nie… maar dit was op ʼn manier goed, omdat ek begin erken het hoe ek voel. Die Here het dinge in my begin losmaak en ek het al meer besef hoe dié ding wat met my gebeur het elke aspek van my lewe infiltreer. Ook my verhouding met Hom.”

‘Ek het ervaar dat die Here my roep om ten volle eienaarskap en verantwoordelikheid te aanvaar van my lewe en die besluite wat ek geneem het, ongeag die gevolge daarvan.’

ʼn Nuwe hoofstuk
Te midde van haar sielkundige, geestelike en emosionele heling het Amanda, wat as vermaakjoernalis by ʼn dagblad gewerk het, ʼn sterk behoefte aan ʼn nuwe loopbaanrigting ervaar. “Ek het vier jaar lank daaroor gebid. Ek was besig om ʼn artikel te skryf, toe ek met ʼn sielkundige oor lewensafrigting gepraat het en dit het my nuuskierigheid geprikkel.”

Die Here het die een na die ander deur laat oopgaan, ook die geleentheid om haar as meester-afrigter te kwalifiseer, en toe Amanda drie jaar gelede na bykans dertig jaar die joernalistiek vaarwel geroep het, het ʼn nuwe lewe op haar gewag. Maar die reis van die afgelope drie jaar was nie so maklik soos wat sy gehoop het nie.

“Ek was nog stukkend en die Here moes nog baie genesingswerk in my doen. Na ek weg is by die koerant, het die pyn so oorweldigend geraak, dat ek in ʼn stadium vir die Here gesê het Hy moet my dood maak, óf gesond maak, maar só kan ek nie meer lewe nie. Hy het gekies om my te red en in daardie tyd het Hy op nuwe aspekte van my genesing begin fokus.”

Een van dié aspekte, was waarna Amanda as ’n “gefragmenteerde persoonlikheid” verwys. “As gevolg van my gebrokenheid was aspekte van my persoonlikheid só uiteenlopend, dat dit moeilik was vir mense om te weet waar hulle met my staan.” Dit het haar verhoudings dikwels negatief beïnvloed, maar met begeleiding en ondersteuning, het sy al die “fragmente” vir die Here gegee. “Die uiteinde van my genesing was dat ek ʼn meer geïntegreerde lewe lei en ek weet ek sal vandag en môre dieselfde wees. Deesdae merk mense wat my al jare lank ken op hoeveel rustiger ek as vroeër is…”

Nie meer ʼn slagoffer nie
Amanda vertel sy het die grootste oomblik van verheldering sowat ʼn jaar gelede ervaar en as’t ware beleef hoe die Here vir haar sê hulle sit dié ding nou agter hulle. “Een aand het ʼn gasprediker iets in ons kerk gedeel en op daardie oomblik het ek die Here voor my sien staan. Ek het net Sy voete gesien met die spykermerke daarop en die trane het stilweg geloop. Ek het geweet die Here wou iets in my laat gebeur. Die volgende oggend het ek gehoor hoe Hy vir my sê ‘Wat daardie man aan jou gedoen het, was baie erg; maar dit was jou reaksie daarop wat jou lewe amper verwoes het’.”

Dit was nie ʼn maklike boodskap om te hoor nie, maar sy het geweet sy moes luister. “Ek het ervaar dat die Here my roep om ten volle eienaarskap en verantwoordelikheid te aanvaar van my lewe en die besluite wat ek geneem het, ongeag die gevolge daarvan. Hy het my gewys dat selfs om die geringste besluit wat ek geneem het, aan iemand anders toe te skryf, ek steeds van myself ʼn slagoffer maak.

“Ek het ook besef dat ongeag daarvan of jy ʼn kind of volwassene is, jy moet leer dat jou keuses jóú verantwoordelikheid is. Op agt het ek nie die vermoë gehad om die regte keuses te maak nie, maar ek het nie my hele lewe lank agt jaar oud gebly nie en soos ek ouer geword het, het ek in my gebrokenheid steeds die verkeerde keuses bly maak. Ek moes die Here vra om my te vergewe daarvoor dat ek ander die skuld wou gee vir my besluite en dit was ʼn geweldige las van my skouers af. Ek moes ook almal wat betrokke was [by my seerkry], vergewe.”

Amanda voeg by dié boodskap beteken nie God minimaliseer wat met haar gebeur het nie. “Hy sê immers in die Bybel, onder andere in Mattheus 18:6 en Lukas 17:2, dat iemand wat ʼn kind seermaak, eerder met ʼn meulsteen om sy nek in die see moet verdrink. Ek moes egter besef dat wat daardie man gedoen het, tussen hóm en die Here was en dat ek slegs voor God kon staan oor wat ek sélf gedoen het. Wanneer jy ander se skuld op jou laat rus, dra jy ʼn las waarvoor jy nie verantwoordelik is nie.”

Van daardie dag af was daar ʼn totale ommeswaai in haar. “Dit het volkome vergiffenis gebring.”

Wanneer jy verandering aangryp
Sedertdien ervaar sy die Here se liefde opnuut. “Ek het besef Hy is ʼn goeie Pa wat vreeslik lief is vir my en nie sit en wag dat ek moet misluk nie. Hy wil hê ek moet suksesvol wees.” Sy weet Sy stem is altyd daar om leiding te bied. “Ek glo Hy praat gedurig met my en wanneer ek enige besluite moet neem, doen ek ʼn ‘peace check’ – Sy vrede, is my innerlike barometer.”

In retrospek weet Amanda drie dinge onderlê die proses van verandering in ʼn mens se lewe. “Jy moet eerstens vorentoe kyk en alles agter jou laat gaan, goed of sleg en tweedens moet jy vreesloos wees. Dit is natuurlik om bang te wees, maar moenie toelaat dat dit jou pootjie nie, staar dit in die gesig. En wees kwesbaar, sodat jy jouself kan toelaat om vir ander te wys jy het nie altyd die antwoorde nie.”

Na sy as meester-lewensafrigter gekwalifiseer het, het Amanda ʼn nis vir haarself in dié veld oopgekrap, deur haar as veranderingstrateeg te posisioneer. “Ek pas verskeie tegnieke toe om my kliënte te help om groot én klein veranderinge te trotseer én pas tegnieke van innerlike genesing toe om ander kliënte te help om self ook innerlike vrede te ervaar.”
Amanda is oopkop oor haar eie genesing.
“Ek wil steeds nie sê ek is wat alles in my lewe betref 100% heel nie, geen mens op aarde kan nie, maar wat hierdie aspek van my lewe betref, het ek volkome genesing ervaar.” Dit is ʼn vryheid wat moeilik is om te omskryf. “Om daardie pyn in die gesig te staar en daardeur te werk was moeilik, maar dit is só onnodig om daarmee te bly loop. Hou jou oog op die uiteinde. Jy kán ʼn lewe van absolute bevryding en gesonde verhoudings hê, maar niemand kan dit kies behalwe jý nie.”

5 Lewenslesse

  1. God is altyd en in alles goed – selfs as (en dalk veral wanneer) ek nie verstaan waarmee Hy in my lewe besig is of hoekom hy sekere dinge toelaat nie.
  2. ’n Enkele mislukking weeg nie swaarder as ’n leeftyd se suksesse nie. So, staan op, stof af en probeer weer.
  3. Daar het dinge gebeur wat van my ’n slagoffer gemaak het, maar daarna is dit net ek wat kan kies of ek ’n slagoffer gaan bly of nie.
  4. Ek kan nie my roeping ten volle volgens God se plan uitleef as ek nie weet wie ek is en Wie s’n ek is nie. Daarmee saam die begrip dat my identiteit nie bepaal word deur wat ek van myself dink of wat ander van my dink nie. Dit begin en eindig by wat my hemelse Vader van my dink en oor my te sê het.
  5. My keuses en die gevolge daarvan is myne alleen. Ek kan nie die blaam of verantwoordelikheid daarvoor op iemand anders verplaas nie.

Kontak Amanda: amanda.dlange@gmail.com; 084 609 0344; www.facebook.com/CoachAmandaDeLange

2017-12-01T10:23:16+00:00