Hartstog

’n Bruilof in die Beloofde Land

 Foto’s Christine Coetzee & Abrie Kruger

Christine Coetzee vertel van ‘n spesiale bruilofsviering van ‘n Suid-Afrikaanse vriendin wat in Jerusalem woon…

Terwyl ek die trou-uitnodiging van ’n goeie vriendin lees, maak my hart ’n wawiel van opgewondenheid. Ja, omdat sy gaan trou, maar veral omdat die kaartjie in stylvolle letters uitroep dat die troue “In the land of Israel” gaan plaasvind. Sy het in daardie stadium in Jerusalem gewoon. Kort voor die troue in September kry die handjievol gaste ’n e-pos wat hulle bedank omdat hulle “dapper genoeg is om gedurende ’n tyd soos hierdie steeds te kom.” Daar is ’n paar wenke in die e-pos oor hoe om veilig in die land te reis en die brief sluit af met: “Israel het hulle troepe uit Gaza onttrek en daar is tans ’n wapenstilstand. Dinge het bietjie afgekoel hier in die suide en vir nou is Jerusalem koel en kalm. Julle is welkom!” Vir ’n kortstondige oomblik wil-wil twyfel in my oor fluister, maar sy stem word vinnig uitgedoof deur die uitbundige opgewondenheid in my, want ons gaan bruilof hou in die Beloofde Land!

Herfs in Jerusalem

Met ons aankoms in Israel vertrek ons sommer direk na Jerusalem, sodat ons die paar dae voor die troue saam met die toekomstige bruidspaar kan geniet. Met die rit vanaf Tel Aviv voel die landskap vir my vreemd bekend met sy garing- en bloekombome langs die pad, maar toe ons Jerusalem inry tref die anders- en onbekendheid my soos ’n vuishou in die gesig, met die wete dat hierdie Sy stad is. Ek onthou skielik die skrifgedeelte wat op die uitnodiging was: “You have come to Mount Zion, to the heavenly Jerusalem, the city of the Living God.” (Heb 12:22)

Die bruidspaar wil ons graag aan hulle Joodse vriend, Moshe, voorstel en ons spreek af om mekaar later die middag op die Hurvah plein, te ontmoet. Terwyl ek sit en wag vir die res om te kom, geniet ek die lafenis van die massiewe eike. Vroeë herfs hang reeds tussen die koperblare. Ek wonder oor al die stories wat hierdie boomreuse oor jare heen beleef het, hoeveel generasies al onder hulle skadu’s rus kom vind het en of hulle die voorreg sal hê om getuies te wees wanneer Hy eendag terugkeer na hierdie stad. Toe ek afkyk, voel ek nietig en verganklik soos die roesbruinblare wat tussen my voete lê, maar terselfdertyd ook deel van ’n veel groter verhaal.

“Sy laaste woorde voor ons gaan is dat hy bid dat ons uit Israel sal weggaan met vrede, sonder vrees, omdat ons gesien het hoe groot God is.”

Vryheid, hoop en ’n leë graf

In die Shorashim’s se winkel is Moshe se sagte oë en nederigheid soos water vir ’n droë mond. Hy sê Jood en Christen moet gesels, mekaar begin verstaan. Dat dit aanvaarbaar is om te verskil, maar dat daar ’n wedersydse begrip moet groei, want ons dien immers dieselfde God. Hy weet ons glo dat Jesus die Messias is, maar dit is nog nie sy realiteit is nie. Hy sê dat hy die God van Abraham, Isak en Jakob ken en liefhet en as Jesus werklik die Messias is, daardie einste God dit aan hom sal openbaar. Tot dan doen hy egter elke dag met volkome toewyding, net dìt wat die Vader voor hom sit. Sy laaste woorde voor ons gaan is dat hy bid dat ons uit Israel sal weggaan met vrede, sonder vrees, omdat ons gesien het hoe groot God is. Die God wat deur eeue heen getrou bly aan Sy belofte aan sy volk, Israel. Na die kuier verken ons vir nog ’n rukkie die knusnou straatjies voordat ons na Teddypark stap waar ons almal ons eerste Shabbat ete in Israel saam gaan eet. In die park sak daar ’n gesellige tevredenheid op ons neer en terwyl ons die brood breek en die wyn drink, verkleur die Ou Stad se mure goudbruin in die laaste lig van die dag.

Met Shabbat funksioneer die stad teen ’n rustende tempo. Daar is geen publieke vervoer nie, die strate is stil en daar hang ’n swaar, lomerigheid in die lug. Ons vriendekring kry mekaar by Damaskushek vanwaar ons na die tuingraf teen ’n drentelpas stap, want dit is asof hierdie eeue oue ritme van weeklikse rus ook in ons skoene kom sit het. Die tuin is mooi met sy bloedrooi malvaspatsels en dit vertel ’n storie van hoop, van ’n graf wat leeg staan en ’n God wat leef. Maar my hart is swaar wanneer ek op pad terug verby ’n bebaarde Jood met sy breërandhoed stap, want hierdie vryheid en hoop is nog nie sy realiteit nie. Sy tzitsit word my gebed.

“Twee Joodse dogtertjies huppel voor haar uit en toe die bruid en bruidegom onder die prieel, waaraan die druiwetrosse swaar hang, tot stilstand kom en die laaste note wegdryf weet ek met ’n sekerheid dat hierdie troue net een van nog vele ander is wat profeties uitroep dat Hy gaan kom om Sy bruid te kom haal.”

’n Bruid en haar Bruidegom

Die oggend van die troue word ek met ’n vreugde in my wakker wat nie ophou dans tot die aand nadat die laaste musieknote gaan lê het nie. Daardie selfde vreugde vergesel my al die pad tot by Jaffahek waar die meisie met haar harp sit en speel. Sy was die vorige paar dae ook daar, maar vandag voel dit asof sy ons spesiaal in die Ou Stad in verwelkom en met harpmelodië na die binnehof van Christ Church begelei. Op pad na die binnehof van hierdie eertydse Protestantse kerkie, gesels ons hoë hakskoene vrolik saam op die leiklipstraatjies en lok ons formele kleredrag hier en daar ’n skramme steelkyk uit.

Die binnehof is ’n lafenis met sy groen gras, baldadige rose, voëls en weliswaar, in die hoek, ook ’n granaat en vyeboom. Maar toe die eerste note van Joshua Aaron se, New Covenant, begin speel, is dit asof selfs die vlinderbos, wat vroeër in die ligte briesie rondgedans het, stil word en asem ophou vir die bruid om te verskyn. Twee Joodse dogtertjies huppel voor haar uit en toe die bruid en bruidegom onder die prieel, waaraan die druiwetrosse swaar hang, tot stilstand kom en die laaste note wegdryf weet ek met ’n sekerheid dat hierdie troue net een van nog vele ander is wat profeties uitroep dat Hy gaan kom om Sy bruid te kom haal.

Oom Piet, die bruid se pa, begin die preek in Engels, lees ’n teks uit die Griekse Bybel, later ’n stukkie in Hebreeus en wanneer hy Afrikaans praat, hoor jy die sagte gemurmel van stemme wat dit na Engels vertaal vir die paar Jode wat ook teenwoordig is. Die seremonie is ’n viering van lewe, hoop en ’n bevestiging dat God die een is wat Sy verbond onderhou.

Na die seremonie luier almal nog bietjie in die tuin terwyl ons smul aan die vrugte van die Beloofde land. Terwyl die pasgetroudes foto’s gaan neem, stap die gaste, party sommer nog met die druiwetrosse in die hand, saam met ’n argeoloog-vriendin van die bruidspaar. Sy vertel stories en wys ons plekke, op pad na die onthaal, wat die gemiddelde toeris groen sou laat met jaloesie. Die onthaal word gehou op die stoep van ’n restaurant wat uitkyk oor ’n mooi deel van die stadsmuur en teen die einde van die aand se partytjie feesvieringe kom hang die maan as getuie en druk sy volmaanstempel af op die dag se gebeure deur die ou stadsmuur goud te verf.

’n Flentertjie muur en die broosheid van vrede

Voor my reis na Israel, het ek nie noodwendig ’n behoefte gehad om Israel te besoek om nader aan God te voel of meer van Hom te beleef nie. Ek het gevoel dat Sy Teenwoordigheid net so tasbaar op my knieë in die eenvoud van my kamer kan wees, en dat dit net so soet is as wat dit in die land van Kanaän kan proe. Maar daar was oomblikke in hierdie land van melk en heuning wat my kosbaar onkant kom vang het. Op die see van Galilea het ek ’n stukkie van Sy krag en majesteit beleef. In die dorre, onherbergsaamheid van die woestyn het ek die Psalmdigter hoor sê dat sy siel na die Here smag “soos ’n wildsbok smag na water”. In ’n bergpoel in Ein Gedi het ek ’n stukkie van Dawid se “waters van rus” beleef. By die Kotel het ek, in Marzanne LeRoux-Van Der Boon se woorde, saam met die Jode oor hulle flentertjie muur en die broosheid van vrede geween. En net soos die troue in Kana, was Hy ook by hierdie bruilof teenwoordig.

2017-12-09T20:02:35+00:00