Kuns van Lééf

Geloof wat vrug dra

deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Twee kreatiewe susters van Pretoria, Ansu Badenhorst en Surita Brink, is ook beste vriendinne en sakevennote in Ivytree Studio, ’n ontwerpateljee met ’n aanlynwinkel wat die skoonheid van die skepping vier.

Die susters, Ansu Badenhorst en Surita Brink, daag by die Botaniese Tuine se African Pride Cafe op met bokse vol pragvoorbeelde van hul skeppings. Maar eers drink ons tee en gesels soos ou vriende. Die oop stoepdeure raam ’n golwende landskap van bome en grasperk. Wilde eende sketter op die dam. Naaldekokers sidder in die lig en vinke werskaf in die riete. Ma Sarie (78) het vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut (SANBI) as lettersetter van plantkundige publikasies gewerk. “Sy was toegewy aan uitnemendheid, ingestel op gedetailleerde beskrywings, moeilike Latynse plantname en tabelle.” Dieselfde besorgheid oor afronding is aan die susters oorgedra in die daaglikse uitleef van hul kuns; dikwels met die natuur as tema. “Ontwerptyd is pure vreugde,” stem hulle saam. “Om drome vlerke te gee op die skerm.” “Daar is altyd geestelike uitdagings en negatiewe ervarings,” erken Ansu (44). “Dis ’n keuse: Glo wat God van jou sê, nie wat die vyand oor jou besigheid sê nie. Ná elke aanval vorder jy drie tree.” Hulle is bewoners van die Jakarandastad, ‘Moedersbondbabas’ in Pretoria gebore en getoë. Hul ma het destyds weens ’n onderaktiewe skildklier gesukkel om swanger te raak. Haar geloof was onwankelbaar: “As die Here vir my kinders wil gee, sal Hy dit in Sy eie tyd doen.” Haar geloof het vrug gedra – daarvan is die sussies die bewys. Ansu en haar man, opvoeder Henry Badenhorst (44), het nie kinders nie, maar volgens haar ma se voorbeeld gee hulle nie hoop op nie. “Die situasie kan enige tyd omswaai. Boonop het ek vir duisende kinders klas gegee en sien myself reeds as ’n moeder.”

Estetiese duimafdruk

Die sussies het skoolgegaan by Skuilkrans Laerskool en Silverton Hoërskool in Pretoria. “Op laerskool kon ons kuns neem, maar nie op hoërskool nie,” lamenteer Surita (42). Sy skep al van kleins af. Pa Pieter (78) het pakke gebruikte rekenaarpapier huistoe gebring vir die sussies. Surita het graag daarop gesigte en multi-verdieping-huise waarvan jy al die binnekant se besonderhede kon sien, geteken. ’n Illustreerder in wording. Deesdae is portretstudies en stillewes steeds op die voorgrond en skilder sy dit graag in verskeie style en mediums. Kuns, illustrasie en ontwerp is haar passie en sy beoefen al drie sedert sy skool klaargemaak het. Oor die jare het God haar met elke kreatiewe projek voorberei vir die volgende een. “Hy gee vir mens wat jy nodig het, tree vir tree.” Surita het haar moeder se presiesheid geërf. Sy maak seker dat elke eindproduk van Ivytree Studio eksieperfeksie is. Albei susters het van kleins af vrolike kaartjies vir spesiale geleenthede geskep, ’n aktiwiteit wat nou integraal deel van hul onderneming is. Ansu wou dolgraag modeontwerp studeer, maar die Here lei haar op ’n ander pad. Sy studeer onderwys by die Universiteit van Pretoria en werk later onder meer by Transvalia Skool, ’n skool vir leerders met leeruitdagings. “Spesiale kinders is eintlik superkreatief, hoogs intelligent en funksioneer net anders as die res van die bevolking,” vertel sy.

In 2008 verlaat sy die onderwys as gevolg van volgehoue stres, en begin met haar kuns as deel van die herstelproses. Pa Pieter maak haar bewus van ’n tydskrifartikel oor die hoogs sensitiewe temperament en sy herken haarself daarin. “‘n Hoogs sensitiewe persoon (HSP) funksioneer soos ’n spons. Jy het ’n verhoogde blootstelling aan alles om jou,” verduidelik Ansu. “Jy’s hiperbewus van jou omgewing, mense, klanke, gebeure. Jy ervaar alles op empatiese vlak, jy dra almal se laste. So raak jy oorlaai met indrukke… Gelukkig is God my filter. Hy beskerm en koester elkeen in sy uniekheid.” “Die positiewe keersy van die HSP is ’n gawe vir wysheid; hulle lees mense soos ’n oop boek.” Vir haar leerders het sy gesê sy kan om ’n hoekie sien wat hul doen, en met hierdie intuïsie kon sy orde en ’n positiewe leeromgewing handhaaf. Kuns en fynsinnigheid is deel van die “estetiese duimafdruk” wat God die sussies gegee het, ook in hul besigheid.

‘Ons is sielmaats en vriendinne. Die Here het ons vir mekaar gegee.’

Wonderboom

Die naam Ivytree Studio kom van ’n groot ou boom op hul ouers se pypsteelerf in Pretoria, waar hul ewe kreatiewe ma ’n pragtuin aangeplant het. “Die boom het gesterf en is afgekap, maar die stomp was te groot om uit te haal. Ma het klimop om die boomstomp geplant wat opgerank het om ’n nuwe ‘boom’ te vorm. God kan nuwe lewe skenk aan iets wat dood en vergete is. En uit eenvoud kan skoonheid spruit,” glo die sussies. “Ivytree herinner ons dat God ons ’n nuwe rigting laat inslaan het en dat kreatiwiteit nie perke het nie; ons ontwerp van kunspapier en skryfbehoeftes tot partytjiedekor en meer. Ons besigheid vertak in alle rigtings,” lag Ansu.

Die fisieke boom in die tuin is weg, maar die beeld daarvan en wat dit verteenwoordig, groei sterk in hul lewe en verbeelding. Soos ’n boom met vele takke, het hul besigheid uitgebrei in Ivytree Studio, waar hulle saam skep en ontwerp, en gedy in Ivytree Elements, Ivytree Event Stationery, Happy go Artsy, GraceLilly en Kaleido. “Ons het ook ’n opvoedkundige fokus en ontwerp materiaal en produkte vir opvoedkundige doeleindes.” Hul oorspronklike produkte, ware en dienste is aanlyn beskikbaar.

Idees uit die Skrif

“God het my die groter prentjie gewys,” onthou Ansu. “Ek het angstig gewonder hoe ons dit gaan bereik. Ons het begin met geen kapitaal en binne twee jaar gegroei tot ’n omset van meer as R100 000. Ons was nog nie een maand in ’n verleentheid nie. Dit is ’n wonderwerk. Die meeste besighede neem drie jaar om ’n wins te toon. God groei ons teen ’n tempo wat ons kan hanteer. Binne Sy wil leef ons ons gawes uit.”

Ivytree fokus op vroulike ontwerpe, maar hopelik gaan daar ’n mansreeks ook kom – “sonder pienk”. Hul reekse is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels, in ’n verskeidenheid temas wat gebruik kan word vir papierkuns en stokperdjies, soos scrapbooking, gemengde media, kaartjies maak, Bybeljoernaal- en dagboek hou ensovoort. “Scrapbooking is om kosbare herinneringe te bewaar en spesiale geleenthede te gedenk.”

“Ons wonder nooit oor temas nie. Idees vloei gedurig uit Sy Woord. God kan ons ’n tema uit Sy handewerk gee. Ons is lief vir kleur en verskeidenheid. Ons gunsteling-elemente is blomme, harte, kolletjies en strepe, en enigiets inheems en eg Suid-Afrikaans.”

Ansu vertel dat hulle graag Cullinan vir inspirasie besoek. Daar neem hulle foto’s van al die kleure, teksture en patrone op die sypaadjies, huisies en in die winkeltjies en restaurante. “Dis belangrik dat ons produkte bekostigbaar is en waarde toevoeg. Al wat jy nodig het, is die papier, gom, ’n skêr en jou kreatiwiteit.”

Hulle posisioneer Ivytree as gelowig, trots Suid-Afrikaans, sonder feetjies, Oosterse invloede, Halloween of die okkulte. “Ons is onbeskaamd eties, wat ons anders maak. Dis ’n Koninkryksbesigheid. Ons is immer bewus van die boodskap wat ons oordra.” Hul werksdag begin laterig, tussen 9 en 10 soggens, maar kan strek tot diep in die nag. Die aanlynwinkel wat landwyd aflewer, vereis veral baie aandag. Ansu hou van musiek in die agtergrond, terwyl Surita na Jane Austen se romans luister. In druk tye verkies albei stilte.

Die susters vul mekaar aan as ’n gedugte span. “Ons is sielmaats en vriendinne. Die Here het ons vir mekaar gegee.” Gehalte bly die wagwoord en geen bestelling word afgejaag nie. Die visie volgens hul webwerf: Inspire. Create. Educate. “God is ons bestuurder en ons plaas Hom eerste in alles.”

Kuns en fynsinnigheid is deel van die “estetiese duimafdruk” wat God die sussies gegee het, ook in hul besigheid.

Het jy geweet

Ansu is ook ’n geesdriftige e-joernaalskrywer. Sy het haar eerste blog in 2012 geloods as ’n manier om haar groei as gelowige kunstenaar in ’n Bybel- en gebedsjoernaal aanlyn te deel, iets wat sy herlei na haar pa se passie vir plakboeke. “Die Here het vir my gesê ek moet uitgee (publish). Met blogging is dit maklik.” In die blog Art by Ansu fokus sy op kuns as beeld van God die Skepper. “God het my ’n profetiese taal gegee, wat ek anoniem uitleef in Fearless Heart. In ’n ander blog, Grace Lily, deel ek my genadepad in die lelies as Hoogs Sensitiewe Persoon (HSP). Ek het altyd ’n behoefte aan nuwe projekte en werk gelyktydig aan verskeie.”

Gaan kyk na die susters se ontwerpe by www.ivytreestudio.co.za

2017-12-01T10:43:58+00:00