Dagboek

Vir Desember 2017 & Januarie 2018

Lééf so… met hart & siel

Iets om te maak

Maak vanjaar jou eie Kerskrans van buigbare wilgetakkies en gesnipperde lint in verskillende kleure.

Iets om te gee

Draai ’n klein geskenkie mooi toe en bederf iemand wat minder as jy het daarmee.

Iets om voor te bid

Bid vanjaar ’n Kersgebed saam as gesin voor julle die huis verfraai. Loof soos die engele die Koningskind!

Iets om te onthou 

Maak ’n lysie van al die goeie dinge wat hierdie jaar met jou en jou gesin gebeur het. Fokus op die mooi.

Iets om oor na te dink

Gaan lê op die naat van jou rug onder ’n wye wolkehemel en laat jou binneste stil word.

Iets om te geniet

Vergeet ’n slag van jou bekommernisse en omarm elke luilekker-sonskyndag. Dis tyd om te rus!

Iets om te vier

Die nuwe jaar het aangebreek! Verklaar weer jou afhanklikheid aan God en Sy voorsiening.

Iets om te proe

Vier die somer met yskoue skywe soetpienk waatlemoen wat op die grasperk geëet word.

Iets om oor na te dink

Waar ook al jy Kersfees vier, wéét God het mens geword en onder ons kom woon.

Dagboek

  • Die Paarlse Aandwedloop samel draf-draf geld in vir kinders met outisme. Dié wedloop vind plaas op Woensdag 6 Desember op die Paarlberg. Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 18:40 begin, is gemik op die hele gesin. Selfs stootwaentjies is welkom! Die inskrywingsfooi is R20 en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ’n nommer. Rig navrae aan bemarking2@taalmuseum.co.za.
  • Maak ’n draai by Jubilee Art Gallery and Christian Books in Mitchell straat, Hermanus. ’n Nuwe uitstalling genaamd Sea & Light open op die 7e Desember.
  • The Fantastic Grifizzi Brothers Circus is ’n sirkus sonder diere en dit vind plaas vanaf die 8e Desember tot die 15e Januarie by Emperor’s Palace in Johannesburg.
  • Die Eikendal-landgoed bied ’n eksklusiewe Kersfees-en-Wynervaring vanaf 1 tot 31 Desember teen R100 per persoon, Dinsdae tot Sondae tussen 10:00 en 16:30 aan. Vir navrae kontak Chantal-Lee by 021 855 1422 of stuur ’n e-pos na info@eikendal.co.za.
  • Nasionale Springmieliedag vind plaas op 19 Januarie.
  • Die Delheim Oesfees vind plaas op Saterdag 27 Januarie op dié bekende landgoed net buite Stellenbosch. Die fees begin om 11:30 en die oesfees-middagete word om 13:00 bedien. Daar is ’n druif-pluk om 12:00 met die druiwetrap-aksie wat na die ete vir vaatjies vol vet pret sal sorg. Maak dus seker jy trek gemaklik aan. Kaartjies kos R650 per persoon wat ’n sitplek by die langtafel; ’n bottel Delheim wyn per paartjie en lekker druiwetrap-aksie en lewendige musiekvermaak insluit. Daar sal ook ’n langtafel vir die jongspan wees. Kaartjies vir kinders kos R120, maar dié onder vier jarige ouderdom kan gratis toegang verkry.
2017-12-09T15:12:30+00:00