Geloof het ‘n adres

Oor geslagte heen

Deur Lizette Murray | Foto’s Johette Pople

Chrisma Slaghuis op Rawsonville vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar en glo eienaar Ockert Smit en sy suster, Maggie Pople, dat dit geloof en dissipline is wat hul besigheid staande hou.

Kort anderkant die Dutoitskloofpas – soos ’n mens van die Kaapse kant af ry – draai jy regs na Rawsonville. Die smal pad loop tussen wingerde en blinkgroen populiere verby. Dit wit mure van plaasopstalle steek oral tussen akkerbome uit. Reg agter ons lê die Dutoitskloofberge en skuins agter ons die Slanghoekberge, met Goudinispa se Sneeukop links.

Wintertye is die bergspitse dikwels met ’n wit sneeulaag bedek. Nou jubel die ganse Breederiviervallei oor die belofte van nuwe lewe – ondanks die droogte. En die Smalblaarrivier volg steeds rustig en ongestoord sy blink pad oor ronde rivierklippe al langs die kant van die dorp.

Ek het nie ’n padkaart of GPS nodig om Chrisma Slaghuis in Rawsonville te kry nie. Dis ’n bekende baken in die hoofstraat van dié rustige Bolandse dorp, met sy bietjie meer as 3 000 inwoners.

Aan die stuur van die slaghuis staan Ockert Smit, die eienaar, en sy suster, Maggie Pople, wat vir die administratiewe deel van die besigheid verantwoordelik is.

Met die instap ruik ek die heerlike bredie wat op die stofie prut. “Dis ons aandete. Vanaand het ek nie tyd om kos te maak nie,” sê Maggie en nooi my in.

’n Familiesaak

Vyftig jaar gelede het Ockert en Maggie se ouers, Matthys en Christina Smit, dié familie-besigheid – met die naam Chrisma – ’n samevoeging van hul twee name, geopen. Oupa Matthys het sekerlik nooit kon droom dat sy kinders vyftig jaar later nog steeds die slaghuis onder die familievaandel sou bedryf nie.

Die pad was nie altyd maklik nie, maar Ockert en Maggie glo dat die liefde en geloof van hul ma en die dissipline van hul pa hulle vandag steeds staande hou. Voor die gesin in die sestigerjare na Rawsonville verhuis het, was Matthys – oorspronklik ’n grofsmid van Koringberg – by ’n ander slaghuisgroep betrokke. Toe die geleentheid kom om self ’n slaghuis te koop, het hy dit met albei arms aangegryp.

Die slaghuis was aanvanklik so groot soos een groot woonvertrek, met slegs een koelkamer. Ockert het mettertyd uitbreidings gedoen en veranderinge aangebring.

Ons stap deur die slaghuis. Oral groet vriendelike personeel in vrolik gestreepte voorskote. ’n Paar bedien kliënte. Ander sny vleis. Ander berei biltong. Nog ’n paar ryg sosaties aan stokkies.

Die een blokman, Paul Laverlot, werk al 38 jaar vir die familie. Die afgelope twaalf jaar werk sy seun, Warren, ook as blokman by Chrisma, terwyl Paul se dogter, Rutina, ’n jaar gelede ook as blokman(-vrou) by die span aangesluit het.

Chrisma-slaghuis is dus ’n ware familie-onderneming!

Ockert het aanvanklik glad nie in die slaghuis belang gestel nie. Hy en sy vrou, Betsie, en hul dogter, Jo-Ann, het in die Paarl gewoon waar hy in die video-eenheid van die polisie was. Hy het sy werk baie geniet. Die betaling was goed en die voordele baie.

“Ek het glad nie ’n ander beroep oorweeg nie! Toe my pa egter onverwags op 62-jarige ouderdom sterf en my broer Boelie 6 maande later, het my ma gevra of ek nie sou belang stel om slaghuis toe te kom nie.

“Na samespreking met die ouer manne in die bedryf het ek besluit om die kans te gebruik. Dit was 28 jaar gelede!

“Ek het niks van besigheid of vleis geweet nie, maar die ander het my touwys gemaak. Ek was gou deel van die gemeenskap. Ek het vleis vir funksies verskaf, braaivleise gereël en partytjies gehou. Ongelukkig het dit met misbruik van drank gepaard gegaan, wat die verhouding tussen my en my vrou baie skade berokken het. Sondae het ek egter in die voorste kerkbanke as diaken gesit, maar my persoonlike en geestelike lewe was in ’n krisis.

“Nadat ek my vrou een aand baie erg te na gekom het, het ek die oggend vroeg wakker geword van ’n Stem wat vir my vra: ‘Waar gaan jy heen?’ Ek het op die rand van die bed gesit en gewéét: Dis God wat met my praat.”

Ons stap deur die slaghuis. Oral groet vriendelike personeel in vrolik gestreepte voorskote. ’n Paar bedien kliënte. Ander sny vleis. Ander berei biltong. Nog ’n paar ryg sosaties aan stokkies.

Jesus my verlosser 

Daarna was Ockert soekend. Hy het ’n afspraak met ’n Christen-berader, André Crous, gemaak wat hom na Christus gelei het.

“Ek het Christus as my persoonlike Verlosser aangeneem. Ek het onmiddellik ophou drink en die dienste van die Agapé-gemeente in Worcester begin bywoon. Ek wou my ook graag laat doop, want dit was vir my ’n wonderlike ontdekking om Christus waarlik te ken. Die oggend van my doop het my vrou ook haar hart vir die Here gegee.”

Dit was die begin van Ockert en Betsie se pad sáám in diens van die Here. Ockert het net een groot begeerte gehad: Om God in alles wat hy doen te eer en te verheerlik.

“By die slaghuis en my huis kon my Christenskap volkome uitleef. Na my doop is ek egter gevra om uit die plaaslike NG Kerk te bedank op grond van my siening oor die doop. Dit het my van die gemeenskap geïsoleer.

“Maar die Here is getrou. Ek het by ’n Bybelskool aangesluit en my geloof het gegroei. Aanvanklik het ek in my begeesterdheid vir my personeel gepreek, maar ek het besef dat dit veel beter is om nie godsdiens te preek nie, maar om dit uit te leef. Hulle moet in my daaglikse optrede my liefde vir die Here sien. Hulle moet ook weet: Reg is reg en verkeerd is verkeerd.”

Maggie vul aan: “Ja, ons uitgangspunt is om alles met ’n regverdige skaal te weeg – sodat dit God se goedkeuring wegdra.”

Op my vraag hoe hulle dit regkry om as familie saam te werk, antwoord Maggie: “Ons verstaan gesag. Ockert is die een wat die verantwoordelikheid van die besigheid by ons ouers oorgeneem het. Dit maak hom die “baas”. Ek staan hom by. Ek is lief vir die besigheid en ek is lief vir mense, daarom lê die personeel my baie na aan die hart. Ek gee raad oor kinderversorging. Ons bespreek geldsake, vrouwees, hoe om jou werkgewer te eer, hoe om mekaar te respekteer. Die gesprekke is oop en eerlik, want só hoor jy régtig mense se harte. Baie van die werkers dien ook die Here. Dit maak ons die saamwerk maklik.”

Streng maar regverdig

Ockert vertel dat hul werkers in ’n stadium by ’n vakbond aangesluit het, want hulle wou graag ook ’n liggaam hê wat hul klagtes aanhoor en in hul belang optree. Na ’n rukkie het hulle egter vir my kom sê dat hulle hul lidmaatskap wou opskort, want dit was beter soos dit vroeër was.

“My beleid is om na die volledige mens om te sien. Wintertye sorg ek dat nie een van my werkers koud gaan slaap nie. Wanneer ’n werknemer se kind trou, of na ’n matriekafskeid gaan, sorg ons dat hy of sy die aand nie vir enige iemand anders hoef terug te staan nie. Maggie se dogter, Johette, neem professionele foto’s; een van die familie-kinders gee ’n rok; een bestuur die motor.”

Maggie vul aan: “Ons pa was streng, maar regverdig. Ons ma het weer die huis met liefde bestuur. En dit is hoe ons die familieslaghuis wil bedryf. Elkeen moet weet hy of sy word liefgehê en gerespekteer.”

“Wat maak julle in tye van probleme of terugslae?” vra ek.

“Ek bid,” antwoord Ockert. “Ek bestuur my slaghuis van die rand van my bed af.”

Dwarsdeur vele terugslae het hulle hul geloof behou.

Ses maande na hul pa, Matthys, se dood is hul broer, Boelie, oorlede. Maggie is deur ’n egskeiding. Boonop is hul jongste suster, Elisabeth, ’n diabeet, en haar man ook oorlede. Maggie het die versorging van Elisabeth se twee jong kinders oorgeneem.

“Ek het op die sypaadjie oorkant die slaghuis gestaan. Ek kon nie asem kry nie. Alles wat ek deur die jare opgebou het, is in een nag vernietig. Ek het gevra:  ‘Here, hoe nou?’”

Verbrand tot as

Een nag in Julie 2009 vernietig die Groot Brand alles wat die familie deur die jare opgebou het.

Die hele slaghuis se binnekant is vernietig. Al die vleis is tot houtskool verbrand. Die inwoners vertel dat hulle deur die nag wakker geword het en gewonder het wie braai vleis. Ockert, wat by ’n mannegroep was, is teen vyfuur die volgende oggend deur die polisie gebel met die tyding: Die slaghuis brand. Hy het soontoe gejaag.

“Ek het op die sypaadjie oorkant die slaghuis gestaan. Ek kon nie asem kry nie. Alles wat ek deur die jare opgebou het, is in een nag vernietig. Ek het gevra: ‘Here, hoe nou?’ Hy het geantwoord: ‘Sit jou voet van die sypaadjie af. Ek sal jou hand vashou.’”

Maggie onthou: “Die slaghuis is vir drie maande gesluit terwyl Ockert en ons werkers self die opruimingswerk gedoen het. Die oggend toe ons weer Chrisma Slaghuis se deure oopmaak, het ons besigheid gedoen asof dit nooit toe was nie.

“Die Rawsonville-gemeenskap was ongelooflik ondersteunend,” sê Maggie. “Ockert is reg wanneer hy sê ons woon in Awesomeville.”

“Ek kan net getuig: God is getrou!” sê Ockert.

Na die brand het hospitale en tehuise vir bejaardes begin vra of Chrisma Slaghuis vleis aan hulle sal verskaf. Vandag word vleis aan sewentig kombuise dwarsoor die Skiereiland en die platteland gelewer. Louis Pople, Maggie se seun, is aan die hoof van die vleisverspreiding.

Die Chrisma Slaghuis is wyd bekend. Kapenaars ry spesiaal oor die berg vir die lekker biltong, droëwors en interessante sosaties.

Ockert is in standerd 8 uit die skool om by die polisie aan te sluit. Hy was later baie spyt daaroor dat hy nie verder gaan studeer het nie. “Ek het egter die saak met die Here uitgepraat. Ek weet dat ek hier in die slaghuis die werk doen waarvoor Hy my geroep het. Ek hou vas aan ’n profetiese woord wat ons ontvang het: ‘Vanuit hierdie besigheid sal daar ’n LIG skyn.’”

Vandag is Ockert terug in die gemeente waar hy vroeër die deur gewys is – as voorsitter van die kerkraad. Hy glo dat God ook hier vir hom ’n taak het om God se Koninkryk te help uitbrei. “Die Gees van God bestuur Chrisma Slaghuis. Ons is slegs Sy rentmeesters.”

2017-10-31T22:32:15+00:00