Lééf mooi

Natuurkind

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Strewe jy na ’n meer natuurlike leefstyl? Koester jouself met skoonheidsprodukte so reg uit die natuur.

Daar is vandag twee duidelike neigings as dit kom by skoonheidsprodukte. Daar is produkte gegrond op super-tegnologie teenoor natuurlike produkte. Die strewe na ’n meer natuurlike leefstyl bring ook groter belangstelling in botaniese of organiese velsorg.

Albei soorte produkte hou sekere voordele in en die keuse is joune. Volgens Dr. Diana Howard, vise-president van Navorsing en Ontwikkeling by Dermalogica in Los Angeles, is daar niks mee verkeerd om produkte met chemiese bestanddele te gebruik nie, mits die chemikalieë suiwer en nie besmet is nie, en vir veiligheid en doeltreffendheid getoets is.

Wat is organies?

Organiese produkte is gegrond op suiwer, natuurlike bestanddele en bevat gesertifiseerde organies-gekweekte kruie en natuurlike plant-ekstrakte, groente- en ander vlugtige olies. ’n Organiese produk behoort vry van kunsmatige geur, petroleum-byprodukte, kleurstowwe, dierlike bestanddele en onnodige sintetiese bymiddels te wees. Dit word nie op diere getoets en is vegetaries van aard. Die doel van organiese produkte is nie net om veilig te wees nie, maar ook om die omgewing te beskerm.

Probeer gerus dié betroubare organiese produkreekse: Esse Organics Skincare, ’n plaaslike suiwer organiese produkreeks en Dr Hauschka, ’n holistiese organiese reeks afkomstig uit Duitsland.

Hoekom groen?

Volgens Rebeca Tanqueray, skrywer van Eco Chic Organic Living (Carlton Books), word ongeveer 60% van wat ons aan ons gesigte smeer deur die bloedstroom opgeneem. Dis veral kleurstowwe, preserveermiddels en chemikalieë in sommige skoonheidsmiddels wat mense noop om eerder suiwer organiese produkte te gebruik. Produkte wat op plant-tegnologie gegrond is en hoofsaaklik plant-ekstrakte bevat, is ’n veilige keuse. Skadelike gifstowwe in die lug, in ons kos en ander produkte kan jou gesondheid aantas. Jou vel is voortdurend onder die aanslag van vry radikale wat deur besoedeling, stres, gifstowwe en die son veroorsaak word. Doen dus wat jy kan om jou vel teen voortydige veroudering te beskerm en so gesond moontlik te hou.

Wees ’n natuurkind
  • Vermy chemikalieë in huishoudelike skoonmaakmiddels en gifstowwe in toksiese verf en ander middels.
  • Beveg gifstowwe in die liggaam deur voldoende vitamiene en kruie-aanvullings te neem. Dit maak die liggaam weerbaar teen toksiene.
  • Drink suiwer water wat help om die liggaam te reinig.
  • Kweek ’n natuurlike kruietuin en gebruik natuurlike insekdoders en bemesting.
  • Gebruik hervulbare, herwinbare houers as dit kom by skoonheidsprodukte.
  • Eet organies. Organiese kosse word gekweek in grond wat nie deur gifstowwe besoedel is nie. Jou dieet speel ’n sleutelrol in jou gesondheid. Die vel het daagliks genoeg vars groente en vrugte nodig om voortydige veroudering te beveg.
Uit die aarde

Die lys van natuurlike bestanddele is eindeloos. Plant- en ander natuurlike ekstrakte word ingespan in die vervaardiging van skoonheidsmiddels om die vel te beskerm en te voed.

  • Heuning: Dit versag en bevog die vel
  • Kiwi: Ryk aan vitamien C, ’n anti-oksidant en ’n sagte saamtrekmiddel
  • Komkommer: Reinig sagkens en reguleer voginhoud.
  • Perdeblom: bevat verskeie voedingstowwe en minerale. Dis verfrissend en anti-inflammatories.
  • Sonneblom-olie: Opknapper vir hare en smeermiddel vir die vel.
  • Roosmaryn: Stimuleer die kopvel.
  • Bronkors: Ryk aan vitamien A en swael, wat met aminosure in die haarskag verbind sodat dit nie droog of bros lyk nie.
  • Ilang-ilang: Normaliseer olie-produksie.
  • Melk: ’n Strelende reiniger.
2017-11-01T08:14:12+00:00