Hartstog

Die land van groen genade

Deur Renette Buitendag | Foto’s Willem Kok

’n Onvergeetlike reis bestaan uit duisende perfekte oomblikke in ’n land wat sy eie taal praat en waar die reënwoude se groen vrede deur jou are spoel.

Daar is so baie dinge wat ek graag oor dié reis wil deel…

’n Ekspedisie na Borneo vroeër vanjaar het my laat besef dat die lewe tegelykertyd vrygewig en onvoorspelbaar kan wees. Dié land het my ingeneem met onbevange oorvloed en die realiteit van onsekerhede.

Borneo is die derde grootste eiland in die wêreld en die grootste eiland in die Maleisiese-argipel of eilandgroep wat 743 000 vierkante kilometer wyd strek. Borneo word omring deur Indonesië, Maleisië en Brunei. Dit is milddadig oortrek met reënwoude en die talle vleilande wat die woude deurkruis sorg dat baie dele van dié eiland ontoeganklik is. Verder is berg Kinabalu die hoogste punt in Borneo en troon dit 4 095 meter hoog.

Ontbossing het die afgelope paar jaar geweldige verandering in die habitat van plant en dier op die eiland teweeg gebring en die reënwoude is tragies besig om te verdwyn. Soveel so dat laagliggende woude teen 2020 moontlik iets van die verlede kan wees.

Net soos in Suid-Afrika is stropery ook hier ’n reuse-probleem en is baie spesies van plante, diere, voëls en reptiele op die punt om uit te sterf. Bo aan hierdie lys is die oerang-oetangs.

Toe RSG en Live the Journey aankondig dat Dave Pepler van Groen-faam ’n ekspedisie Borneo toe lei, het veertien van ons die kans aangegryp om saam te reis. Ek was nog altyd nuuskierig oor hierdie ver land met sy vreemde kultuur. So vlieg ons oos agter die maan aan en land ons in Kota Kinabalu, Maleisië.

Ons leer ken die kultuur

Die eerste dag se hoogtepunt ontvou in ons besoek aan die Mari-Mari Cultural Village in Kota Kinabalu, Sabah, Maleisië. Hier loop ons nuuskierig deur die huise van die plaaslike mense van Sabah en vind ons uit dat elke huis gebou is deur die voorvaders van die stamme van die Bajau, Kadzan en Rungus. Ons stap stil-stil terug in tyd.

Soos dit donker word, word daar vure aangesteek en die lig verander van grys na ’n warm koper. Dit laat my emosioneel en so in die vlamme se lig kan ek nie help om te dink dat ons oorvol lewens dalk afsteek teen hierdie mense se eenvoudige, kommervrye bestaan nie.

Mens en dier

Op dag twee besoek ons The Marine Ecology Centre (MERC) aan die kus van Kotakinabalu. Die hoofdoel van die sentrum is om beseerde reuse-mossels te rehabiliteer voordat dié mossels weer teruggeplaas word in die see. Hier word daar na sewe van die agt spesies wat bekend is aan die mens omgesien.

Die water in die tenks is inkblou. Ons steek ons hande daarin en raak aan die mossels en ander gladde seediere. Dis ’n vreemde gevoel om met jou hande só in die water te staan en dit laat mens verstom oor die verhouding tussen mens, dier en natuur wat steeds ’n wonderlike misterie is.

“Elke toerlid se staptog neem sy eie ritme aan. Tussendeur verduidelik Dave elke insek en plant se doel in die ekosisteem.”

Kinabalu Nasionale Park

’n Besoek aan die Kinabalu Nasionale Park (sowat twee ure berg-op vanaf Kotakinabalu) is ’n ondervinding waar jy jou hart en jou siel oorgee aan die grootheid van die Skepping. Jy hoor hoe die wolke oor die berg dans. Jy proe die rookmis wanneer die volmaan oor die aarde hang. Die reënwoud praat sy eie taal. Waar jy kyk is dit net kleur en Lig. Die son skyn deur die hemel en weerkaats op die groen heiligheid. In die stilte wemel dit van water. Verskillende kleure orgideë hang soos geheime aan takke en tyd staan stil.  Elke toerlid se staptog neem sy eie ritme aan. Tussendeur verduidelik Dave elke insek en plant se spesifieke doel in dié ekosisteem. Die atmosfeer ruik na eksotiese parfuum en oral fladder kleurvolle skoenlappers rond.

“’n Paar oomblikke later sien mens eers ’n ligrooi arm en toe ’n gesig wat met groot bruin oë versigtig om die blare loer.”

Die ‘wilde man’ van Borneo

Die Sepilok Orangutang Rehabiliation Centre, sowat 25 kilometer wes van Sandakan, is die tuiste van die “wilde man van Borneo” oftewel die oerang-oetang. Mis hang die blou lug tussen die groen takke vol. Jy hoor die roep van die coucal-vleiloerie en verlangs vlieg ’n drongo-byvanger verby. ’n Paar oomblikke later sien mens eers die ligrooi arm en toe loer ’n gesig met groot bruin oë versigtig om die blare. Ons staan en kyk na die mees enigmatiese van alle ape, die oerang-oetang.

Utan beteken “mens” in Maleisies. Dit kom weer van Hutan wat woud beteken. Dus beteken oerang-oetang letterlik mens van die woud. Die diere word tot 45 jaar oud en 97% van hulle DNA is soortgelyk aan dié van mense. Hulle is hoogs intelligent en gebruik hul lang arms om van een tak na die volgende te swaai. Hulle eet hoofsaaklik vrugte en slaap elke aand op ’n ander plek. Dit is hartseer om te weet dat hulle besig is om uit te sterf. Niemand weet regtig hoeveel oerang-oetangs daar nog oor is nie. Olie- en rubberplantasies het hulle habitat in die reënwoude stelselmatig begin oorneem. Ons hou die oerang-oetangs dop met meer vrae soms as antwoorde. God se skepping is oorweldigend en ons kan nie help as om Sy lof te besing nie.

Varswater vleilande en Sondagoggendmark

Die Kinabatangan Wetlands Resort lê ver suid en word omring deur die nipah-palms, wortelbome en varswater vleilande. Die eksotiese silwer langur– en hose langur-ape is van die spesies wat gereeld hier gesien kan word. Oppad na die oord hou ons by die Sandakan Sondagoggendmark stil. Die plaaslike inwoners sit by lang rye stalletjies waar alles waaraan jy kan dink verkoop word. Jillende kinders hardloop rond en dit is asof die wêreld uit sy nate bars. Terwyl ons vars lemoensap drink, hou ’n bruin, hardwerkende hand bloedrooi tamaties na ons toe uit. ’n Vrou geklee in ’n swart burkha stap verby. Op pad terug bus toe kom ons op ’n ou visserman af. Hy verstaan nie ’n woord van wat enigeen van ons sê nie, maar weier dat iemand ’n foto neem. Om hom lê ses groot horse shoe-krappe wat hy te koop aanbied as ’n unieke smulhappie.

Die markdag is verby, maar terug in die bus wag ’n verrassing. Een van ons toerlede het al ses krappe by die ou vissersman gekoop om terug te gooi in die see! En terwyl die son helder en hoog in die lug sit, gooi ons hulle een vir een terug in die water met die geloof dat hulle vir nog honderd jaar sal lewe! Daar is geen manier hoe mens Kinabatangan Wetlands Oord kan beskryf sonder om te vertel van die rykheid van die omgewing nie. Vroegoggend ry ons rivierlangs met die boot en om ons dans die wind as die son opkom. Op die oewer is dit stil en groen. En dan sien mens hoe die voëls een vir een hul koppe begin uitsteek en laag oor die water vlieg: storm-ooievaar, gryskop-visarend, kleinwitreier, vleiloerie, brahminy-valk, om maar net ’n paar te noem. Op die laaste aand – lank na donker – klim ons weer op die boot en vaar die vleilande binne. In die takke van die donker bome hang duisende vuurvliegies soos klein, wit gloeilampies. Ons kyk na die maan wat op sy rug op die see dryf.

As ek nou terugkyk na dié besoek aan Borneo wéét ek dat ’n mens net eenmaal in jou lewe so ’n reis moet onderneem – om weer jou eie paradys te vind en die wêreld in nuwe skakerings te sien. En om terug te kan kom huis toe met die wete dat die raam van die aarde steeds groen is en dat die woud vir altyd in jou hart sal bly asemhaal.

www.livethejourney.co.za   Tel: 021-863-6400

2017-12-09T16:00:10+00:00