Lééf gesond

Breekpunt

Deur Henk Gous | Foto Hanneri de Wet

Leer só hoe om lewenskrisisse in groeigeleenthede te verander…

Dieselfde gebeurtenis kan jou óf maak óf breek. Dieselfde krisis kan een mens laat groei, en ’n ander een knak. Die verskil tussen maak of breek, tussen knak of groei, is hoe jy dit hanteer, en of jy God se genade en wysheid daarin toelaat. Die verskil tussen ’n slegte einde en ’n nuwe toekoms is die sagte hande van die Here wat belowe: “’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes. 42:3).

Nie een van ons weet watter van daardie gebeure vir ons voorlê nie. Enige ramp kan op enige oomblik gebeur. Wat ons wel weet, is dat ons moet leer om dit te hanteer. Wat ons as gelowiges ook vir seker weet, is dat God saam met ons loop. Hy sal saam met ons alles wat gebeur ’n ander kleur en uitkoms gee, maar dan moet ons Hom bewustelik toelaat. Ook moet ons bewustelik sy wysheid soek. Hierdie soektog behels lees, gesels, bid en toepas. Hierdie sal jou daarmee help.

Stres is daardie gevoel of toestand wanneer ek beleef dat daar eise aan my gestel word. As dit uitdagings is wat hanteerbaar is, is dit goeie stres. As dit uitdagings is wat bo my vermoëns is om dit te hanteer, is dit slegte stres. Oor die algemeen gebruik ons die woord stres slegs in hierdie laaste betekenis. Ons praat van stres wanneer dinge buite beheer voel. Stres veroorsaak ’n aantal reaksies wat my help om gepas op hierdie veeleisende omstandighede te reageer. Stres sneller ’n verskeidenheid chemiese stowwe en fisiologiese reaksies in my liggaam wat elkeen ’n rol in streshantering speel.

Wat die Bybel sê oor stres

Elke gebeurtenis ontlok ’n mate van stres. Die Here het ’n mens se samestelling so ontwerp dat dit kan reageer op gebeure van buite. Wanneer ek ’n gebeurtenis waarneem, reageer my gestel daarop sodat ek gepas kan reageer. Hierdie reaksie is stres, fisiologiese meganismes wat my help om gepas te reageer.

Die woord “stres” kom nie in ons huidige Bybelvertalings voor nie. Die rede is deels dat die woord “stres” nog ’n relatief nuwe woord in Afrikaans is. Dis eers in onlangse jare dat die Engelse woord “stress” ook in Afrikaans gebruik word, met die verafrikaansde spelling, naamlik “stres”.

Die saak van stres is egter algemeen in die Bybel. Bekommernis is dalk die term in die Bybel wat die naaste kom aan die emosie van stres. Bekommernis is wanneer jou gedagtes verstrengel word deur gedagtes oor wat moontlik in die toekoms verkeerd kan loop. Die feit en realiteit is dat toekomsgebeure kan skeefloop en dat ons dit moet probeer bestuur. Die genadeboodskap van die Bybel is dat jou bekommernis nie onbeheerbaar hoef te word nie, want God sorg. Sy sorg is die faktor wat meebring dat jy nie onnodig hoef te stres of jou te bekommer nie.

In die Bergrede gee Jesus pragtige beelde oor hoekom toekomstige stres ons nie mag verlam nie. In Matteus 6:25-34 laat Hy ons kyk na die wilde voëls wat Hy versorg en die veldlelies wat Hy versier. Die gerusstellende boodskap is dan: “As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Die genadeboodskap van die Bybel is dat jou bekommernis nie onbeheerbaar hoef te word nie, want God sorg.

God is deel van die prentjie

Die eerste feit oor stres wat ’n gelowige dus in gedagte moet hou, is dat God deel van die prentjie is. Elke situasie wat stres veroorsaak, is in God se hand. Hy is bewus van elke behoefte. Ek kan dus my prioriteite verander: In plaas van krampagtig en eerste sorg vir my eie behoeftes, kan ek eerder op koninkryksake fokus. Dit beteken nie dat ek onverantwoordelik mag wees oor selfsorg nie. Dit word net ’n minder stresvolle aktiwiteit. Ek sal beslis nog werk vir kos en klere, maar met ’n rustigheid wat help dat ek juis beter funksioneer. Ek kan met groter rustigheid en sonder groot stres werk vir God se koninkryk, én vir my kos en klere. God sal dit alles seën.

Die Here sê in Matteus 6 oormatige stres is onnodig. Die interessante laaste reëltjie in Matteus 6:34 wys dat gesonde stres en genoegsame verantwoordelikheid albei deel is van ons lewens. Elke dag gaan moeilikheid bring, en dit verg dan ’n gepaste reaksie. Die gepaste reaksie is ’n reaksie wat in verhouding is met hoe groot die moeilikheid is; nie te veel nie, en nie te min nie. Môre se stres of bekommernis is vir môre, en moet nie vandag al wakker gemaak word nie. Fokus op vandag se situasies.

Volhard

Die woorde “volharding”, “beproewing” en “lyding” kan ook na stres verwys.

“Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.” Openbaring 3:10-11

Gelowiges wat Openbaring lees, leer daar hoe om hulle stres meer hanteerbaar te maak. Hulle ontdek: Christus het totale empatie met hul swaarkry, want Hy het dit ook deurgemaak. Hy hou hulle vas. Die beproewing is nie oneindig nie, want Hy kom gou. Hy kom nie net in die finale wederkoms nie, maar maak nou reeds ’n verandering.

Elke situasie wat stres veroorsaak, is in God se hand. Hy is bewus van elke behoefte.

Te midde van swaarkry

Swaarkry verwys na langdurige stres, wat die ongesondste tipe stres is.

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” 2 Korintiërs 4:17-18

Swaarkry word draagliker as daar iets sinvols uit voortkom. As swaarkry heerlikheid tot gevolg het, kry dit ’n totaal ander kleur. Heerlikheid is meer as net die eindtydtoestand. Dis ook heerlikheid wanneer jy nóú sinvolheid en groei beleef. Om egter sulke heerlikheid te kan beleef, moet jy leer om na ander dinge te kyk; dinge wat nie tasbaar en sigbaar is nie, maar wat nog kosbaarder is. Dit word moontlik deur jou fokus te verskuif.

*Uittreksel uit Breekpunt deur Henk Gous (CUM) met toestemming van die uitgewer gepubliseer.

2017-11-01T08:17:24+00:00