Lééf gesond

Stille wanorde

Deur Christine Ferreira | Foto Hanneri de Wet

Meer as 4 miljoen vroue in die wêreld ly aan volwasse aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD), sonder dat hulle dit weet.

 

Jou lessenaar is deurmekaar, jy verpas jou kind se netbalwedstryd, jy vergeet alles wat op jou doenlysie staan, dis nou te sê as jy een het! Jy is vergeetagtig, sukkel om te fokus en voel dat jy nie jou verantwoordelikhede kan hanteer nie. Het jy al ooit daaraan gedink dat jy dalk aan ADHD mag ly?

ADHD word moeiliker by vroue as by mans gediagnoseer. Die rede hiervoor is dat die simptome by vroue anders manifesteer as by mans en dat vroue dit ook anders hanteer.

Vroue met onbehandelde ADHD steek dikwels hul stryd en probleme goed weg, maar voel skaam, onwaardig en sukkel met ’n swak selfbeeld. Hul vind langdurige sosiale konneksie moeilik en voel gefrustreerd as dinge nie volgens plan verloop nie.

Vroue wat jare aan ADHD ly wat nie behandel word nie, is boonop dikwels depressief, angstig en sukkel met ’n swak selfbeeld.

Misgekyk

Reeds van ’n vroeë ouderdom word die diagnose van ADHD misgekyk by dogters. Vir elke nege seuns wat daarmee gediagnoseer word, word slegs een dogter gediagnoseer. Seuns met ADHD se simptome is makliker om raak te sien. Hulle is dikwels hiperaktief en toon gedragspatrone wat sake omverwerp. Ouers en onderwysers sien dit makliker raak en word die seuns daarom vinniger behandel.

By dogters lyk die simptome anders. Hulle is dikwels dagdromers wat hulself eenkant hou, hulle leef buite die kalklig by die skool en word die ADHD daarom nie raakgesien of behandel nie. Maar die siektetoestand het ’n groot impak op hul lewens. Vroue wat jare aan ADHD ly wat nie behandel word nie, is boonop dikwels depressief, angstig en sukkel met ’n swak selfbeeld. Uitputting, angs en slapeloosheid is simptome wat nie noodwendig met ADHD geassosieer word nie, maar waarmee baie vroue met ADHD sukkel.

Sosiale druk

Sosiale verwagtinge bemoeilik die lewe van ’n vrou wat aan ADHD ly. Vroue is veronderstel om van nature organiseerders, beplanners en ‘multi-taskers’ te wees. Dit is die vrou in die huis wat belangrike datums moet onthou en die gesin se dagboek fasiliteer. Vir die vrou met ADHD is hierdie ’n groot uitdaging, aangesien sy self sukkel om orde in haar alledaagse lewe te skep, vooruit te beplan of op een ding op ’n slag te fokus. Haar onvermoë laat haar dikwels aan haar eiewaarde twyfel. Verdere nagevolge is depressie, angs en selfs eetversteurings soos om buite beheer aan die eet te raak (binge eating).

Die erkenning van volwasse ADHD as ’n chroniese siekte wat behandeling benodig, is krities.

Dis nie kinderspeletjies nie

Dr. Renata Schoeman, ’n psigiater van Belville, Kaapstad, onderstreep die erns van hierdie steuring. “As dit verkeerd gediagnoseer of nie behandel word nie, kan die gevolge van volwasse ADHD baie nadelig wees vir die langtermyn-gesondheid van diegene wat dit het.

“Baie volwassenes met ADHD gaan vir die grootste deel van hul lewens sonder behandeling. Dit kan lei tot ’n aansienlike toename in die risiko vir ander psigiatriese toestande soos angs en gemoedsversteuring, asook dwelmmisbruik. In die werkplek kan hul swak tydsbestuur, doelwitstelling, stresbestuur en organisatoriese vaardighede ’n aansienlike impak op hul werknemers hê.

ADHD word gekenmerk deur kwaai en beperkende vlakke van onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. As ’n sogenaamde ontwikkelingsiekte word simptome reeds in die kinderjare duidelik. Hoewel sommige kinders hul ADHD skynbaar ontgroei, is dit meer ’n geval dat sommige meer bedrewe word met die bestuur van die simptome en dan eendag as volwassenes vergoed vir hul ADHD-verwante gebreke deur leefstyl- en loopbaankeuses.”

Volgens dr. Schoeman word volwassenes wat aan ADHD ly dikwels deur hul tydgenote en familielede beskou as goeie beginners maar swak voltooiers, swak luisteraars, swak organiseerders, aandag-afleibaar, vergeetagtig, ongeduldig en mense wat nie konsekwent is nie.

“Mense met ADHD is dikwels hoogs intelligent en baie kreatief met ’n laterale en analitiese denkwyse, maar dikwels leef hulle tog ’n lewe van onder-prestasie en volgehoue mislukking op akademiese gebied en in die werkplek, met interpersoonlike konflik, huweliksprobleme en finansiële moeilikheid,” sê sy.

Die erkenning van volwasse ADHD as ’n chroniese siekte wat behandeling benodig, is krities.

Daar ís uitkoms

Indien jy enige van hierdie simptome herken en wonder of jy aan ADHD ly, is dit wys om ’n dokter of sielkundige te raadpleeg. ’n Akkurate diagnose en toepaslike medikasie kan die simptome verlig en jou help om jou lewe beter te bestuur.

Volgens Psigiater, dr. Rykie Liebenberg van Bryanston, Johannesburg kan onbehandelde ADHD chaos in jou persoonlike, professionele en gesinslewe tot gevolg hê.

“Vroue het soveel rolle om te vertolk beide tuis en by die werk. Dis in hierdie konteks dat die simptome van ADHD sterker na vore kom. Die meeste vroue met ADHD wat ek mee te doen het, is ma’s met kinders wat met ADHD gediagnoseer is. Hierdie steuring kan ’n dramatiese impak op die lewens van so ’n gesin hê.

“Wees op die uitkyk vir simptome soos angs, rusteloosheid, moegheid en ’n gebrek aan konsentrasie. Met die regte ondersteuning van vriende en familie en effektiewe medikasie kan ADHD bestuur word en kan jy ’n vol en bevredigende lewe lei.”

Besoek www.myadhd.co.za vir meer inligting.

2017-09-30T11:00:00+00:00