Lééf in oorwinning

’n Gewone dag

 Foto’s Sebastien Dubois

Annamari Botha (70) van Worcester deel in hierdie persoonlike vertelling nie net die seer van haar seun, skrywer Jaco Botha (44), se selfdood nie, maar ook die hoop in Christus wat vir elkeen van ons wag.

“Dit was ’n Woensdagoggend en mens kon die laat-lente in die vroeë oggend proe. Die digter se woorde: ‘Dit is die maand Oktober’ het in my gedagtes opgekom, terwyl ek met die lekker geur van ’n koppie koffie in my hand by die venster uitkyk hoe die vlieswolkies die nuwe dag aankondig.

“My man, Piet, het so drie weke gelede ’n retina-loslating gehad en na ’n noodoperasie in die Kaap het dit maar hak-en-tak gegaan. Hy, wat ’n baie onafhanklike persoon is en graag dinge op sy manier doen, moes ewe skielik baie afhanklik van my wees om iewers heen te gaan, aangesien hy nog nie kon bestuur nie. En op hierdie gewone dag moet hy ’n persoon in Bonnievale as prokureur gaan verteenwoordig. Ek is ’n gewillige bestuurder, want die dag is mooi en ek het reeds besluit om myself sommer ’n bietjie tyd af te gee om iewers by ’n lekker koffiewinkel te gaan kuier, terwyl hy die saak in die hof besleg.

“Ons vertrek net na nege uit Worcester en ry met die pad deur Robertson na Bonnievale. Die plase en die bougainvilleas is ongelooflik mooi en as my man se saak nie hoofsaak was nie, sou ons sekerlik gestop het om die wonderlike natuur in te asem. Ek voel ’n opgewondenheid in my opborrel oor die lewe. Alles om ons lyk of dit skoongewas en geverf is met ’n Hand uit die hemel.

‘So baie om voor dankbaar te wees’

“Op pad gesels en ek en Piet oor alles en nog wat. Veral oor ons kinders en kleinkinders wat ons baie na aan die hart lê. ‘Weet jy my skat, ek het net gister met Jaco gepraat en hy klink so gelukkig en tevrede. Ek is só dankbaar dat hy na sy egskeiding weer moed het vir die lewe wat voorlê.’

“‘Ja’ antwoord Piet, ‘Hy het ook vir my gesê dat daar meer goeie dinge as slegte dinge met hom gebeur. En sy vriend Henry het ook laat weet dat hy baie by hom en sy familie kuier en dat hulle saam braai en musiek maak.’

“‘Ek is so dankbaar dat hul huise na aan mekaar is en hulle darem kontak het. Hy stap ook elke dag met die honde langs die see en dit is die hoogtepunt van sy dag.’

“En so begin ons te praat oor die afgelope jaar toe Jaco en sy vrou deur ’n uiters moeilike egskeiding gegaan het. Oor die verlies van hul babadogtertjie in ’n miskraam en alles wat daarna gevolg het. Vir lank het hy haar sterk bygestaan, maar toe haar voete weer op vaste grond was, het hý aan depressie begin lei. Egskeiding was op die ou einde die gevolg van alles wat hulle moes deurmaak.

“Ons harte was dankbaar dat hy ingestem het om vir behandeling te gaan en dat ons kon sien dat hy begin beter word. ‘Ons het soveel om voor dankbaar te wees’, is my en Petrus se sê-ding aan mekaar.

“By Bonnievale aangekom, laai ek Piet by die hof af en gaan soek na ’n lekker koffiewinkel. In die hoofstraat kry ek ’n oulike plekkie en maak myself tuis, lees die koerant, eet ’n geroosterde kaasbroodjie, drink koffie en bestel ook ’n wegneem-ete vir Piet. Om die tyd te verwyl, stuur ek ’n paar lawwe boodskappies op my selfoon na vriendinne om hulle ook te laat weet waar ek is en wat ek doen.

“Na sowat ’n uur gaan laai ek Petrus op en pak ons weer die mooie pad huis toe aan. ‘Sal ons nie by Van Loveren stop en eet nie?’ Maar ek kan sien dat hy maar moegerig is en eerder by die huis wil kom. Dus sit ek maar voet in die hoek en stoot aan huis toe, sodat hy sy middagslapie kan inkry. Gelukkig het ek die wegneembroodjie wat hy sommer in die motor kan eet.

Slegte tyding

“Terug by die huis, mik Piet dadelik vir die slaapkamer en ek besluit om sommer ’n bietjie op die bank te gaan skuinslê.

“Dit was net na een namiddag op hierdie gewone dag in Oktober, die mooiste, mooiste maand toe ek ’n ligte kloppie aan die voordeur hoor. Dit is my dogter Hester, wat ook op Worcester bly en op pad is om die kinders by die skool te gaan oplaai. Maar toe sy groet, kom daar ’n beklemming om my hart. ‘Wat is dit Hes?’ Ons ken mekaar te goed en ek weet sy is hier oor iets ontsettend ontstellend.

“‘Ma, dis Jaco, hy het selfdood gepleeg’. Dit voel of ’n bom gebars het en jy weet nie waar die skerwe of stukke getref het of geval het nie. Alles is onwerklik en ek staan verdwaas voor hierdie afgryslike nuus. Ons val in mekaar se arms en ween, skree, huil. Wat nou? Piet word wakker en hoor die verskriklike nuus op hierdie gewone dag in Oktober.

“Ek storm na die badkamer, slaapkamer, enige plek waar ek net kan huil soos ’n hond. En ek wil skree soos Totius: O die pyngedagte my kind is dood!

En nou bevind ek my op hierdie onbekende pad, nog nie vir lank nie, maar my volle vertroue is in Hom wat die belofte gemaak het en ek glo Hy sal dit waar maak.

Here, wat nou?

“’n Duisend vrae flits deur my gedagtes en dis asof ek na ’n fliek in stadige beweging kyk. Sy geboorte, sy grootwordjare. So ’n talentvolle seun, man. In die fleur van sy jare weggeruk. Hoe leef mens met dit saam. Ek wil skree….STOP! Maar die lewe beur voort en elke dag gebeur al die gewone dinge – slaap, eet, opstaan, werk – maar níks is meer dieselfde nie.

“In my hart wil ek uitroep tot God: Hoe kon Hy dit toelaat? As ek terugdink aan die vorige Kersfees wat ons as gesin bymekaar was en hy ons op die kitaar begelei het terwyl ons gesing het ‘Die Here is my Herder’. Ek onthou ’n hemp van hom wat na ’n kuier hier agtergebly het. Ek gaan haal dit en druk dit teen my neus, teen my liggaam, asof ek homself vashou. Ek ruik hom aan die hemp en dit voel vir my of ek in stukke breek.

“En op hierdie gewone dag in Oktober gryp die Here my vas en sê: “Kom rus hier teen My, leun teen my, Ek hou jou vas en Ek sal jou vashou en deurdra op hierdie pad waarop jy jouself bevind. Ek is jou Trooster en al gaan dit nie maklik wees nie, is Ek by jou vir altyd.

Ek dra jou…

“En nou bevind ek my op hierdie onbekende pad, nog nie vir lank nie, maar my volle vertroue is in Hom wat die belofte gemaak het en ek glo Hy sal dit waar maak. En hoewel dit vir seker een van dié pynlikste paaie wat ’n mens kan loop, weet ek, ek loop nie alleen nie.

“Ons kry ’n uitnodiging na ’n fees waar ons kind vereer word vir sy werk. My hart is maar benoud, want mens wil ook in ’n stadium net weer normaal wil voel en nie huil-huil deur die lewe gaan nie. Ek en my ander twee kinders, Hesca en Bertus, besluit om te gaan, maar my man besluit om te bly. En weereens ervaar ons die getrouheid van die Trooster. Die aand is ’n fees van vrede en vreugde. Ek hoor en ervaar hierdie kleurryke, talentvolle kind van my deur geskrewe woorde, drukkies en glimlagte. In stede daarvan om hartseer te wees, besef ek opnuut hoe geliefd en bemind hy was deur almal wat hy aangeraak het. So kan ek ook te midde van soveel dankbaarheid afskeid neem van sy loopbaan. Hy sal nie weer skryf of sing nie, maar dit wat hy geskep het, is vir ewig in ons harte vasgevang.

“So loop ek hierdie pad nou dag vir dag, tree vir tree met die wete dat Jaco sy roeping en lewenspad voltooi het en al is sy lewe op die mees ondenkbare wyse beëindig, kan ek aanhou om die mooi wat hy na hierdie wêreld gebring het, in my hart te koester.

“As kind het ek dikwels myself ingedink om gewigloos op ’n wolkie te sweef. Nou ervaar ek dat daardie droom waar word, want my gedagtes en emosies voel toegevou in ’n sagte genade-kombersie. Alles wat pynlik en sleg was, bly so half vaag en op die agtergrond, en al die mooi, edel en goed in my kind is nou op die voorgrond.

“Dit laat my dink aan die yskasmagneet wat in so baie kombuise pryk. Twee rye voetspore. Eers sien mens twee rye voetspore en dan later net een ry. Die vraag is dan waar is die persoon wat saamgestap het aan die begin? En dan die antwoord: “Dit is toe Ek jou gedra het.”

“So is dit vandag en so was dit gister. Ek ken nie die toekoms nie, maar ek ken Iemand wat die toekoms ken en ek vertrou Hom. Soos die Skrif sê: ‘Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken.’ (1 Kor 13:12)”

2017-12-09T17:31:55+00:00