Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

 

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte

Saamgestel deur Cas Vos (Lux Verbi)

Hierdie is ’n versamelbundel van die gewildste Christelike gedigte in Afrikaans. Dié lieflike bundel is saamgestel deur Cas Vos en sluit onder meer gedigte in van Boerneef, D.J. Opperman, Elizabeth Eybers, Ingrid Jonker, Lina Spies, I.L de Villiers, Sheila Cussons, T.T Cloete, Ronelda Kampfer en Daniël Hugo. Dit is ’n toeganklike bundel vol pragtige poësie, perfek vir aanhaling by menige geleenthede. R280.

My storie van hoop

Deur Hykie Berg (Lux Verbi)

Hykie Berg was op die kruin van die golf – hy was ’n suksesvolle akteur en in die wêreld se oë het hy alles gehad wat ’n mens kan begeer. Tot op ’n dag dat hy iemand in ’n badkamer op stel dwelms sien gebruik het en hy so hard teruggeval het in sy ou gewoontes dat hy by die dood omgedraai het. Hierdie boek volg hom deur die dwelmhole in Hillbrow, tot in Botswana en uiteindelik waar hy tot stilstand kom, in ’n maksium-sekuriteitsel in die Weskoppies-psigiatriese hospitaal. Hier kom red God hom van ’n gewisse dood. Dié boek vertel ’n verhaal van God se groot genade en is ’n getuigskrif daarvan dat Hy ons nooit verlaat nie. R180.

Bou ’n rotsvaste huwelik

Deur Jimmy Rvans & Allan Kelsey (Struik Christian Media)

Vir baie paartjies is die onvermoë om hulself en ook hul lewensmaat ten volle te verstaan, een van die grootste struikelblokke om ware geluk in hul huwelik te vind. In hierdie boek rus twee kenners jou toe om daardie struikelblok vir altyd te oorkom, en om ’n dieper en ryker verhouding met jou maat te bou. Deur die onthullend konsepte van Gallon se bekende Clifton Strengths Finder-assesering op die huwelik toe te pas, bied Evans en Kelsey nuwe insig om jou te help om jouself en jou maat beter te verstaan. R159.95

Softness of the Lime

Deur Maxine Case (Umazi)

Hierdie roman is gebasseer op ’n ware verhaal wat in die agtiende eeu afspeel. Lena word as slaaf verkoop en verlang terug na Madasgaskar waar sy vandaan kom. Die verhaal speel af oor ’n periode van meer as tagtig jaar teen die agtergrond van ’n tyd in die Kaap waar handelaars, politici, boere en fortuinsoekers met mekaar meedoen om die besit van van alles – selfs mense. R250.

Hallo, hekel

Deur Cornel Strydom, Elsbeth Eksteen en Anisa Fielding (Human & Rousseau)

Hekel is die nuutste handwerkgier wat nou deur oud en jonk beoefen word. In Hallo, hekel word ’n enkele patron geneem en op vier verskillende maniere vertoon na gelang van jou styl – hetsy boheems, kunstig, kontemporêre of romanties. Patrone, wat wissel in moeilikheidsgraad, sluit mooi goed vir jouself, jou huis, babas, kinders, en selfs geskenke in. Daar is iets vir almal, asook voorstelle om dieselfde patroon vir meer as een projek te gebruik. R310.

Hiding From The Kids In My Prayer Closet

Deur Jessica Kastner (CUM)

In hierdie boek moedig die skrywer ma’s aan om te erken dat hul nie perfek is nie en wys sy die leser hoe genade en humor van die belangrikste reddende faktore in die reis van moederskap kan wees. Sy deel haar eie ervaringe as ’n glad-nie-so-perfekte ma en help vroue om dié ma’s te wees wie God hule bedoel het om te wees. R229,95

Prayer for Difficult Times – Cancer

Deur Ellyn Sanna (CUM)

Hierdie boekie is ’n praktiese gids wat jou sal help om met selfvertroue te bid, veral gedurende moeilike tye. Die boek is spesifiek gemik op kankerlyers, sowel as diegene wat die pad saam met hulle stap. Die gebede in hierdie boek bied hoop en vertroosting en word onderwerpe soos die diagnose, wanhoop, vrees en pyn, sowel as woede aangespreek. Daar is meer as 400 gebede vir bykans 50 onderwerpe wat jou sal help om te kan bid gedurende hierdie moeilike tyd in jou lewe. R79,95.

Sugar-free & Carb-conscious Living

Deur Monique le Roux-Forslund (Struik Lifestyle)

Hierdie resepteboek is gebasseer op die suikervrye en lae koolhidraat-beginsel as dit kom by jou dieet. Die skrywer fokus op tuisgemaakte, voedende maaltye wat jou versadig sal laat voel en nie na suiker sal laat smag nie. Daar is wenke en maklike resepte vir van ontbyt tot aandete, vir versnaperinge sowel as souse. R240.