Boekuittreksel

Liefde maak heel

Deur Helena Hugo

In Liefde maak heel moet die mooi donkerkop, Isabelle Karstens, die pad van vergifnis begin stap ná haar stryd teen vetsug. Eers het sy geeët om haar diepste seer – die stukkende verhouding tussen haar en haar ma, die verwerping van haar skoolmaats – te verwerk. Nou “leef” sy. Waar kos voorheen haar pynstiller was, gryp sy na ander maniere om haar pyn te verwerk. Maar in die proses lei sy ’n dubbele lewe en jok sy vir die jong dominee, Adam Wiese…

Stap saam met Isa die pad om te ontdek wat beteken die ware bevryding, wat deur God se geskenk aan die mensdom moontlik gemaak is.

Helena Hugo is ’n gewilde romanskrywer en het al verskeie fiksietitels die lig laat sien. Dié jongste roman word deur Struik Christian Media uitgegee.

Uittreksel

“Kind, het jy jou werk verloor?”

“Eintlik het ek self aangebied om te bedank.”

“Wie gaan die rekenings doen?”

“Ek sal dit in my vrye tyd tuis behartig.”

Tannie Hannie glimlag asof Isa skielik in ’n engel verander het. “Jou ouers sou trots op jou gewees het, so ’n groot opoffering. Gelukkig het jy nog jou pensioen van Steyl en Kleinschmidt.”

Isa skud haar kop. “Ek het dit verloor toe ek by die kerk begin werk het. Johann het my op ’n klousule in die posbeskrywing gewys.”

“Sit jy nou sonder ’n inkomste?”

“Oor drie maande, maar ek het nog my sketse. Die mense bestel so fluks, ek kan nie voorbly nie.”

“Dit gaan jou nie aan die lewe hou nie. Wanneer trou jy en Adam?”

“Eers volgende jaar in die winter.”

“Julle is verstandig om te wag. As dit so gaan by die kerk, kan hy ook nie seker wees van sy pos nie. Wat van kontantvloei?”

“Ek sal aansoek doen dat die rente op my beleggings maandeliks uitbetaal word, nie dat dit veel sal help nie. Intussen doen ek aansoek vir ander werk.”

Tannie Hantie spring op. “Weet jy wat, hierdie terugslag is jou teken. As Johann nog nie weer ’n vaste aanstelling gemaak het nie, kan jy jou ou werk terugkry. Bel hom, lig hom in, sê vir hom jy’s beskikbaar.”

“O nee, ek kan nie, nie ná al die kere wat ek sy aanbiedings van die hand gewys het nie. En noudat ek in die knyp is, is hy skielik goed genoeg!”

“Los dit vir my. Ek sal diskreet verneem hoe hy deesdae met sy nuwe assistent oor die weg kom. Hy het teenoor my erken sy werk flink, maar hy hou nie van haar nie.”

Hier kry sy nou presies wat sy kom soek het, maar skielik raak Isa op haar senuwees. “Miskien het hulle intussen reggekom,” wil sy wal gooi.

“Ek weet nie, nie soos hy haar voorkoms beskryf het nie.”

Isa kan nie glo dat tannie Hantie dit snaaks vind nie. Of dalk is haar senuagtige laggie bedoel om haar ongemak te bedek. Johann kan nogal grappig wees, maar ook ongevoelig. ’n Gesprek wat nie vir haar ore bedoel was nie, kom vir die soveelste keer by haar op. Sy sit in die ontvangskamer van oom Hannes se kantoor en hoor elke klipharde seermaakwoord: “Die blob wat vir jou werk. Sy sit asof sy geplant is in haar eie spek. Wie het Pa gesê is sy? Isabelle Karstens, die Karstens-dogtertjie. Dogtertjie! No ways, as ek hier intrek, is sy die eerste een wat waai. Dié dat die firma ondergaan. Hoor my lied, in hierdie bedryf is image belangrik en daai overdressed blompot agter daai lessenaar is nie my idee van image nie.”

So duidelik hoor sy dit, so helder asof dit gister gebeur het en nou weer vir haar as waarskuwing moet dien. Maar nou wil sy vir haarself lag. Hoe kan Johann se beledigings haar nog pla as dit nie meer op haar van toepassing is nie? Hy is ’n arrogante, hoogmoedige chauvinis wat dink hy is elke vrou se droom, maar sy is genees van hom en sy sal hom wys. Tannie Hantie maak nog verskonings vir hom, maar iewers het dele van haar betoog verlore gegaan. Dit maak nie saak nie: Isa het dit, of ’n variasie daarvan, al male sonder tal gehoor.

“Die aanhoudende personeelveranderings is besig om die firma groot skade te berokken. Johann het hoë standaarde en hy sal nie permanente aanstellings maak as hy nie tevrede nie. My arme kind, sy reputasie is in die weegskaal omdat hy ’n perfeksionis is. Besef jy hoeveel assistente het hom al in die steek gelaat? Kom en gaan soos hulle wil, weet nie wat hulle doen nie en kan nie die pas volhou nie. Dié een klink my na die beste wat hy dusver kon kry, maar ek glo nie sy gaan dit enduit maak nie. Hy sê sy kou haar naels.”

Isa neem ’n sluk van haar louwarm koffie en luister na Tannie Hantie se weergawe van die waarheid. Tannie Hantie is bekommerd oor Johann, oor die firma, oor oom Hannes se nalatenskap. Sy reik uit, sy skerm vir Johann, sy is die verleë een wat sy ongewildheid wil regverdig.

“Hy word maer van spanning, lyk al meer soos sy pa die laaste paar maande voor sy dood – daai intense trek om die mond, die krom skouers. Isa, glo my vry, jy is die enigste een wat nog kan help. Jy en Johann is bestem om Steyl en Kleinschmidt weer in ere te herstel. Dink tog daaraan. Ons het jou nodig.”

Tannie Hantie se oë blink van trane. Sy is doodernstig en dis meer as wat Isa kan verduur. So maklik, so maklik word die bordjies verhang – en is dit noodwendig reg?

“Ek sal wag en kyk,” sê sy sag-vertroostend, “ek sal dit oorweeg.”

“Dankie, my kind, dankie dat jy verstaan.”

Tannie Hantie sit haar hand op haar arm. Sy kyk in haar oë en op daardie oomblik besef Isa dat tannie Hantie presies weet hoe Johann haar beledig het en hoekom sy Steyl en Kleinschmidt daardie dag maande gelede in so ’n toestand verlaat het. Wat sal tannie Hantie sê as sy haar donker gedagtes vir haar blootlê, as sy moet weet dat sy vir Johann wil werk om wraak te neem?

Wen!

Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Liefde maak heel wen. Stuur ’n epos met jou naam en kontakdetails aan navrae@leef.co.za saam met die antwoord op hierdie vraag: Wat is naam van die skrywer van hierdie boek?