Kuier by

Kom kuier op Kakamas

Deur Paul von Molendorff

Vir Niel en Anelma Steenkamp is hul pragtige Vergelegen Gastehuis naby Kakamas in die Noordkaap ’n gedeelde droom en passie.

Wonderwerke gebeur elke dag. Ons verstaan nie altyd hoe dit gebeur nie, maar tog weet die Here net wanneer om wat, of wie, oor jou pad te bring. Dit was ook die geval toe Anelma en Niel Steenkamp se lewenspaaie ongeveer 20 jaar terug gelede gekruis het. “Ek het nog daardie jare in Upington gewerk toe ek Niel ontmoet het. Ons het onmiddellik ’n konneksie met mekaar beleef” vertel Anelma oor ’n koppie koffie in die eetvertrek van hul stylvolle gastehuis net buite Kakamas. “Op ’n dag het Niel my uitgevra oor die droom vir my lewe. Ek was nog altyd lief vir kosmaak en wou graag my eie restaurant bedryf. Niel se droom was weer om ’n gastehuis te kan bedryf. Ek glo steeds dit was ’n bestiering van Bo dat twee mense wie se passies en drome so goed bymekaar inskakel, se paaie moes kruis.” So is die droom om ’n pragtige gastehuis, genaamd Vergelegen, teen die Oranjerivier te vestig, twintig jaar gelede gebore. “Ons het op dié naam besluit aangesien ons so ver van die meeste groot stede geleë is.” “Ons het God se seën oor die gastehuis al sommer van die eerste dag af beleef. Niel se ouers was in hierdie stadium al jare lank huisvriende met Charles Haupt, die stigter van Radiokansel. Die Dinsdagoggend voor ons die gastehuis geopen het, was Oom Charles toevallig in die dorp en het hy die plek vir ons kom inseën” vertel Anelma.

“Ons het God se seën oor die gastehuis al sommer van die eerste dag af beleef”

Aan die begin..

Vir die eerste ruk na die gastehuis geopen het, het Niel en Anelma in ’n motorhuis op die perseel tuis gegaan. Toe hulle nog kamers benodig, is die einste motorhuis omskep in ’n gastekamer en was hul nuwe tuiste die kombuis. Ek onthou nog die koue!” lag Anelma. Anelma en Niel het die gastekamers en restaurant saam ontwerp en Niel het die bouwerk behartig. Die stylvolle kleurskema en dekor is presies volgens hul smaak. “Ons is albei kunssinnige mense en hou daarvan om goed mooi te maak” gesels Anelma. Nie net plaaslike gaste nie, maar ook kuiergaste van oorsee, keer telkens terug. Vergelegen se restaurant spog met ’n unieke spyskaart met ongewone pittige beskrywings van elke dis. Streekskos vorm deel van die spyskaart. “Ek is baie lief vir kosmaak en hou daarvan om unieke disse vir gaste voor te berei. As gaste vir ’n wyle vertoef, maak ek seker dat ek self iets spesiaals vir hulle voorberei” vertel Anelma. Hoewel die gastehuis teen die grootpad lê is die uitleg van die gastehuis van so ’n aard dat die geraas en klanke van die pad gaste nie sal pla nie. Die moderne kamers, pragtuin en ander geriewe het ’n vierster-gradering deur die Suid-Afrikaanse Toerisme Graderingsraad aan Vergelegen besorg. Die gastehuis het oor die afgelope twintig jaar gegroei en ontwikkel tot ‘n gevestigde gastehuis in dié deel van die land. “Ons perseel is net so groot en ons kan ook net soveel uitbrei. Elke jaar dan sê ons dis nou klaar en voor ons, ons oë uitvee dan bou ons maar weer aan.” Anelma vertel verder dat hulle daaraan dink om ’n mooi uitkyk-kuierplek by die restaurant te bou waar gaste die mooi sonsondergang en natuurskoon van die omgewing kan geniet. “Maar dis nog net ’n idee!”

“As ons dit weer moes oordoen, sal ons dit alles weer dieselfde doen”

Elke dag ’n wonderwerk

“’n Tweede wonderwerk wat die Vader oor ons pad gebring is, is ons kinders.” Na vele probeerslae en alle moontlike opsies probeer is, kon Niel en Anelma steeds nie swanger raak nie. “Tog het die Here die versugting van ons hart geken.” In 2013 is hul geseën met die aanneming van ’n babaseuntjie en in 2015 met die aanneming van ’n baba-dogtertjie. “Dis regtig twee wonderwerke wat jy elke dag voor jou oë sien grootword.” Die Steenkamps werk elke dag hard daaraan om ’n gebalanseerde lewe te handhaaf met ’n uitstaande gastehuis, restaurant en twee kleingoed wat baie liefde en aandag benodig. Hul geloof speel ’n belangrike rol in hul lewens. “Ons bid baie!” Beide Anelma en Niel weet met ’n vaste wete dat slegs deur krag van Bo hul die struikelblokke op hul lewenspad kon oorkom. “Dit was glad nie maklik nie. Ons het menigmaal ons heel laaste reserwes gebruik in terme van ons menswees, finansies en moed bymekaar skraap om te kon aangaan. Maar ons sou dit op geen ander manier wou doen nie. As ons dit weer moes oordoen, sal ons dit alles weer dieselfde doen. Die sukkel en stoei om jou droom te laat leef, sorg dat jy dit net soveel meer waardeer as dit die dag waar word en jy die dinge bereik waaroor jy gedroom het. “Dít het ons geleer; God sal altyd daar wees om jou te dra en moed te gee as dinge swaar raak. Soms voel ’n mens as of alles wat jy aanpak ’n mislukking is en dat jy nie kans sien om aan te gaan nie. Maar as jy jou oë weer rig op die lewende Vader en álles aan Hom oorgee, sal daar ’n dag kom wat jy besef dat te danke aan Hom en Sy goedheid, jou lewe elke dag ’n wonderwerk is.”

2017-12-09T15:47:58+00:00