Kuns van Lééf

Hallo, hekel!

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet

Anisa Fielding, Cornel Strydom en Elsbeth Eksteen se geesdrif en liefde vir hekel is aansteeklik en sal selfs die onhandigste noop om die hekelpenne nader te trek.

Vir dié drie kreatiewe vriendinne en bloggers is hekel baie meer as net ’n stokperdjie, dis ’n passie. Soveel so dat hulle werk en patrone op ’n vrolike en kreatiewe manier in ’n nuwe boek, genaamd Hallo, hekel!, vervat is. “Die titel van die boek sê hoe ons oor hekel voel, behaaglik. Hekelwerk is baie dinge vir baie mense. Dis ’n taamlike fenomeen.”

Hekel is die nuutste handwerkgier wat wêreldwyd te sien is en nou deur oud en jonk beoefen word. “Baie mense glo dis ’n vaardigheid wat aan die uitsterf is, maar ons weet wat die waarheid is: baie vroue en meisies beoefen hekelkuns. Vir ons lê die bekoring van hekelwerk in vriendskap. Dit is natuurlik so dat hekelwerk ons verbind. Wat is méér nodig in ons moderne wêreld as on verbind te voel, nodig te voel, te voel jy word waardeer en bewonder? Ons moedig vroue aan om tyd saam deur te bring, nuus te deel, koffie te drink en natuurlik te hekel! Om iets spesiaals vir iemand te skep en te kyk wat gebeur.”

‘Ons bring gehaltetyd saam deur deur net te sit en hekel en mekaar aan te moedig om meer breidraad by ons voorraad te voeg!’

Vir Anisa, Cornel en Elsbeth is die hoofbestanddeel van hul vriendskap hul gedeelde liefde vir hekel, breidraad, teksture en pragtige patrone. Al is hul op verskeie maniere baie verskillend van mekaar.

Hul blog ‘hellohart’ was die voorloop tot die boek. Hier deel die drie patrone en wenke en word daar oor die jongste hekelneigings gesels. “Die boek was ’n natuurlike uitvloeisel van dit wat ons reeds mee besig was.” Dié drie vroue neem ’n jaarlikse hekelvakansie saam by ’n strandhuis aan die kus. “Ons noem dit die ‘hekelolympics. Ons bring gehaltetyd saam deur deur net te sit en hekel en mekaar aan te moedig om meer breidraad by ons voorraad te voeg! En natuurlik eet ons lekker en drink heerlike wyn en vonkelwyn. Ons gaan altyd in die winter, dus kan daar nie geswem en in die son gelê word nie. Ons geniet die kaggel, ’n lekker pot tee en ons breidraad en los ons, terwyl ons hekel, sommer die wêreld se probleme op, deel ons diep geheime en giggel ons te lekker.”

Dit was tydens so ’n hekelvakansie nie lank gelede wat die idee vir die boek ontstaan het nie. Die boek weerspieël elk van die drie se eie kenmerkende styl en is ’n viering daarvan dat hul so verskillend van mekaar is en tog so eenders.

“Aan ’n boheemse gees is geen perke nie! Kry jou helderkleurigste breidrarde uit, gee jou verbeelding vrye teuels en druk jou eie stempel af op dit wat jy maak.”

As kind het Cornel (48) van Pretoria meer daarin belanggestel om popklere te maak as om met haar poppe te speel. Op twintigjarige ouderdom het sy haar eie wol gespin en gekleur. Cornel is ’n gekwalifiseerde binneshuise ontwerper met ’n passie vir permakultuur (’n sisteem van boerdery en tuinmaak wat saam met die natuur werk) wat in haar vrye tyd hekel of brei en foto’s neem.

“Dit was vir my heerlik om ons ontwerpe vir die boek in “n vars en kontemporêre styl weer te gee. Ek hou daarvan om nostalgiese eeue-oue tegnieke en eenvoudige gereedskap te gebruik om uitdrukking aan my kreatiwiteit te gee. Ek werk graag met weelderige breidrade en hou daarvan om tydlose, stylvolle stukke te skep wat bruikbaar en drabaar is en aandag om die regte redes trek. Volgens my pas kontemporêre hekelwerk perfek in ’n stadsomgewing, waar die neiging minimalisme en eenvoud is, met die klem op basiese vorms en eenkleurigheid.”

Elsbeth (43) woon ook in Pretoria en is van kleintyd af kunstig en was krabbel as kind haar gunsteling tydverdryf. Sy vertel hoe haar konstante obsessie om goed te maak haar na die pad van hekel gelei het waar elke bol wol die wonderlikste moontlikhede inhou.

“Vir my is die versameling patrone in die boek waarvoor ek verantwoordelik was ’n viering van die unieke en die ongewone en eksperimentele interpretasie van ’n hekelpatroon en diagram. Ek speel graag met breidraai en geniet altyd ongelukke wat gebeur wanneer ek besluit om ’n paar reëls te verbreek – veral oor watter hekelpen ek moet gebruik en watter soort breidraad bymekaar pas. Kleur, tekstuur en patroon speel ’n groot rol in hoe ek met patrone speel.”

Anisa (50) woon in Johannesburg en is by die advertensiewese en die akademie betrokke en hou daarvan om haar met goed te omring wat stories vertel en het altyd ’n hekelpen en wol in haar handsak. “My ouma het my op die ouderdom van vyf al leer brei”. Haar ma, Trudi, het haar ongeveer tien jaar gelede leer hekel. Anisa se liefde vir die boheemse kry uitdrukking in verbeeldingryke, kleurryke hekelpatrone. “Aan ’n boheemse gees is geen perke nie! Kry jou helderkleurigste breidrarde uit, gee jou verbeelding vrye teuels en druk jou eie stempel af op dit wat jy maak.”

Hallo, hekel word uitgegee deur NB Uitgewers. Alle foto’s en uitreksels is met toestemming van NB Uitgewers gepubliseer.

2017-12-09T17:34:34+00:00