Goedvoel

Die eenvoud van die liefde

Deur Lizette Murray | Foto Hanneri de Wet

Die liefde woon tussen ons. Waar dit gekoester en versorg word, dáár gedy dit.

Onlangs kry ek ’n kort video-insetsel van ’n tweejarige dogtertjie wat die eerste keer haar nuwe dagoud-babasussie sien. Dit ontroer my. Die ouer sussie – self nog pure rondegesiggie en plomp handjies – druk die baba se klein koppie styf teen haar wang. Dan begin die ontdekkingstog. Haar vingertjies streel oor haar sussie se voorkop. Sy soen die donker haartjies. Dan vou sy die piepklein vingertjies oop en kyk verbaas hoe hulle haar eie vinger vasgryp in ’n vuisie. Sy trek die wit kombersie weg en voel en bekyk die ruggie wat nog dieppienk en beplooid is. Sy streel die oortjie. Bekyk die oorlel aandagtig. Sy knyp die ronde pienk neusknoppie tussen duim en voorvinger en wikkel dit heen en weer. Dan maak sy versigtig die een ooglid oop en ontdek die ogie daaragter. Deurentyd keer die mamma soetjies en vermaan in ’n fluisterstem: “Mooi vat. Saggies-saggies.” Die baba gaap. Haar sussie plak ’n soentjie op die oop mondjie. Die ma bekyk haar kroos met ’n glimlag – haar arms beskermend en vol deernis om albei haar dogtertjies.

Dis ’n prentjie van liefde in sy suiwerste vorm.

Kinders wat liefde by hul ouers sien en die warmte daarvan ervaar, volg in die spoor van daardie liefde.

Soos ’n kind

Ek dink ons maak liefde dikwels onnodig moeilik en akademies. Ons probeer dit omskryf en ontleed en reëls daaraan koppel. Ons lees boeke: Só behou jy jou man se liefde. Tien reëls van die liefde. Ontdek die vele gesigte van die Liefde. Die dissipline van liefhê … hoe om daarmee vol te hou. Leer jou kinders om lief te hê. Liefde is ’n wilsbesluit.

Die liefde woon tussen ons. Dis spontaan en lig. Waar dit gekoester en versorg word, gedy dit. Kinders wat liefde by hul ouers sien en die warmte daarvan ervaar, volg in die spoor van daardie liefde.

Hierdie kinders leer liefde se baie gesigte ken: Bedagsaamheid. Vriendelikheid. Saamwees. Nederigheid. Sorg. Deernis. Diens.

Hulle weet dat liefde ’n klein briefie op Ma se kopkussing is; of ’n stomende beker warm sjokolademelk vir ’n kind wat laataand nog agter die boeke sit. Of ’n skoon kombuis vir ’n ma wat moeg van die werk af kom. Of om jou pa te help by die braaivleisvuur. Of om lank na slaaptyd saam by ’n kind op sy bed te sit en kuier. Of ’n onverwagse koppie tee van jou man terwyl jy ou-nag agter jou rekenaar sit en werk.

Meer en meer

Die wêreld vertel ’n ander storie. Dit meet liefde aan méér en beter. Volgens die wêreld se maatstawwe is liefde direk eweredig aan die omvang van iets. Jy meet ’n man se liefde aan die tipe motor wat hy vir sy vrou koop. Aan die gerieflike huis wat hy vir sy gesin aanskaf. Aan die hoeveelheid geskenke wat hy van oorsee af vir sy kinders saambring. Of duur vakansies waar hulle interessante plekke besoek en ongewone dinge doen, al beleef hulle min hartservarings.

Ons skep ’n vals waardestelsel. Ons begin saampraat. Ons begin saamdink: Hoe kleurryker die kinderkamer, hoe liewer het jy jou baba. Hoe uitspattiger die kinderpartytyjie en hoe duurder die matriekafskeidrok, hoe groter is die ma se liefde. Ons probeer so hard om ons liefde te bewys!

Ons stel uiterlike vertoon direk eweredig aan iets so diep en groot soos die liefde. ’n Groot verloofring, ’n uithangtroue, duur geskenke en ’n eksotiese wittebroodsbestemming alléén kan mos nie verseker dat die liefdesvuurtjie bly brand nie. Ons kyk na ons bure en ons vriende en ons gemeenskap. Ons ignoreer ons eie hartklop en binne-stem en volg die uiterlike, voelbare en meetbare voorskrifte van ’n samelewing wat sy kompas verloor het. Ons loop willoos agter die massas aan – al is dit skoon in ’n verkeerde koers. Ons verloor ons visie en die kern van dit wat éintlik liefde is.

Die ergste is dat ons onsself probeer mislei en glo dat die dryfkrag agter ons aksies suiwer liefde is. Dikwels is dit egter skuldgevoelens. Ons kom nie by die hart van ons geliefdes uit nie en wil dan daarvoor vergoed. Ek maak nie genoeg tyd om my kinders in die oë te kyk nie. Dan probeer ek myself én hulle met ekstra sakgeld of ’n fliekkaartjie paai.

Die riglyne vir die liefde is loop soos ’n goue draad deur God se Woord. Al wat ons hoef te doen, is om die woorde ons eie te maak.

Allesomvattend

Dit is nodig dat elkeen van ons gereeld sal gaan stilsit en onsself afvra: Leef ek die liefde eerlik uit? Hoe kan ek waarlik ’n dissipel van die liefde wees?

God is ’n God van liefde. Hy het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy eniggebore Seun vir ons gestuur het.

Dís liefde. So eenvoudig. En tog is dit te groot vir ons begrip. Die allesomvattendheid van hierdie liefde laat ons verbysterd.

As kind het ek Sondae met ’n gevoel van geborgenheid die woorde op die kanselkleed gelees en vas geglo en gewéét: God is Liefde.

Die refrein van hierdie Goddelike liefde weerklink deur die Bybel.

In Psalm 118 jubel die Psalmdigter: Loof die Here, want Hy is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie! Israel moet getuig: “Aan Sy liefde is daar geen einde nie.” Die huis van Aäron moet getuig: “Aan Sy liefde is daar geen einde nie.” Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan Sy liefde is daar geen einde nie.”

Die Psalm eindig met die woorde: U is my God, U wil ek loof; my God, U grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie.

Maar soms kom ons voor verlies en onverstaanbare pyn en hartseer te staan. Soms twyfel ons selfs aan God se liefde en roep ons in ons magteloosheid uit: Waar is U, Here? Hoor U my dan nie? Sien U nie dat U kind swaarkry nie? Hoe kan ons bly glo aan U liefde wat vas en seker soos die berge van Jerusalem staan? Meer nog: Hoe kan ons dit regkry om hierdie liefdesopdrag uit te leef? Om so onvoorwaardelik lief te hê?

Die riglyne vir die liefde is loop soos ’n goue draad deur God se Woord. Al wat ons hoef te doen, is om die woorde ons eie te maak.

En die grootste hiervan…

Daar word vertel van ’n bekende akteur wat een maal by ’n groep bejaardes opgetree het. Hy het uittreksels uit bekende wêreldletterkunde en geliefde gedigte voorgelees. Die gehoor het aan sy lippe gehang, en elke voorlesing is met luide applous begroet.

Toe hy aan die einde van sy program vra of daar iemand is wat ’n spesiale versoek het, het ’n man opgestaan en gevra of hy nie vir hulle as toegif 1 Korintiërs 13 kon voordra nie. Die akteur was ietwat oorbluf. Tog het hy dit met gevoel en oortuiging voorgedra, want hy moes dit gereeld by troues doen, en hy het die gedeelte uit sy kop geken.

Hy het begin. Die bekende woorde het oor die aanwesiges gespoel:

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.

Die besoeker het die gehoor in die palm van sy hand gehad. Hy het met ’n helder sterk stem geëindig: En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

’n Mens kon ’n speld hoor val… Toe bars daar ’n dawerende applous los. Die man het sy hand in die lug gehou.

“Sal die persoon wat gevra het dat ek 1 Korintiërs 13 moet voordra, asseblief na vore kom? Ek wil so graag hê dat hy vir ons dieselfde Skrifgedeelte met ons sal deel.”

Die geboë man het skuifelend nader gestap en met toe oë begin voordra. Plek-plek het sy stem gebreek. Soms was sy woorde half mompelend en onduidelik. Hier en daar het hy oor ’n frase gestruikel of verse vergeet en weggelaat. Die woorde het egter soos ’n lieflike geur deur die saal versprei. Dit het tussen die bejaardes tot rus gekom. Dit het hulle harte aangeraak en hul droë, hunkerende siele gevoed.

… Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken..

Die man met die yl grys hare het sy ligblou oë oor sy vriende laat gaan. Sy laaste woorde het klokhelder opgeklink: En die grootste hiervan is die liefde. ’n Gewyde stilte het oor die saal bly hang. Die gehoor het roerloos bly sit – met trane wat oor hulle wange loop.

Die stemkunstenaar het opgestaan.

“Dit is die verskil tussen my en hierdie man. Ek het die stuk oor die liefde met gevoel en meelewing aan julle voorgedra. Hierdie vriend van julle lééf elke dag hierdie gedeelte. Hy het dit met sy hart voorgedra.”

Dit is hoe ware liefde lyk. Opreg. Eenvoudig. Deurleef.

 

2017-12-09T15:50:06+00:00