Dagboek

Vir September

Lééf so… met hart & siel

Iets om te gee

Bederf iemand wat ’n bietjie liefde en aandag kort met ’n gerf blomme, sommer so uit die tuin gepluk.

Iets om te vier

Vier die koms van die lente met ’n groot bos pronkertjies en jasmyn uit die tuin. Laat die soet reuk van die lente jou ganse huis vul.

 

Iets om te doen

Nooi ’n vriendin wie jy lanklaas gesien het vir ’n koppie tee. Haal jou mooiste koppies uit en dek ’n teetafel vir twee.

 

Iets om oor te droom

’n Besoek aan Keukenhof in Nederland se pragtuine is onvergeetlik. Begin nou reeds droom oor die dag wanneer jy die mooiste lentetuin in die wêreld gaan besoek. www.keukenhof.nl.

Iewers om te gaan eet

Boschendal-landgoed net buite Stellenbosch spog met ’n lieflike groentetuin. Vars groente en vrugte word daagliks gepluk om in geregte by die Werf Restaurant te bedien. www.boschendal.com

Iets om te ruik

Die geur van iris word as poeieragtig beskryf as dit kom by die maak van parfuum. Chanel No 19 is een van die bekendste geure met hartnote van iris.

 

Iets om te pluk

Pluk ’n bossie laventel en bind dit stewig in ’n bondeltjie saam wat jy dan iewers in jou huis neersit waar die geur daarvan kan versprei.

 

Iets vir die kombuis

Sag op die oog. Kyk uit vir Le Creuset se jongste reeks breek- en bakware in sagte groen. www.lecreuset.co.za

Iets om te plant

Moenie dooie affodilplantjies wat potjies geplant is weggooi nie, druk eerder die bolletjies in die grond en kyk wat gebeur as die lente kom.

Dagboek

  • Die Oor die Reënboog Lentenaweek vind vanaf 1 tot 3 September op die pragtige klein dorpie, Botrivier, plaas en beloof ’n eg-plattelandse fees van kos en wyn te wees. Deelnemende wynplase gooi hierdie naweek hul deure wyd oop en word besoekers gul uitgenooi om hul kelderskatte en unieke plaaslike produkte te kom proe deur ’n inkopiereis van plaas tot plaas wat hul spense tot barstens toe sal volmaak. www.botriverwines.com
  • Op 2 September is dit weer tyd vir die gewilde Radio Tygerberg Gospelskouspel in die Grand Arena, Grandwest, Kaapstad. Kaartjies beskikbaar by iTickets.
  • Wonder jy nog altyd waar en hoe om met jou stamboomnavorsing te begin, watter bronne om te raadpleeg of wie werk dalk reeds aan ’n familielyn? Dan is jaarlikse unieke Genealogie & Familie Erfenisfees op 2 September vir jou. Die saamtrek vind plaas by die Atrium, Lynnwoodrif Gemeente, 260 Lanciastraat, Lynnwoodrif in Pretoria vanaf 08h30-13h30. Toegang is gratis. Rig navrae aan Isabel Groesbeek by isabelg@mweb.co.za.
  • Op 5 September word ’n gratis lofprysingsaand om 19h00 met Retief Burger by die Moreletapark-gemeente in Pretoria aangebied. Moenie hierdie spesiale aand misloop nie!
  • ’n Pastorale beradingskursus rondom trauma-bande vind plaas op 9 September by die Studente Hervormde Kerk in Potchefstroom. Die kursus is gemik op leraars en maatskaplike werkers en word deur Prof. Wentzel Coetzer aangebied. Navrae wentzelc@gmail.com.
  • Pretoria Oosterlig in Waterkloof Glen hou op Vrydag, 15 September ’n spesiale kunsuitstalling en kaas- en wynonthaal. Kaartjies kos R200 (R125 vir pensioenarisse) en plekke kan bespreek word by purposeful.dreamer@gmail.com.
  • ’n Women & Wealth-geleentheid vind plaas op 16 September van 09h00 tot 13h30 by die Radisson Blu by die V&A Waterfront. ’n Paneel vooraanstaande sprekers sal oor finansiële sake wat vroue raak, gesels. Bespreek jou plek by helpdesk@wealthmigrate.com
  • Die jaarlikse Franschhoek Uncorked-fees vind plaas op 16 en 17 September wanneer ’n keur van die beste wyne uit die omgewing aan die publiek bekendgestel word. www.franschhoekuncorked.co.za
  • Die gewilde Madeliefie Makietiefees vind vanjaar op 29 en 30 September op Strandfontein op die Weskus plaas en verskeie van ons land se topkunstenaars tree op. www.facebook.com/MadeliefieMakietieSA