Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

’n Mens word soms diep bewus van jou eie en ander se verganklikheid. Totdat ons weer onthou ons leef mos ’n ewigheid.

Klere verslyt, word sakkerig en verloor mettertyd hul helder kleur totdat ons dit later wegpak. Weggee. Weggooi. Ek en jy is ook maar net ’n kledingstuk: iemand wat in ons jeug mooi, sterk, soepel en flink deur die lewe huppel. Wat later stadiger begin reis en mettertyd self so bietjie verweer voel. Tot die dag wat die Vader ons kom haal, ons aardse menswees netjies weggepak word en ons die wêreld agterlaat.

Maar hoe goed is dit om te weet dat Hy op daardie oomblik ons hele wese met ’n hemelse kleed omhang. Dat Hy Sy genadekroon aan ons gee en ons nooi om saam met Hom aan tafel te sit… en die ewigheid te geniet. Wanneer ek en jy in die spieël kyk en diep bewus word van die jare se lyne oor ons sagte wange, wanneer die lewe ons diep bewus maak van ons verweerde menswees, kan daar ’n ander soort vrede in ons kom bly. Want dan kan ons uitsien na iets veel groter as onsself. Dan sien ons die raaisel van menswees van aangesig tot aangesig en weet ons: Die genade het ons nuut beklee.

Mag ons dit regkry om die elke seisoen van ons lewe met oorgawe te leef omdat ons weet: Hy is die Een wat die lente in ons laat blom, wat skadu gee in die son, wat by ons is in elke skakering van die herfs en wat ons op ’n vreemde manier in winterkou toevou. Mag ons in sulke tye weet: Ons is nooit weggepakte of weggegooide mense nie. Ons is Syne. En daarom met purper beklee.

Paleiskind
Here, ons is almal maar net
tydelike mensies
wat die lewe na die beste
van ons vermoëns probeer leef.
Totdat ons eendag
opgevou en gebêre word.
Hoe groot is die gedagte
dat ons dan nie minder word nie
Maar meer.
Dat ons dan nie sterf nie.
Maar leef.
Met ’n hemelse kleed
régtig saam met U lééf.

Wat los ons hier?

“Wildsbokkie” was haar naam. Waarskynlik omdat Tabita self broos en klein as mens, maar onvergeetlik groot in die liefde was. Toe hierdie omgee-mens te sterwe kom, was dit haar goedheid en liefde wat hulle na haar laat verlang het. Haar sorg wat hulle onthou het. Lank nadat ek en jy nie meer hier is nie, sal mense ons nog onthou. Hulle sal dalk vergeet hoe ons gelyk en wat ons gesê het, maar nooit vergeet hoe ons hulle laat voel het nie. Mag ons so leef dat mense graag hul herinneringe aan ons diep in hul harte wil bêre. Omdat hulle onthou: Sy was ’n mens wat iets van die Vader aan ons kon voorhou.

Boodskap:

Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help. Handelinge 9:36b