Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ek was verknog aan my twee ouma’s. Hulle het soos dag en nag verskil. My een ouma was klein en fyn. Sy was vroeg reeds op en aan die gang, voorskoot om die lyf en bolla netjies op sy plek. Wanneer ons wakker word, het die geur van gemaalde koffie, mieliepap en gebakte wors reeds in elke vertrek van die huis gehang. Ek kan nie onthou dat ek ooit op hierdie ouma se skoot gesit het nie. Tog was ek lief vir haar. Onvoorwaardelik. Soos ’n kleinkind lief is vir sy of haar ouma.

My ander ouma was ’n groot vrou, met ’n effe deurmekaar bolla en ’n sagte boesem. Saans het ek by haar in die bed aan die slaap geraak en soggens eerstelig het ek by haar gaan inkruip. Dan het ek myself onder haar blad ingewriemel – dieper en dieper, totdat my intense behoefte om so na as moontlik aan haar te wees, bevredig is. Ek het die sagte geur van haar poeier ingeadem en met my wysvinger oor die kontoere van haar neus en voorkop gestreel. Sonder uitsondering het sy vir my stories vertel. En die tyd het gaan stilstaan.

Ek herroep die laaste keer dat ek op haar skoot gesit het. Ek was reeds tien jaar oud, maar Ouma se skoot was mý plek. Ek kon die sagte deining van haar bors onder my voel. Ek het skuins na haar gesig opgekyk en in my gedagtes die kontoere nagetrek. Die fyn neus. Die sagte plooitjies om die mond en oë. Haar oop voorkop. Al my sintuie was opgeskerp. Ek kon die aarde rondom die plaasstoep ruik en sien hoe die yl bruin blare ligweg van die boonste fyn boomtakkies loskom en stadig afwieg grond toe. Ek was vaagweg bewus van die ritme van die grootmense se gesels. Die welbehaaglikheid van liefgehê word, het soos ’n groot warm kol in my binneste kom lê en toe geleidelik deur my gevloei.

Drie weke later is my ouma oorlede. Die geborgenheid van daardie laatherfsmiddag dra ek steeds saam met my.

Nou die dag bel ek my kinders. Die jongste kleinkind antwoord.

“Ons kom oor drie slapies vir julle kuier,” sê ek.

“Ouma, dan gaan ek op Ouma se skoot sit. Die hele dag. Ek gaan nooit afklim nie. Ek gaan so sit totdat ek aan die slaap raak.”

“Dis reg so. Ouma verstaan.”

Here Jesus

U wat die Vriend van kinders én grootmense is, U ken die hart en versugting van elkeen van U kinders – klein en groot. Soms wil ons wil net stil wees in U teenwoordigheid en na die influistering van U stem luister. Ons wil net doodgewoon by U tot rus kom na lang dae vol uitdagings. Ander kere wil ons as’t ware op U skoot sit en die innige beskutting van U aanraking voel. Ons wil deur U versorg en vertroetel word en U arms rondom ons voel. Ons wil ervaar dat U ons liefhet – nes ’n kleinkind die liefde van ’n ouma met al haar sintuie beleef. Dankie dat ons welkom is om enige tyd só by U te kan vertoef.

Amen