Gedurende die afgelope Pesach-dae in April was een van die Skrifgedeeltes wat gelees word, die ontroerende Esegiël 37 wat gaan oor die restourasie van Israel. Te midde van die onthutsing van ons eie huidige dringende behoefte aan restourasie hier, gryp dit my nog meer aan as gewoonlik.

Die profeet vertel hoe hy deur die Gees van die Here uitgebring is en neergesit is in ’n laagte vol dor bene…

Op die Sondagaand gedurende hierdie Paastyd, laat ek my deur ’n vriendin omhaal om na “’n Betowerende musical te gaan kyk. Een wat jare lank ’n treffer op Broadway was en nou vir die eerste keer in Suid-Afrika te sien is. ’n Absolute moet sien!” Geen liefhebber van musicals nie, is ek egter nie juis in ’n posisie om die uitnodiging af te wys nie. Weke tevore toe ek genooi is, het ek ook nie daaraan gedink dat dit binne die agt dae van Pesach val nie. Dus…

Die teater is oorstroom van entoesiaste, nie ’n oop sitplek nie. Binne die eerste minute weet ek watter geweldige fout ek begaan het. Nie net die oorverdowende musiek nie, maar die algemene banaliteit wat soms aan godslastering grens en die kru taalgebruik en insinuasies is verskriklik ontstellend. Langs my staan, Trudy, ’n mede-genooide, al gou op en loop uit. Ek sou sielsgraag ook wou, maar ek het ’n passasier saam in my motor.

In die pouse luister ek na die juigende lofredes oor die ongelooflike kostuums en die fantastiese vertoning. Ek kyk oor die massa heen en wonder hoeveel van hulle weet watter dag dit vandag is. Of hulle sou omgee as hulle weet. Of daar onder hulle van diegene is wat vanmôre vir my talryke boodskappe gestuur het. “Die Here het opgestaan. Die Here het waarlik opgestaan.” Of prentjies van die kruise op die heuwel of die leë graf…

Esegiël vertel hoe die Here hom vra: “Mensekind kan hierdie bene lewendig word?” En hy antwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” Toe ek so oor die “dooie bene” rondom my kyk en aan my eie dink, sou ek ook geen ander antwoord kon voortbring nie.

Maar die Here sê vir Esegiël: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: ‘Dor bene, hoor die woord van die Here!’”

Byna seker is ek dat dit is wat die Here vir Oom Angus gesê het toe hy gehoor het: “It’s time”. Die “bene” wat nou in hul duisende na die Vrystaat opruk is sekerlik nie die dorre nie. Hulle is ongetwyfeld die remnand, waarvan die Woord praat en wie se gebede uiteindelik die Almagtige se hart sal vermurwe en sy oordeel oor ons versag. Ons, die volk van onreg, bedrieëry en bloedvergieting. Uiteraard is Esegiël 37 beeld van Israel na die Holocaust, maar dit spreek net soseer tot ons. Elkeen van ons.

Die profeet beskryf hoe die Here daardie laagte van dor, lewelose bene beklee met senings, vlees en vel. Tog daar was geen gees in hulle nie… Maar dan vers 10! “En ek het geprofeteer soos die Here my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan – ’n ontsaglike groot leër.”

Yeshua kom terug, gouer as wat ons dink, en Hy sal die Ewige God se Koninkryk hier op aarde vestig. Maar hoeveel van ons besef Hy kom nie terug as die Lam nie, maar as die Regter? It’s time, inderdaad! Vir teshuvah –berou en terugdraai. Skuldbelydenis aan die voete van Hom wat Homself gegee het as ’n brandoffer.

Mag ek een van die ontsaglike leër uitmaak, o Here!