Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Hier’s ’n ding wat ek nie sien kom het nie… Die effek wat skande op ons het – en hiermee bedoel ek nie die vernederende, klad-op-die-naam, wat-het-jy-gedoen-tipe skande nie. Ek verwys na die dinge wat ons soms doen wanneer ons onsself net liederlik faal in die donker geheimenisse van ons eie hart.

So is die opwinding groot toe ons afsit na Ouma en Oupa by die see waar daar seuns-maats langs elke lae heining en feitlik voor elke strandhuis in die straat speel. Die manne is soos opgewarmde resiesperde toe ons afklim en na ’n haastige groet oordraf na die bure toe. Enkele minute later hoor ons die gelag en gil soos die seuns hulself in die fort tuismaak en mekaar met waterballonne gooi.

Ek gaan groet ook later. Ons drink tee en besin oor die toekoms van ons kinders in ons land. Daar’s ’n gil van buite, harde voetslae op die houtvloer en ’n troep ontsenude seuns voor ons. Dis Darius wat sy kop vashou en snikkend stamel. “Hy’t my… op die kop geslaan… dit was aspris… ek gaan nooit (snik) weer hier speel nie!” Die deur klap hard agter hom toe.

Ons sit in verbaasde stilte. Ek kom tot verhaal en voel die verleentheid in warm gloede teen my nek brand want die seuntjie na wie verwys word is wasbleek en vra onophoudelik om verskoning. “Dit was regtig ’n ongeluk, Tannie. Pappa, ek is so jammer dit het gebeur, maar ek het hom glad nie gesien nie!” Sy mond bewe en in sy oë is die paniek duidelik. Ons paai met sagte woorde.

’n Rukkie later kry ek Darius voor stok oor sy optrede voor mense. Oor die bohaai maak oor niks en eis dat hy teruggaan en hulle om verskoning vra vir sy tirade. Sy skouers hang en in sy oë sien ek die woorde: skande.

Darius het soos ’n man sy verskoning gevra. Vir almal jammer gesê oor sy uitbarsting wat natuurlik met deernis en sensitiwiteit aanvaar is. Maar die res van die vakansie se lekker speel was verlore. Skaam oor die insident, het hy homself van hulle onttrek en eerder alleen in sy kamer gespeel.

Ek lees die afgelope Paasfees weer die storie van Simon Petrus. Sy verontwaardiging toe Jesus hom vertel oor sy weerbarstige hart en die kraai van die haan sy juiste woorde van verloëning demp. O, die skande! Die vernedering. Die wegkruip van jou eie menswees. Maar hoe Petrus ook al om verskoning gevra het vir sy optrede – die haan se kraai sou hom steeds elke oggend aan sy eie feilbaarheid herinner. Skande oor ons foute, ons feilbaarheid, kan ons weghou van die genot van God se teenwoordigheid. Petrus moes van dit kon loskom om met oorgawe en sonder die las van skande weer vrylik met God te verkeer.

Leer jou kind:

  • Dis nie nederigheid wat ons van God weghou en min van Hom vra nie. Dis skande.
  • Dis nie integriteit wat ons weerhou om van God te vra nie – dis trots, onafhanklikheid en skande.
  • Dis nie edel om sonder iets te wees wat God belowe het Hy sal voorsien nie – dis ’n weeskind-mentaliteit wat sy wortels in skande het.
  • Dis nie geregtigheid wat ons vêr van God hou wanneer ons misluk het nie – dis skande.
  • Maar, die persoon wat in Christus is, is erfgenaam saam met Hom. Skande het geen vashouplek nie!

Lees meer:  “Messy, Beautiful, Friendship” deur Christine Hoover. Uitgegee deur Baker.