“En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.”

Johannes 1:16

As mens die evangelies lees word jy getref deur Jesus se omgekeerde, paradoksale boodskap: leiers wat knegte word, tollenaars wat beter as Fariseërs bid, prostitute wat voor Skrifgeleerdes die Koninkryk instap. Jesus self kuier by sondaars, raak onrein mense aan en laat owerspeliges vry. Hy keer letterlik en figuurlik hulle tafels om! Regdeur sy bediening sien jy Sy tipiese ‘Jesus-manier’ van praat en doen. Later sien jy dit ook om jou.

’n Middestad-kerk se gemeentelede het weggetrek en moes daarom sluit, maar toe begin hulle eenvoudig die mense bedien wat wél in hul omgewing woon – en skielik preek hulle nou in Engels vir ’n vol kerk! Dís ’n Jesus-manier van doen. As Madiba uitstap na 27 jaar in die tronk en dan ’n groot versoener word, is dit ’n Jesus-manier van optree. Die polisie van Aarhus, die tweede grootste stad in Denemarke, werk nou anders met die jongmense wat na ISIS wil wegloop. Hulle is meestal ontwrigte jeug wat nie in die Deense-wêreld kon inpas nie. Werkloos en uitgestoot soek hulle nou lewensin elders. Die polisie rehabiliteer hulle deur inligting, opleiding en ’n werk – iets om voor te leef!

Dit wérk vir hulle – ’n Jesus-manier van doen! Moet ons wat Jesus-volgelinge is egter nie voortstap met die Jesus-manier nie? Moet ons nie radikaal vergeet hoe die bestaande ordes opgestel is, die tafels omtrek op die wêreld se manier van dink nie? Insluiting is die Jesus-manier, vergifnis, ophelp en weer-probeer is die Jesus-manier – liefde is die Jesus-manier.

Gebed

Leer my U manier, Here – die Koninkryk-manier!

“In die tuin van God se genade kan selfs ’n gebroke boom vrugte dra.” Rick Warren.

Besoek ww.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.